Lolla en Tobias

Marianna Brandt
Lolla sit op die rak van 'n groot speelgoedwinkel. Sy het 'n pragtige blou lint in haar geel krulhare wat by haar mooi blou rokkie pas.

Deel 3

Annie sit vir Lolla en Tobias op haar bed in haar nuwe kamer in die nuwe huis.

“Pappa gaan die kamer mooi pienk uitverf. Dit sal baie mooi wees. Wat sê julle twee?” vra Annie vir Lolla en Tobias. Sy kam Lolla se hare. “Ek gaan vir jou twee groot pienk strikke in jou mooi geel hare sit. Jy sal so mooi lyk, Lolla.”

Annie vryf oor Tobias se kop.

“En ek gaan vir jou ‘n mooi blou strik om jou nek sit,” belowe sy.

‘n Paar dae later sit Annie die pienk strikke in Lolla se geel hare en ‘n blou strik om Tobias se nek.

“Kyk net hoe mooi lyk julle nou,” sê sy, “Pappa het gesê een van die dae kom die mense wat my kamer gaan uitverf.”

Die volgende oggend hoor Lolla en Tobias vir Annie se pa met ‘n vrou praat.

“Ek wonder wie is dit?” vra Lolla vir Tobias. Hulle hoor voetstappe na Annie se kamer toe kom en dan sien hulle die vrou saam met Annie se pa.

“Dis my dogtertjie Annie se kamer. Ek wil dit nog uitverf. Soos jy kan sien is die huis taamlik groot,” sê Annie se pa. “Hou jy daarvan, Susan?”

“O ja, dis ‘n lekker huis. Ek dink my katte en hond sal ook daarvan hou. Jy weet mos ek sal nie sonder hulle hier intrek nie, Johan.”

“Geen probleem nie, Susan. Annie hou ook van diere. Ek dink sy sal baie bly wees. Sy wou nog altyd ‘n kat hê.”

Tobias loer na Lolla.

“‘n Kat…en ‘n hond?” fluister hy, “Ek het nog nooit van katte en honde gehou nie.”

“Hm..ek ook nie. Maar miskien is ons verniet bekommerd,” sê Lolla.

Daardie aand kom Annie in die kamer in gehardloop. Sy gaan lê op haar bed met Lolla en Tobias styf in haar arms. Trane rol oor haar wange terwyl sy hartseer snik.

“Weet julle wat?” snik sy, “My pa gaan met tannie Susan trou. Ek hou niks van haar nie. Sy het ‘n klein seuntjie. Hy is drie jaar oud. Sy wil ook haar hond en twee katte bring.”

Annie sit regop en vee die trane van haar wange af. “Ek sal my kamer sluit. Niemand gaan hier inkom nie,” sê sy.

Sy storm weer by die kamer uit.

“Annie se pa gaan met daardie vrou trou,” sê Tobias, “Sy is glad nie gelukkig daaroor nie. Ek wonder hoekom?”

“Ons sal seker later uitvind,” sê Lolla.

Een middag hoor hulle ‘n pakwa voor die huis stil hou. Goed word binne toe gedra.

“Waar sit ons die hondehok?” hoor Lolla en Tobias een van die karweiers vra.

“Sit dit by die agterdeur,” sê die ander een.

Tobias se oë rek. “Ek wonder hoe lyk daai hond?”

“Ek wil nie weet nie,” sê Lolla, “Ek wil hom nie eens sien nie.”

Annie se pa en tannie Susan en haar seuntjie kom by die huis aan. Lolla en Tobias hoor hoe hulle praat met Annie praat.

“Hier is Herkie jou nuwe boetie, Annie,” sê Annie se pa. “Ek kan sommer sien julle gaan groot maats word.”

“Herkie, dis jou nuwe sussie Annie,” sê tannie Susan.

Dan hoor Lolla en Tobias kindervoetstappe in die gang afkom. ‘n Seuntjie met rooi hare kom staan in die deur van Annie se kamer.

“Hier gaan jy nie in nie, Herkie,” sê Annie, gryp hom aan sy arm en neem hom na sy ma toe. Hy skop en skree.

“Speel so ‘n bietjie met Herkie, Annie,” sê tannie Susan.

Herkie het sy eie kamer met sy eie speelgoed. Annie neem hom soontoe maar hy wil nie met sy eie speelgoed speel nie. Annie is moedeloos.

“Miskien moet jy gaan slaap,” sê sy.

Lolla en Tobias hoor hoe Annie met Herkie praat en kry vir Annie jammer. Elke keer dat Annie na haar kamer toe kom maak sy die deur toe en wanneer sy weer uitgaan ook.

“Ek wil nie hê daardie nuwe boetie van my moet julle sien nie,” sê sy vir Lolla en Tobias.

Toe Annie die volgende oggend skool toe gaan, gaan die deur van haar slaapkamer oop en tannie Susan stap binne. Agter haar aan kom Herkie.

Toe Herkie vir Lolla en Tobias sien, hardloop hy reguit na Annie se bed toe.

“Nee! Nee! Los my uit!” skree Tobias.

“Loop jou nare seuntjie!” skree Lolla.

Tannie Susan tel vir Herkie op.

“Kom, dis Annie se goed. Jy beter nie daaraan vat nie.”

“Dankie tog,” sug Tobias.

Tannie Susan stap by die kamer uit met Herkie op haar arm maar sy maak nie die kamer se deur toe nie.

