Deel 4
Sarel Skêr loer by die kas uit.
“Haai julle, kyk! Gollie is terug!”
“Wat sê jy, Sarel?” vra Nellie Naald.
“Kyk, daar sit hy op die rakkie…maar, waar is die feetjie?”
“Haai ja, sy’s weg,” sê Malie Maatband.
“Dis snaaks, dis baie snaaks,” sê Tollie Garetol.
“Wag so ‘n bietjie, onthou julle hoe die wind gisteraand gewaai het?” vra Nellie Naald.
“Ja, ja, ek onthou,” sê Malie Maatband, “En die venster was oop.”
“Dis reg. Ek het toe ‘n harde slag gehoor,” sê Nellie Naald, “Het julle dit ook gehoor?”
“Ja, ek het. Nou onthou ek,” sê Sarel Skêr, “Wat was dit?”
“Dit was sy,” sê Nellie Naald, “Die wind het haar van die rakkie af gewaai.”
“Maar hoe?” vra Tollie Garetol.
“Ek weet,” sê Malie Maatband slim, “Dit was die gordyn. Die wind het die gordyn in die kamer in gewaai. Dit waai toe oor die feetjie en gooi haar van die rak af.”
“Ja…”, sê Nellie Naald, “Ek het iets op die vloer hoor val. Iets soos glas wat flenters breek. Het julle dit ook gehoor?”
“Ja…ek het,” sê Sarel Skêr.
Pottie Potlood gee ‘n lang gaap en vryf sy oë.
“Hoekom praat julle so hard. Ek kan nie slaap as julle so raas nie,” sê hy.
“Pottie, het jy gisteraand iets hoor val? Iet soos glas wat breek?” vra Nellie Naald.
“Ja…dit was daardie feetjie. Ek het alles gesien. In die tyd toe Gollie weg was, het Mevrou Soesman ingekom. Sy was baie kwaad vir die wind. Sy wou die venster toemaak maar toe sien sy die feetjie stukkend op die vloer lê. Sy bring toe die besem en vee die stukke bymekaar en vergeet toe om die venster toe te maak.”
“Ook maar goed so,” sug Sarel Skêr, “Hoe sou Gollie weer ingekom het as die venster toe was..hm.”
Die hele dag lank sit Gollie op die rakkie en wonder wat Woutelina doen. Hy kan nie wag vir die aand nie want sy het belowe sy gaan vir hom kom kuier.
Toe dit donker is daardie aand hoor Gollie.
“Pssst…pssst..Gollie!”
“Ja..e..ja, hier’s ek,” sê hy en loer na die venster toe. Dis sy, dis Woutelina dink hy, klouter van die rak af en gly teen die gordyn af tot op die vensterbank.
“Hallou…is dit jy Woutelina?” vra hy.
“Hier’s ek,” sê Woutelina en klap haar vlerkies.
Toe sien Gollie haar in die maanskyn.
“O, daar is jy,” sê hy en lag.
“Gollie, ek wil jou vanaand na iemand toe neem. Ons sal net gou moet maak want die aand is amper te kort om soontoe te vlieg,” sê Woutelina.
“Goed..goed dan. Ons kan maar gaan,” sê Gollie bly en steek sy hand na Woutelina uit.
Hulle vlieg oor die tuin, hoog oor die huise se dakke. Hulle sien die strate en die winkelvensters waar baie speelgoed in uigestal is. Hulle vlieg verder en verder weg van Gollie se huis af.
“Hoe ver nog?” vra Gollie later.
“Ons is amper daar,” sê Woutelina, “Nog net ‘n klein entjie. Is jy dan moeg?”
“Ja, ek is,” sê Gollie.
“Sien jy daardie groot huis met die baie vensters?” vra Woutelina ‘n rukkie later.
“Ja, ek sien die huis,” sê Gollie.
“Ons vlieg soontoe,” sê Woutelina, “Daardie huis het die mooiste tuin in die hele dorp.”
“Regtig?” sê Gollie en hy wonder wat Woutelina vir hom wil wys.
Na nog ‘n klein rukkie vlieg Woutelina en Gollie oor die groot tuin van die groot huis met die baie vensters. In die vensters brand lig.
Hulle land op’n groot grasperk met baie bome.
“Hier is ons!” roep Woutelina uit.
Gollie skrik groot toe iemand skielik vanagter ‘n boomstam uitspring.
“Ek’s bly julle het gekom,” sê ‘n kort mannetjie met groot skoene en ‘n groot neus. Oor sy kop is ‘n groot hoed met ‘n punt. Aan die kante van die hoed steek sy groot puntore uit.
“Gollie, dis Wysneus, die slimste tuindwerg in die hele dorp. Hy weet alles van die bome en die blomme en al die goggas en die voëltjies in al die tuine van die dorp. Dink jy nie hy is vreeslik slim nie?”
“Sjoe, ja…hoe kry hy dit reg?” vra Gollie.
Ou Wysneus lag uit sy maag uit, “Dis hierdie neus van my,” sê hy.
Gollie kyk na Wysneus se groot neus met die groot neusgate wat nou oop en toe en oop en toe gaan klap.
“Ek kry die nuus deur my neus, sien,” sê Wysneus en lag weer te lekker, “Ek weet alles van jou af en ek ken vir Woutelina lank voor die bosnar haar gevang het. Toe al het ek vir haar gesê sy sal weer gered word…deur ‘n lappop.”
