Harry Potter-verhale gryp kinders se verbeelding aan

Die oorweldigende gewildheid van die Harry Potter-reeks het die hele wêreld aan die praat. Ook in die Afrikaanse pers het verskeie stories en berigte oor dié reeks verskyn, veral in die lig daarvan dat die eerste twee boeke in die reeks deur Janie Oosthuysen van Ouma Hester-faam vertaal is.

Harry Potter and the Prisoner of Azkaban (die derde Harry Potter-boek wat geskryf is deur die Britse outeur J.K. Rowlings) verskil nie wesenlik van die ander drie boeke in die reeks nie. Dis nie moeilik om te voorspel dat die boek net so gewild soos sy voorgangers gaan wees nie.

Die volgehoue gewildheid van Harry Potter se avonture lê sekerlik gedeeltelik daarin dat ons hier met ‘n volbloed reeks te make het.

In The Prisoner of Azkaban is die hoofkarakter steeds Harry en hy bots steeds met die Dursleys. Harry en sy twee boesemvriende, Ron en Hermione, is steeds leerlinge aan die Hogwarts School of Witchcraft and Wizardy; daar is steeds goeie en slegte onderwysers; hulle speel steeds Quidditch en “You-know-who” is steeds die dreigende onheil op die agtergrond.

Soos in enige goeie reeksboek is daar egter in The Prisoner of Azkaban ‘n nuwe sentrale intrige. Harry kom hierdie keer teenoor Sirius Black (‘n ander gewaande “dissipel” van Voldemort) te staan. Daar is egter ook verskeie belangrike en minder belangrike newe-intriges wat nuwe karakters aan die leser voorstel. Harry verslaan weer in dié boek die Bose, maar natuurlik nie finaal nie daar is gelukkig ruimte vir nog ‘n boek!

Op my vraag waarom hulle so baie van die Harry Potter-reeks hou, het kinders deur die bank gesê dat daar “op elke bladsy iets gebeur”.

Sommige, maar nie almal nie, het verwys na die humor (veral met betrekking tot die uitbeelding van die Dursleys) en dat toordery “cool” is.

Op grond van hierdie response en algemene tendense in hedendaagse jeugliteratuur, lyk dit my asof daar enkele elemente uitgesonder kan word wat die basis vorm van Harry Potter se gewildheid.

In die eerste plek is dit duidelik dat kinders baie waarde heg aan ‘n verhaal waarin die fokus op gebeure eerder as karaktertekening val. Hulle lees om te sien wat gaan gebeur. Goeie karaktertekening is egter ‘n bonus.

Soos in die boeke van die gewilde Roald Dahl, is die verteller uit en uit aan die kant van die kinderleser. Oneerlike, pretensieuse en onsimpatieke grootmense wat deel van die Britse establishment uitmaak, word genadeloos in die Harry Potter-reeks ontbloot en bespotlik voorgestel. Dahl se boeke is om dié rede al deur sommige literators as ongewens beskou.

Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat dié werkswyse byval by kinders vind en dat hulle dit geniet. (Vergelyk in dié verband ook Janie Oosthuysen se boeke, veralJuffrou Luisenbosch en die breinwassers.)

Dit is egter belangrik om in dieselfde asem te noem dat daar in Harry se wêreld wel volwassenes is waarop die kinders kan staatmaak en waarmee hulle kan identifiseer en simpatiseer. Die intrige in Harry Potter and the Prisoner of Azkaban moedig juis die jong leser aan om mense, en dit sluit grootmense in, nie op hul baadjie te takseer nie.

Wanneer ‘n outeur daarin slaag om die skynheiligheid van die grootmenswêreld op so ‘n wyse bloot te lê dat dit die kinderleser laat lag, lyk dit vir my na ‘n suksesresep. In die Harry Potter-reeks word ‘n fantasiewêreld geskep ‘n totale nuut geskepte verbeeldingswêreld wat bou op ‘n wêreld wat aan alle kinders bekend is.

Hogwarths is ‘n skool net soos enige ander (behalwe dat ons terug is by die kosskool van ouer, bekende reeksboeke!), maar ook heeltemal anders as alle ander skole.

Die oorgang tussen fantasie en werklikheid vind in die Harry Potter-boeke gemaklik en heeltemal geloofwaardig plaas. Vergelyk byvoorbeeld die episode met die bus in The Prisoner of Azkaban.

Die reeks versterk ook die gedagte aan ‘n herlewing van die fantasieverhaal, veral in jeugboeke. Daar is natuurlik fantasie in Dahl se tekste en hier ter plaatse in Oosthuysen s’n, maar die gewilde gru-verhale soos die Goosebumps-reeks is in wese ook fantasie.

As Harry Potter egter iets belangriks gedoen het, was dit om die doemprofete wat twyfel aan die bestaansreg van die jeugboek, ‘n bietjie in die bek te ruk. Daar is kinders wat wil lees, mits die boeke wat aan hulle beskikbaar gestel word, hul verbeelding aangryp.

Hoewel dit so is dat Harry Potter aanvanklik hoofsaaklik deur word of mouth bekend geword het, is dit sekerlik ook waar dat die ophef wat daarvan in die pers gemaak word, bydra tot die volgehoue verkope van die boek.

Daarom wil ‘n mens hier ‘n lansie breek vir Janie Oosthuysen se boeke wat in vele opsigte groot ooreenkomste met die Harry Potter-reeks toon.

Oosthuysen het pas die C.P. Hoogenhout-prys vir jeugliteratuur gewen, en beter bemarking van haar werk sal help dat die Afrikaanse kind nie die vreugde van hierdie uitstekende tekste ontsê word nie.

Die artikel het oorspronklik verskyn in Boekebeeld (27 Maart 2000)

Maritha Snyman
Prof. Maritha Snyman is verbonde aan die departement inligtingkunde, UP.
0
Would love your thoughts, please comment.x