Deel 3
Langs Gollie op die rakkie sit ‘n feetjie. Sy is een van Mevrou Soesman se baie ornamente. Sy het blonde hare en blou-blou oë en het pragtige vlerke agter haar rug.
“Hallou, wie is jy?” vra Gollie.
“My naam is Woutelina en wie is jy?” vra die feetjie.
“Gollie,” sê Gollie en kyk na die oop venster waardeur die maan nou groot en helder skyn. “Ek is moeg om hier te sit.”
“Ek ook,” sê Woutelina.
Gollie kyk na die feetjie. “Hoekom vlieg jy nie by die venster uit nie?”
“Ek kan nie,” sê Woutelina hartseer.
“Hoekom nie?” vra Gollie verbaas. Sy het dan sulke mooi vlerke, dink hy.
Trane glip uit Woutelina se oë. “Freddel, die nare bosnar het my gevang en aan die slaap gemaak. Toe ek wakker word was ek hier. Ek kon nie beweeg nie. Ek kon nie my vlerke klap en wegvlieg nie,” huil Woutelina.
Gollie kry haar baie jammer.
“Waar bly die nare bosnar?” vra Gollie.
“In die bos. Ek weet nie eens waar die bos is nie,” sê Woutelina.
Die kas se deur staan effens oop. Sarel Skêr loer uit en luister.
“Hoor daar,” sê hy, “Gollie praat met daardie mooi feetjie.”
“Ja, sowaar,” sê Nellie Naald en giggel, “Ek is so bly. Nou het hy ‘n maatjie. Hy sal stil sit op die rakkie.”
“Onthou net, hy is nie ‘n dooie pop nie,” waarsku Malie Maatband.
“Ja, ek stem saam,” sê Pottie Potlood.
Dan luister hulle weer na Gollie en Woutelina.
“Hoor jy die mooi musiek?” vra Woutelina vir Gollie.
“Ja, dis mooi,” sê hy, “Ek wonder waar dit vandaan kom.”
“Hoekom gaan kyk jy nie, dan kom vertel jy my,” sê Woutelina.
“Goed dan,” sê Gollie.
Sarel Skêr se oë rek. “Wat wil hy nou maak?” vra hy vir Nellie Naald, “Wil hy by die venster uitklim!”
“O tog,” sê Nellie Naald, “As hy by die venster uitklim en in die moeilikheid beland, kan ons hom nie help nie.”
“Ons moet hom stop!” sê Pottie Potlood.
“Ja, ons sal moet,” sê Tollie Garetol en rol sy oë, ” Hy ken nie Mevrou Soesman se tuin nie en daardie nare Bruno is dalk daar.”
“Ek dink ons moet maar gereed staan. Knopiespelde, waar is julle?” vra Malie Maatband.
“Hier is ons! Hier is ons!” roep die knopiespelde en spring uit hulle dosie soos een speldjie.
Skielik wip hulle soos hulle skrik van ‘n harde slag.
“Wat was dit?” vra Sarel Skêr en loer by die kas uit. “Nee!”
“Wat is dit?” vra Nellie Naald, “Toe, sê. Wat is dit, Sarel. Jy lyk of jy ‘n spook gesien het.”
“Ek het..,” sê Sarel Skêr, “Of..amper so iets soos ‘n spook.”
“Wa..a.aat!!!” gil Malie Maatband.
Nou loer almal by die kas uit. Toe sien hulle die feetjie, stukkend op die vloer. Orals lê stukke van haar mooi rok en vlerke en eenkant lê haar kop, morsaf.
“Nee!” roep Nellie Naald uit en kyk na die rakkie waar Gollie en Woutelina gesit het. En sy skrik. Gollie is nie op die rakkie nie.
Gollie sit buite op die vensterbank en kyk na die donker tuin. Langs hom sit Woutelina.
“Dankie dat jy my van die rakkie laat afval het. Nou is ek weer vry, Gollie,” sê sy en klap haar vlerke wat skitter in die maanskyn. “Daardie nare Freddel sal my nooit weer vang nie. Nooit weer nie.”
“Wat gaan jy nou maak?” vra Gollie.
“Ek en jy gaan kyk waar die mooi musiek vandaan kom, Gollie,” sê Woutelina.
“Maar..e..jy kan vlieg. Ek kan nie,” sê Gollie treurig.
“Jy kan saam met my vlieg. Dis nie so moeilik nie. Hou net styf aan my hand vas,” sê Woutelina.
