Kuier by PG du Plessis

"Koop goeie gom..." is PG du Plessis se raad aan jong skrywers. Leana van der Walt het met dié bekende skrywer gaan gesels.

Wanneer het u begin om te skryf?

Toe ek omtrent in standerd 7, 8 was.

Watter tipe stories het u toe geskryf?

Meestal kortverhale vir tydskrifte.

Skryf u nog kortverhale?

Ja, maar nie meer vir tydskrifte nie meer vir die koerant.

Wie is u gunsteling jeug/kinderskrywer?

Ek ken nie eintlik die jeugskrywers nie, (my jeug lê nou so sestig jaar in die verlede) maar ek weet daar’s ‘n klomp wat baie goed is. Ek wil ook nie ‘n gunsteling kies nie, maar ek sou sê dat Roald Dahl die beste is wat ek ooit gelees het. Ek het groot geword met ‘n ander soort jeugverhaal. Dit was ander tye – dit was Jakkels en Wolf ens.. Ons het natuurlik regdeur my kinder dae ook die broeders Grimm en die Fabels van Esopus gelees.

Watter boek van bv. Roald Dahl het oom die meeste geniet?

Ag, almal. Daardie van die Gremlins en die ander. Ek het ander dag so stuk van daardie nuwe Harry Potter boek gelees. Ek het dit baie goed gevind.

Wat maak ‘n goeie jeugboek?

Ek weet nie, maar ek kan raai. Ek dink dit moet so wees dat dit by die belangstellingsveld van die kind aanpas. Dit lyk ook vir my of fantasie al hoe meer ‘n rol speel – nie net wat hy weet nie, maar wat hy hom kan verbeel. Maar wat ‘n ‘n goeie verhaal maak weet ek nie – niemand weet dit nie, anders sou ons almal dit gedoen het. Maar daar kan riglyne wees vir enige verhaal byvoorbeeld: ‘n storie moet waar klink al is dit nie, dit moet spanning hê, dit moet karakters hê wat jou interesseer ens.

Moet ‘n storie noodwendig ‘n les leer of kan dit maar net fantasie wees?

Nee nie noodwendig nie. ‘n Mens moet nie die storie oordeel aan die les nie – dit moet ‘n bysaak wees. Sodra jy begin om eerder ‘n les te leer as om ‘n storie te vertel kan jy maar net sowel net sê: les een is dit… les twee is dit… ens..

Het u vir u kinders toe hulle nog klein was stories vertel?

Ja, ek dink ons word maar almal met stories groot.

Hoe lank skryf u aan ‘n boek?

Dit hang af van die tipe boek. Party neem vyf maande ander neem jare.

Kan ‘n mens skryf as ‘n stokperdjie?

Ja, baie groot skrywers skryf as ‘n stokperdjie.

Lees die jeug nog in ons wêreld van televisie, internet en films?

Ek weet nie, maar ek dink so. Jy wil ook darem nie al die verbeelding uit ‘n storie neem nie.

Is daar ‘n mark vir Afrikaans?

Niemand weet nie. Dit hang af of die Afrikaners bewus bly van hulle taal en kultuur en of hulle hulle gaan laat opslurp deur die wêreldtaal wat op ons is. Ek weet wel, die rekenaartaal is Engels, die die storietaal vir meeste mense op TV is Engels ens., maar om te probeer voorspel of Afrikaans gaan oor leef is malmens werk.

Het u enige wenke vir ‘n jong aspirant skrywer, soos myself?

Jy moet net twee goed doen: 1. Leer om “Hoofstuk een” te spel 2. Koop vir jou goeie gom – smeer daarvan aan jou agterstewe en sit en skryf, skryf, skryf.

Onderhoud met Leana van der Walt, 14 jaar, Hoërskool Sasolburg.
Wie is PG du Plessis? PG du Plessis is bekend vir ‘n goot verskeidenheid skryfwerk. Sy eerste drama (Die nag van legio) het in 1969 verskyn. Van die drama Siener in die suburbs is later ‘n rolprent gemaak. As koerantredakteur het hy weekliks ‘n rubriek gehad. Van dié stories het die TV-reeks Koóperasiestories geword. Hy skryf ook romans en het vir jare saam met Jan Spies deelgeneem aan die geselsprogram Stoepstories. PG du Plessis boer deesdae in die Wes-Transvaal
6 Februarie 2000
0
Would love your thoughts, please comment.x