In die speelgoedkas

Marianna Brandt
"Daar gaan die lig af!" sê Ruimtemannetjie, "Kom Geraamte, kry jou bene bymekaar. Jy het mos 'n groot mond. Kom wys vir ons hoe jy daardie groot dinosaurusse en drake gaan veg."

Deel 1

“Daar gaan die lig af!” sê Ruimtemannetjie, “Kom Geraamte, kry jou bene bymekaar. Jy het mos ‘n groot mond. Kom wys vir ons hoe jy daardie groot dinosaurusse en drake gaan veg.”

Geraamte staan uit sy kis uit op.

“Ja..ja..,” sê hy en gaap, “Dis nog nie donker genoeg nie.”

“Jy’s ‘n bangbroek!” lag ‘n Smurfie, “Daardie Dinosaurusse gaan jou optel en skud dat jou lyfie ritteltit.”

“Kom nou julle,” sê Hasie Slapoor, “Geraamte het nog nooit gesê hy kan iets doen as hy nie kan nie.”

“Vandat Bennie vir jou gekry het, speel hy glad nie meer met ons nie,” kla ‘n soldaatjie.

“Ek is nou moeg van julle se gekerm,” sê Geraamte, spring in ‘n rooi motortjie en ry onder die bed uit.

Bennie se kamer het ‘n groot vloer. Geraamte ry met die motortjie soos op ‘n resiesbaan.

“Gee pad!” skree hy vir ‘n klomp soldate wat hom probeer voorkeer, “Ek ry julle dood dan lyk julle net soos ek!”

Die soldate spring uit die pad van die rooi motortjie en hardloop terug onder die bed in.

“Ek wil nie soos hy lyk nie,” sê een van die soldaatjies, “Ek sal elke dag vir myself skrik.”

Die ander soldaatjies bars uit en lag.

In die boks aan die anderkant van Bennie se kamer raak die ongediertes wakker.

“Vanaand vreet ek daardie Smurfies op,” sê die draak met die twee koppe.”

“Vanaand swaai ek my stert net eenkeer en daardie ruimtemannetjie vlieg terug na sy planeet toe,” sê ‘n dinosaurus met ‘n vreeslike lang stert.

“Vanaand trap ek al daardie karretjies en treintjies en bote van Bennie plat,” sis ‘n ander dinosaurus met ‘n lang nek.

“Ja, van more af speel Bennie net met ons,” sê ‘n draak en blaas ‘n bek vol vuur uit.

Geraamte ry na ‘n rukkie met die rooi motortjie onder die bed in en hou voor die boks met speelgoed stil. ‘n Smurfie klouter oor die rand van die boks.

“Jy het nog nie die drake en dinosaurusse gesien nie, Geraamte. Jy sal so groot skrik jy sal nooit weer uit jou kis uit opstaan nie,” sê hy en lag.

Buite raak dit nou baie donker. Die gordyn voor Bennie se kamervenster is oopgetrek en die groot boom wat voor die venster staan se kaal takke laat hom soos ‘n geraamte in die maanskyn lyk.

Skielik hoor die speelgoed in die boks onder Bennie se bed ‘n stampgeluid.

“Dis hulle,” fluister Hasie Slapoor.

“Laat ek sien,” sê die ruimtemannetjie en stamp vir Hasie Slapoor uit die pad uit om oor die rand van die speelgoedboks te kan sien.

Die grootmond Smurfies is doodstil. Hulle sit en luister.

Skielik is daar weer ‘n stamp en blaas geluid.

“Hulle het gesê hulle gaan al Bennie se karretjies en treintjies stukkend trap,” sê die soldate, “Ons moet hulle keer!” Die soldate spring uit die speelgoedboks en gaan staan voor die boks om die ongediertes te keer.

Hasie Slapoor klim ook uit en spring in die laaikas.

“Waarheen kan ons hardloop?” vra ‘n Smurfie.