Nellie Naald, Sarel Skêr, Malie Maatband, Pottie Potlood, Tollie Garetol en die knopiespelde klouter teen die bed op.
Uitasem kom Nellie Naald bo en sê: “Dit het gereën. Wat as Gollie in die nat gras lê?”
“Wat as Bruno hom al weggedra het?” vra Malie Maatband.
“Wat as iemand hom opgetel het,” sê Sarel Skêr.
“Hou nou op!” skree Tollie Garetol, “Kom ons kyk eers. Miskien sit hy op die vensterbank.”
Sarel Skêr rek sy groot bene tot by die vensterbank en klim op. Die ander volg hom.
“Is hy daar?” vra Nellie Naald en haar hart klop kadoef-kadoef in haar keel.
“Is hy?” vra Malie Maatband, “Toe sê vir ons.”
Sarel Skêr kyk na Malie, Nellie, Pottie en Tollie.
“Hy is nie. Hy is weg,” sê Sarel.
“Is jy seker?” vra Nellie Naald, “Kyk weer.”
“Ek kan hom nie sien nie,” sê Sarel.
“Roep hom!” skree Malie Maatband.
“Gollie…Gollie…Gollie…!!!” roep Sarel Skêr met sy growwe stem maar Gollie antwoord nie.
“Hy is weg,” snik Nellie Naald, “Wat doen ons nou?”
“Maar hy kan nie net weg wees nie,” sê Tollie Garetol, “Kom ons wag tot more-oggend. Dan kan ons beter sien. Nou is dit te donker. Ons kan niks sien nie.”
“Goed dan,” stem almal saam en gaan terug na die kas toe.
Gollie en Woutelina vlieg hoog oor die bome. Oor die dorp se huise en strate. Gollie sien baie liggies.
“Oe Gollie, dis darem lekker om weer te kan vlieg,” sê Woutelina, “Hou jy van vlieg?”
“Ja, baie. Maar ek kan nie vlieg nie,” sê Gollie.
“As jy wil kan jy altyd saam met my vlieg,” sê Woutelina, “Wat sê jy, Gollie?”
“Ja..ja…” roep Gollie uit.
Dan sien hulle die mallemeule. Dis waar die mooi musiek vandaan kom. Hulle sien ‘n groot wiel wat al in die rondte draai en ‘n ander rondomtalie met perdjies wat galop.
“Oe, maar dis mooi!” roep Gollie uit, “Woutelina, sien jy wat ek sien?” vra hy.
“Wat?” vra Woutelina.
“Ek sien ‘n nar,” sê Gollie.
“‘n Nar! Waar?” vra Woutelina en haar stem bewe sommer.
“Daar! Kyk, hy gee balonne vir die kinders,” sê Gollie.
Woutelina skrik toe sy sien wie dit is.
“Dis Freddel. Ja, dis hy!” sê sy bang, “Kom ons vlieg terug.”
“Ja, ek wil nie hê hy moet jou weer in glas toesluit nie,” sê Gollie.
“Nee, nooit weer nie,” sê Woutelina.
Hulle draai om en vlieg terug na Mevrou Soesman se huis. Woutelina los vir Gollie op die vensterbank.
“Dankie Woutelina. Dit was baie lekker. Kom jy weer?” vra Gollie.
“O ja, ek kom weer,” belowe sy.
“Waar gaan jy bly?” vra hy.
“Sien jy die groot boom hier in die tuin?” vra sy.
“Ja…” sê Gollie.
“Wanneer die maan in die middel van die lug kom, sluit my feetjie maats die deur van die boomstam oop sodat almal wat in die boomstam woon in die maanskyn kan dans. Ek sal vir hulle moet wag,” sê Woutelina.
“Wanneer kom jy weer?” vra Gollie.
“More-aand wanneer ons in die maanskyn kom dans, sal ek vir jou kom kuier,” belowe Woutelina.
“Oe, ek is nou baie vaak,” sê Gollie en gaap te lekker.
“Toe..toe, jy moet nou gaan slaap. More-aand moet jy laat wakker bly as jy vir my wil sien,” sê Woutelina.
“Ja,” sê Gollie, “Lekker dans.”
Gollie klouter teen die gordyn uit tot by die rakkie bokant die bed en gaan sit op sy plek. Hy is baie moeg van die rondvlieg en gaap lang gape. Sy oë val toe en dan droom hy, hy vlieg weer saam met Woutelina na die wonderlikste plekke.