Toespraak ter geleentheid van Tafelberg-Uitgewers se bekendstelling van Eenders en Anders deur Freda Linde
Om in die vyf minute wat my opdrag is, reg te laat geskied aan Freda Linde se oevre, sit nou nie in my broek nie. Afgesien van my eie onvermoë, het Freda darem ook skuld daaraan. Sy skryf nie een soort boek nie, trouens sy is seker een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Haar 29 oorspronklike werke en baie meer as honderd vertalings en herskeppings sluit ook in essays en dramas vir volwassenes, prenteboeke en prosa en rym, verhale vir 7-9jariges, verhale en verse vir 8-10jariges en ook vir 10-12jariges, jeugromans en vakliteratuur vir die jeug sowel as nou met Eenders en Anders, ook vir jong kinders en durf ek sê, óók vir volwassenes. Asof dit nie al erg genoeg is nie, skryf sy realistiese verhale, fantasieë, verbeeldingsverhale, spreukryme, ander rympies, verse en wat nie al nie, en is sy die mees bekroonde kinderboekskrywer in Afrikaans.
‘n Ryke skat voorwaar in omvang, maar ook in oorspronklikheid, lewenswaarhede, en verkonkretiseerde abstrakte idees. En daarby is sy steeds vernuwend, tot met haar jongste werk.
So waar begin ‘n mens en waar eindig jy.
In Freda se verhale gaan dit nie om ‘n blote storie nie. Hoewel dit ‘n boeinde verhaal op die oppervlak is, moet dit iets vir haar as skrywer inhou. Verskuil onder die oënskynlike eenvoudige verhaalvlak en skryfstyl en die subtiele humor, lê heelwat suggesties, simboliek en kommentaar of sinspelings.
‘n Kinder- of jeugboeke dus, maar ‘n opwindende ontdekkingstog vir die volwassene wat behoorlik kan en wil lees.
Ek beskou Freda ongetwyfeld as een van die mees onderskatte skrywers in die wêreldkinderliteratuur. Haar vertalings in Engels en Duits word ook nie behoorlik gelees nie.
Vir Freda is die natuur, die mens, die heelal ‘n geïntegreerde eenheid, en die mens wat daarbuite staan, wat besoedel en vernietig, is ‘n boosheid.
Besoedeling het sy reeds in die Die Rooi Haan aangespreek. Die boek is in die vyftigerjare geskryf, voor The Silent Spring wat die wêreld in beroering gehad het. In Ken jy die Kierangbos is daar o.a. politieke kommentaar, wat met sy verskyning gelukkig misgekyk is, anders was die boek dalk verban. Die outsider-figuur kom in Freda se kinderboeke voor vóór die sestigers.
Freda se eerste kinderboek, Swiera van die Waterkant, wat in 1959 verskyn het, was “die eerste kinderboek in Afrikaans met ‘n simboolstruktuur”. Dit is in 1982 herdruk as Vlug na Sonnige Oewer.
Sy het in 1959 ook vir die eerste keer in Afrikaans begin met oorspronklike liedjies as deel van die teks. ‘n Belangrike vernuwende werk was haar bekroonde bundel van sestig berymde Afrikaanse spreuke, By die Oog van die Fontein in 1974.
So kan ‘n mens vernuwing op vernuwing opnoem. . .
Die idee dat die reguit streep en die kurwe teenstellings is maar tog onskeibaar is, het oorsronklik by Pythagoras in die sesde eeu v.C. ontstaan. Hierdie feit het Freda onlangs per toeval vasgestel. In Strepie en Kurfieverpersoonlik Freda die streep en die kurwe tot twee fantasie-wesens wat patrone skep. Eenders en Anders is ‘n voortsetting van die patroontema, maar in hierdie boek gaan dit om patrone in die konkrete natuur en die wêreld om ons.
In die wonderwêreld waarin ons leef maar dit nie raaksien nie, is daar in alles patrone – in die mens, in die plante- en dierelewe, in die geskiedenis. En patrone verdwyn ook nie – selfs wanneeer lewe uitsterf, herleef hulle weer in nuwe lewensvorms.
Om dit vir jong kinders boeiend en met humor uit te beeld, wil gedoen wees.
Freda sou ook ‘n grafiese kunstenaar kon wees as sy daardie talent ontwikkel het. O.a. daarom stel sy besondere eise aan haar illustreerders en uitgewers, want die boek is vir haar ook ‘n visuele eenheid.
Freda sê altyd dit is nie die groot konsep wat iets perfek maak nie, maar die klein dingetjies – die fyn afwerking van ‘n meubelstuk, byvoorbeeld. En dit word by uitnemendheid in haar skryfwerk en die tegniese produksie van haar boeke weerspeël. Sy is inderdaad perfeksionis – die ergste wat ek nog ooit teëgekom het. Sy is seker die enigste mens in die wêreld wat die knope in ‘n pakkie se tou eers losknoop voordat sy dit weggooi!
Iets wat ek altyd met groot respek en waardering van Freda sal onthou, is haar onkreukbare integriteit – teenoor haar kuns, die mens om haar, en die mens en die lewe in die algemeen.
Ek ken Freda al baie jare lank, feitlik ‘n leeftyd. In al die tyd het sy ietwat gryser geword, maar niks verander nie, behalwe dat sy kleiner in statuur geword het. Maar met haar werk sal dit anders wees – ek is baie seker dat dit in statuur steeds groter sal word.