Deel 2
“Gollie, jy moet vir ons luister,” sê Nellie Naald, “Hierdie huis is ‘n gevaarlike plek.”
“Ja, hier’s ‘n hond. Hy’t gevaarlike tande wat ‘n lapkind soos jy sommer gou uitmekaar sal skeur,” waarsku Sarel Skêr.
“O nee!,” roep Gollie benoud uit.
“Moenie nou bang wees nie, Gollie. Sien jy daardie rakkie bokant die bed?” vra Malie Maatband.
Die lappop kyk na ‘n rakkie bokant die koppenent van die bed. Op die rakkie is ‘n meisietjie van fyn porselein.
“Ja, ja, ek sien dit,” sê Gollie.
“Gaan klim daarop. Daar kan daardie gulsige brak van Mevrou Soesman jou nie in die hande kry nie,” belowe Malie Maatband.
“Dis ‘n goeie plan. Gollie kan van daar af sien as die vuilgoed by die deur inkom,” stem Sarel Skêr saam, “En hy is dan ook nie alleen nie.”
“Ja, dis waar,” sê Nellie Naald.
“Nou toe, waarvoor wag jy, Gollie?” sê Tollie Garetol en tol sy lyf in die rondte.
“Goed dan,” sê Gollie en staan teen die bed op. Toe sit hy die een voet voor die ander een en weer en weer.
“Kyk!” roep Nellie Naald opgewonde uit, “Hy kan loop!”
“Is hy nie oulik nie?” roep Malie Maatband uit.
“Klim op die bed, Gollie,” sê Tollie Garetol en tol en tol in die rondte, “As jy so mooi kan loop kan jy op die bed ook klim!”
Gollie klouter sommer maklik op die bed. Maar net toe hy bo-op die bed is, gaan die kamerdeur oop.
“Tik-tak-tik,” hoor Nellie, Malie, Sarel, Tollie, Pottie en hulle kyk met groot oë na mekaar.
“Dis hy!,” fluister Nellie, “Dis daardie nare hond wat sy stert so heen en weer teen die deur klap! Harloop!!!!”
Soos blits hardloop hulle almal onder die bed in. Hulle hoor ou Bruno se asem en sien sy groot pote onder die rand van die rooi deken van die bed uitsteek en hulle harte klop kadoef-kadoef vir Gollie se part.
“Arme Gollie,” sê Nellie Naald.
Skielik hoor hulle hoe Gollie roep en skree: “Help! Help!”
Nellie, Sarel, Tollie, Pottie en Malie kyk na mekaar met groot oë.
“Daardie nare hond het vir Gollie,” sê Nellie en ‘n traan val uit haar oog, “Ons arme lapkind.”
“Dit help niks om nou te huil nie, Nellie. Ons moet iets doen!” sê Sarel Skêr.
“Wat?” vra Malie Maatband.
“Ja wat?” vra Pottie Potlood, “Wie kan nou iets doen teen so ‘n groot gevaarlike brak, hm?”
“Kom, ons kan nie vra wat nie. Ons moet dink. Gollie is ons kind. Ons moet hom help!” sê Sarel Skêr.
“Ja, ek stem saam,” snik Nellie, “Ek kan daardie hond lekker seer steek.”
“En jy Malie?” vra Sarel, “Wat kan jy doen?”
“Ek kan…e…ek kan, wag laat ek ‘n bietjie dink. Ja, ek kan vir Gollie aan my vasmaak en hom van daardie hond af wegkry.”
“En jy, Sarel?” vra Nellie, “Toe, wat gaan jy doen hm?”
“Ek…e…wel, ek wil daadie brak bykom. Weet nog nie hoe nie, maar ek sal hom seermaak.”
“Ek sal voor sy neus verby rol om sy aandag van Gollie af te trek,” sê Tollie Garetol, “Hy hou mos daarvan om agter my aan te hardloop en my met daardie groot poot van hom te klap.”
Dan spring die klomp knopiespelde soos een man uit die blikkie en sê: “Ons sal hom so seer steek dat hy nooit weer ‘n lapkind sal byt nie.”
“Help! Help!” hoor hulle vir Gollie roep.
Nellie kyk vir Sarel. “Ons kan nie langer wag nie.”