“Ons bly net hier in die boks. Die soldate sal die ongediertes skiet.” sê ‘n ander een.

“Jy beter hardloop, Geraamte,” sê ruimtemannetjie, “Daardie drake trap jou in klein stukkies.”

Skielik gebeur ‘n vreeslike ding. Buite word dit donkerder en dan slaan die weerlig. Dit verlig die kamer. Die speelgoed skrik toe hulle al die drake en dinosaurusse op die mat in die middel van kamer sien staan. Die draak met die twee koppe spoeg vuur, die dinosaurus met die lang nek swaai sy kop heen en weer. Die ander se bekke is oop en hulle lag en wys hulle groot tande.

Die soldate staan stokstyf van skrik.

“Skiet!” skree die Smurfies van die boks af. Net hulle keppe en oë steek oor die rand van die boks uit terwyl hulle probeer sien wat aangaan.

“Waar is Geraamte?” vra ruimtemannetjie.

Geraamte is net weg. Hy is ook nie in die rooi motortjie nie.

Die drake en dinosaurusse kom nou al nader aan die speelgoedboks.

“Vanaand trap ons julle flenters!” sis die twee-kop draak en blaas vuur. Sy tonge lek oor sy lippe.

“Hardloop!” skree die Smurfies en klouter oor die rand van die boks. Hulle spat nou in alle rigtings oor die vloer en gaan kruip agter die kas weg. Party spring in Bennie se boeksak in. Hulle loer want hulle wil niks mis nie.

“Waar is daardie grootmond Geraamte dan?” vra een van hulle.

Skielik donderweer dit weer en ‘n weerligstraal verlig die kamer. En toe sien hulle vir Geraamte met ‘n lasergeweer op die rug van die draak met die twee koppe sit. Ruimtemannetjie, die smurfies en al die ander speelgoeed sluk amper hulle asems weg.

“Kyk daar!” skree ‘n Smurfie.

Geraamte skiet op die dinosaurusse en drake.

Toe die ongediertes vir Geraamte sien, skrik hulle groot. Hulle swaai net daar om en hardloop sterte in die lug terug na hulle boks toe.

“Waar kom daardie geraamte vandaan?” vra een van die drake en sy oë blits so kwaad is hy.

“Weet nie, ek het hom nog nooit gesien nie. Ons sal hom nooit kan doodmaak nie. Hy is klaar dood!” sê een van die dinosaurusse.

“Hy is ‘n spook! Ek het hom nie op my rug gevoel nie,” sê die draak met die twee koppe.

“Hy is gevaarlik,” sê ‘n ander een, “Hy het twee van ons geskiet.”

Die soldate staan verstom. Hulle kan nie glo dat Geraamte dit reggekry het om die ongediertes te verdryf nie. Die Smurfies spring uit Bennie se boeksak uit en agter die kas uit en hardloop terug na die boks toe.

“Het julle gesien?” vra die een.

“Ja,” sê Ruimtemannetjie, “Ou Geraamte is nie bang nie.”

“Ja, hy is vir niks bang nie,” sê ‘n ander Smurfie.

Toe Geraamte by die boks aankom, drom almal om hom. Die soldate staan op aandag en salueer hom.

“Jy verdien ‘n medalje, Geraamte. Van nou af is jy hoof van ons soldate,” sê een van die soldate, “Jy is die beste soldaat.”

Almal in die speelgoedboks stem saam.

Een van die soldate hang ‘n medalje om Geraamte se nek.

“Jy kan nou maar die rooi motortjie vir jou vat, Geraamte,” sê hy, “Jy het ons lewens gered.”

“Dankie…e..dankie,” sê Geraamte.

“Jy is nou een van ons, Geraamte,” sê Hasie Slapoor, “As jy nie hier was nie, het daardie ongediertes ons almal flenters getrap.”

Marianna Brandt
Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
2000
0
Would love your thoughts, please comment.x