“Regtig!” sê Gollie verbaas.
“Ja…my neus het my vertel. Die dag toe die naald, die skêr, die garetol, potlood, knopiespelde en maatband besluit het om jou te maak, het ek die nuus deur my neus gekry…ek was so bly want toe het ek geweet Woutelina sal weer vry wees.”
Skielik begin Wysneus se neus vreeslik te jeuk.
“Hier kom nuus,” sê hy, “Ek sal julle nou sê wat dit is.”
Gollie kyk verbaas na die ou dwerg.
“Hier kom dit…wat hoor ek?” sê Wysneus en kyk na Gollie.
“Wat is dit, Wysneus?” vra Woutelina.
“Ek hoor ‘n mensekind huil. Dit klink soos ‘n dogtertjie,” sê Wysneus, “Sy huil oor ‘n pop wat sy iewers verloor het.”
“Wat hoor jy nog?” vra Woutelina.
“Dit was ‘n lappop…haar ma belowe om vir haar ‘n mooi pop te koop maar sy wil nie ‘n ander pop hê nie,” sê Wysneus.
“Waar is die dogtertjie?” vra Woutelina.
“Wag…laat ek weer luister,” sê Wysneus. Sy neus klap oop en toe en oop en toe en toe kyk hy na die huis van die groot tuin, “Sy is in die huis,” sê hy dan.
“In die huis?” vra Gollie verbaas en kyk na die groot huis met die baie vensters.
Wysneus kyk ook. “Ja, wag ek sal jou nou sê in watter kamer sy is,” sê hy en Gollie en Woutelina kyk weer hoe sy neus oop en toe klap, “Ja…sien jy daardie kamer daar heel bo waar die lig pienk brand?”
“Ja..ek sien dit,” sê Gollie.
“Dis waar sy is,” sê Wysneus.
“Wat moet ons doen?” vra Woutelina.
“Wel, die nuus wat ek kry is dat daardie dogtertjie haar lappop wil hê…maar as sy nie haar eie lappop kan kry nie, moet ons ‘n ander plan maak,” sê Wysneus, “My werk is ook om kinders gelukkig te maak.”
Woutelina kyk na Gollie. “Wil jy nie die dogtertjie se lappop wees nie?” vra sy.
“Ek…ja, ek sal daarvan hou,” sê Gollie opgewonde.
“Goed..goed..jy sal baie gelukkig wees by die dogtertjie,” sê Wysneus, “Kyk, haar kamervenster staan oop.”
“Kom, ek sal jou gou soontoe neem,” sê Woutelina.
“Maar sal ek jou weer sien?” vra Gollie.
“Natuurlik, en jy sal ook vir Wysneus sien. Hy woon hier in die tuin en hy weet presies wanneer ek kom kuier,” sê Woutelina, “Kom ons gaan maak daardie dogtertjie bly.”
“Totsiens Gollie. Kom kuier gerus weer!” roep Wysneus toe Woutelina Gollie se hand vat en hulle van die grond af opstyg.
Toe Woutelina vir Gollie op die vensterbank van die kamer neersit, hoor hulle hoe die dogtertjie huil. Gollie se hart is sommer baie seer oor sy so huil.
“Wat moet ek doen?” vra hy vir Woutelina.
“Wag, ek dink gou aan ‘n plan,” sê Woutelina en dan sê sy, “Ek sal na die dogtertjie toe vlieg en in haar oor fluister.”
“Sy sal jou sien,” sê Gollie.
“Nee, mensekinders kan my nie sien nie,” sê Woutelina, “Hulle kan my net hoor.”
“O..” sê Gollie, “Wat gaan jy vir haar sê?”
“Ek gaan vir haar sê om na die venster te kyk. Dan sien sy jou,” sê Woutelina.
“Ja..ja..doen dit,” sê Gollie opgewonde.
Woutelina vlieg deur die venster gaan sit op die dogtertjie se skouer. “Kyk na die venster,” fluister sy.
Die dogtertjie kyk na die venster en toe sien sy vir Gollie daar. Sy kan haar oë nie glo nie. Sy staan van haar bed af op en stap na die venster toe.
“Mamma!” roep sy, “Kom kyk hier!”
Die dogtertjie vee haar trane af en tel vir Gollie op.
“Wat is dit, Jodene,” vra haar ma.
“Kyk Mamma,” sê sy en wys Gollie vir haar ma.
“Waar kry jy dit?” vra haar ma.
“Hy was hier in die venster,” sê Jodene, “Hy het daar gesit, Mamma. Iemand het hom vir my gestuur.”
Jodene se ma glimlag. “Ja, miskien het die feetjies en dwergies jou hoor huil en vir jou ‘n ander lappoppie gesoek.”
“Hy’s mooi, nê Mamma,” sê Jodene. Sy kyk na Gollie en sê dan: “Jy kan maar vanaand by my slaap.”
Gollie is net so bly soos Jodene. Nou kan Mevrou Soesman se nare hond hom nie weer byt nie. Hy is so bly Woutelina en Wysneus het vir hom vir Jodene gegee. Hy weet sy sal baie lief wees vir hom net soos hy vir haar.
Gollie kyk na die venster toe. Toe sien hy vir Woutelina daar sit. Sy glimlag, spring op, klap haar vlerkies en toe vlieg sy by die venster uit.
Die einde
(Skrywer: Marianna Brandt)