“Eina, o eina!” huil Gollie.
“Kom julle!” sê die leier van die knopiespelde en soos blits spring hulle almal uit die blikkie en hardloop na Bruno se pote toe. “Hardloop vinnig en spring!” roep die leier. Hulle hardloop vinnig en spring op een slag in Bruno se twee voorpote in.
Bruno los dadelik Gollie se arm en tjank, tjank gaan sit hy op sy sitvlak en lek sy pote wat sommer baie seer is.
“Toe, nou is ons kans om vir Gollie van die bed af te kry,” sê Malie Maatband en klim op die bed. Sarel Skêr en Nellie Naald volg haar.
Hulle skrik toe hulle vir Gollie sien. Sy een arm is flenters gebyt. Die wit stopsel steek uit. En toe sien hulle sy gesig en hulle snak na hulle asems. Sy een oog is weg.
Toe Gollie vir hulle sien begin hy vreeslik te huil.
“Toemaar, ons gaan jou nou van hierdie bed af kry,” troos Malie en gooi haar lang lyf om Gollie se laplyf. “Kruip nou tot by die voetenent van die bed en klim versigtig af, hoor jy?” sê Malie.
“Ja,…my arm is so seer,” snik Gollie.
“Toemaar, ons sal jou arm weer gou regmaak,” belowe Nellie, “Kom, maak nou soos Malie sê.”
Bruno se oë traan eintlik so seer is sy pote. Hy bly lek maar die seer wil nie weggaan nie.
Gollie klim stadig van die bed af terwyl Sarel, Tollie, Pottie, Nellie en Malie op die grond staan en kyk. Toe hy op die grond is, is almal baie bly.
“Kom, ons moet in die hangkas klim. Dis die veiligste daar,” sê Sarel.
Hulle hardloop by Bruno verby. Hy sien hulle nie eens raak nie. Hy is te besig om sy seer pote te lek.
Na ‘n rukkie is hulle by die deur van die hangkas. Sarel maak die deur oop en toe klim almal in. Die kas is donker binne. Maar dit is niks. Hulle is veilig en Gollie is veilig.
“O eina,” begin Gollie weer te huil, “My arm is so seer.”
“Toemaar, sodra daardie nare Bruno hier uit is sal ons jou arm regmaak,” belowe Nellie Naald.
Die deur van die kas staan effens oop. Sarel kan mooi sien hoe Bruno nog steeds sy pote lek terwyl hy tjank.
Net toe hoor hulle hoe Mevrou Soesman van die kombuis se kant af roep: “Bruno! Bruno! Waar is ounooi se honne!”
Bruno se ore staan skielik regop toe hy dit hoor. Hy probeer om op sy pote te trap maar dis so seer hy gaan sit weer en tjank.
“Bruno! Bruno! Kom ounooi se honne!” roep Mevrou Soesman weer.
Bruno probeer weer opstaan.
“Kom ons spring uit!” skree die leier van die knopiespelde en soos een man spring almal uit Bruno se pote en hardloop reguit na die oop deur van die hangkas.
Toe Mevrou Soesman weer vir Bruno roep, hardloop hy by die kamer uit met sy stert tussen sy bene.
“Mooi so, julle knopiespelde!” sê Sarel Skêr, “Julle is ons helde!”
“Sjoe, julle was darem slim!” sê Nellie Naald, “Ek wou daardie hond nog tussen sy tone steek toe hoor ek hoe tjank hy al klaar.”
“Kom julle ouens, ons moet nou eers vir Gollie regmaak,” sê Sarel Skêr.
En sommer gou-gou maak hulle Gollie se arm reg en gee vir hom ‘n nuwe oog.
“Dankie julle,” sê Gollie, “Kan ek nou maar op daardie rakkie gaan sit?”
“Ja, jy mag,” sê Nellie Naald, “Jy sal net baie stil moet sit.”
“Ja, daardie hond weet nou van jou. As hy jou op die bed sien, sal hy jou weer gryp,” sê Malie Maatband.
Hulle kyk almal toe Gollie oor die kamervloer stap na die bed, opklim, oor die bed kruip tot by die vensterbank, teen die gordyn op klim en dan op die rakkie langs die porseleinmeisietjie gaan sit.