Toe Lolla en Tobias weer kyk, kom die hond by die kamer ingetrippel.

“H..h…hond,” skree Lolla.

“Nee!” skree Tobias toe die hond op die bed spring.

Hy gryp eerste vir Lolla. Hy kou aan die pienk lint in haar hare en lek oor haar gesig. Hy kou aan haar hare dat dit later soos toutjies hang.

“Nee! Los my asseblief!” skree sy maar dis net Tobias wat haar hoor.

Die hond los haar na ‘n rukkie en toe hap hy na Tobias se arm. Hy sien die blou lint om sy nek en trek dit los. Hy krap-krap met sy poot aan Tobias se oog.

“Rommel!” roep tannie Susan van die kombuis af, “Rommel!”

Die hond se ore spits. Hy tel Tobias agter sy nek op, spring van die bed af en hardloop met hom by die kamer uit.

“Aag nee, arme Tobias,” huil Lolla.

Tobias was net ‘n rukkie weg toe kom tannie Susan by die kamer in.

“Ai tog, kyk hoe lyk die pop nou,” sê sy, “Ek sal ‘n plan moet maak met die pop en die teddie. Annie sal nooit vir Rommel vergewe nie.” Sy tel vir Lolla op, kyk na haar hare en sê: “Jy gaan vullishoop toe, poppie en jy ook teddie. Ek sal ‘n nuwe pop en ‘n nuwe teddie moet gaan koop.”

Tannie Susan gooi vir Lolla op die bed neer en stap kombuis toe. ‘n Paar minute later is sy terug met ‘n groot plastieksak waarin sy vir Tobias gesit het. Sy prop vir Lolla ook daarin en sê: “Ek het nie baie tyd nie. Ek sal die speelgoed net gou by die vullishoop gaan afgooi en dan vinnig na ‘n speelgoedwinkel ry.”

Op die agterste sitplek van tannie Susan se kar sit Lolla en Tobias doodstil in die plastieksak.

“Vullishoop toe,” snik Lolla, “Ek het nooit gedink ons sal op ‘n vullishoop beland nie, Tobias. Wat sal Annie sê as sy by die huis kom en sien ons is weg?”

“Ek gaan lê liewer op die vullishoop as wat ek elke dag deur daardie hond gekou word, Lolla. Weet jy hoe seer is my arm. Dis stukkend gebyt. Hy wou my oë ook uitbyt. Jy kan gelukkig wees dat hy jou nie so gebyt het nie.”

Tannie Susan hou by die vullishope buite die dorp stil, klim uit en haal die plastieksak uit. Sy stap ‘n paar treë en skielik vlieg die sak met hulle deur die lug en val met ‘n harde slag op een van die baie hope.

“Oe eina,” kerm Tobias.

“My kop..ek het my kop gestamp,” sê Lolla.

Hulle hoor hoe die deur van tannie Susan se motor toeklap en hoe sy wegry.

“Ons beter maar hier in die sak wegkruip tot ons beter voel. Ons weet nie watse nare diere hier rondloop nie,” sê Tobias.

“Ja, jy’s reg,” sê Lolla en vryf haar kop.

Daar waai ‘n yskoue wind daardie aand. Lolla en Tobias sit styf teen mekaar in die plastieksak.

“Dink jy iemand sal weer vir ons wil hê?” vra Lolla hartseer, “Kyk hoe lyk ons?”

“Miskien…onthou jy hoe ons gelyk het toe Annie ons gekry het?”

“Ja, ja, ek onthou. Maar wie sê iemand soos Annie gaan ons hier kry?”

Hulle skrik die volgende oggend wakker van groot lorries wat inkom, vullis aflaai en dan weer ry. So kom hulle, die een na die ander.

Lolla en Tobias loer by die plastieksak uit.

“Dis net die vulliskarweiers,” sê Tobias.

“Ja, ek sien niemand anders hier nie, Tobias. Net ek en jy en al hierdie vullis.”

Vir twee dae lê hulle daar in die plastieksak. Niemand sien hulle nie. Toe stap een van die vulliskarweiers by hulle verby, buk af en tel die plastieksak op. Hy loer binne.

“Gmf…’n teddie en ‘n pop,” sê hy, “Miskien sal tannie Malie iets daarmee kan doen.”

Die man sit die plastieksak by sy voete voor in die lorrie.

“Ek wonder waarheen gaan ons nou?” vra Lolla benoud.

“Ek weet nie. Ek gee ook nie om nie. Daar moet net nie ‘n hond wees nie, Lolla,” sê Tobias.

‘n Rukkie later hou die lorrie stil. Die man spring uit en vat die plastieksak. Later klop hy aan ‘n deur. Dit gaan oop. Dan hoor Lolla en Tobias.

“Fanjan, wat maak jy hier?”

“Tannie Malie, ek het die by die vullishope opgetel. Miskien kan tannie dit gebruik,” hoor hulle die man sê.

“Gee laat ek kyk,” sê tannie Malie.

Twee groot oë kyk af na Lolla en Tobias in die plastieksak.

“O dankie, ek sal dit goed kan gebruik, Fanjan.”

Lolla kyk benoud na Tobias.

“Hoe wil sy ons gebruik? Dit klink vreeslik…wat wil sy met ons maak?”

Tobias sê niks nie want hy weet ook nie.

Marianna Brandt
Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
2000
0
Would love your thoughts, please comment.x