“Growing up without books is growing up deprived and with a deprivation that puts one at risk for failure. If we want our children to grow up reading, we have to do everything possible, and we have to do it as early as possible.” Dr. Perri Klass, Assistant Professor of Pediatrics, Boston University School of Medicine.
Dit is nooit te vroeg om jou baba aan die wonderlike wêreld van boeke bekend te stel nie. Alhoewel jou baba moontlik geen belangstelling in boeke sal toon tot op die ouderdom van ses of nege maande of selfs later nie, moet jy steeds aanhou om vir jou baba te lees. Deur stories en boeke met jou baba te deel, versterk jy nie slegs die emosionele band tussen jou en jou baba nie, maar stimuleer jy ook die ontwikkeling van jou baba se brein. Navorsing toon dat kinders aan wie daar voorgelees is vandat hulle babas is, nie slegs ‘n groter waardering vir lees en boeke het nie, maar ook beter vaar op skool as kinders aan wie daar nie voorgelees is nie.
Boeke van lap, plastiek en karton is ideaal vir babas. Die boeke moet verkieslik ronde hoeke hê, aangesien babas waarskynlik die boek sal kou, skud en probeer opfrommel. Kies boeke met min, ritmiese teks en groot, eenvoudige en kleurvolle illustrasies. Wees op die uitkyk vir boeke waardeur ander sintuie behalwe sig gestimuleer kan word. Daar is deesdae byvoorbeeld verskeie boekies beskikbaar wat illustrasies het waarop daar materiaalstukkies aangebring is sodat die baba die verskillende teksture kan verken.
Hier is ‘n paar wenke vir wanneer jy vir jou baba lees:
- Laat jou baba die pas bepaal. Jou baba weet nie of jy elke woord van die storie lees of nie. Laat haar dus toe om na die volgende bladsy te blaai as sy wil. Moet haar ook nie dwing om aan te hou lees as sy eerder iets anders wil doen nie. Vir ten minste die eerste jaar sal jou baba waarskynlik die boek gryp, skud, kou en die bladsye so vinnig as moontlik omblaai. Dit beteken egter nie dat jy besig is om jou tyd te mors deur vir jou baba te lees nie. Jou baba is gefassineerd deur haar eie behendigheid en toets dit uit waar en wanneer sy kan. As sy vir ‘n rukkie by ‘n bladsy vertoef, hoef jy nie die presiese teks te lees nie. Jy kan bloot sê: “O, wat ‘n pragtige blom is dit nie!” Geleidelik sal sy begin om die boek bladsy vir bladsy te bestudeer en op ‘n dag sal sy na die blom in die illustrasie wys en sê: “Blom!”
- Praat duidelik en stadig en wys na prentjies terwyl jy lees. Prentjies behoort 20 tot 30cm van die baba se gesig af gehou te word. Soos wat jou baba ouer word sal sy self prentjies begin uitwys en benoem.
- Wees entoesiasties! Lees moet vir jou baba ‘n vreugdevolle, positiewe ervaring wees.
- Varieer jou stemtoon en dramatiseer die storie. Lees “aksie-belaaide” boeke sodat jy jou hele lyf kan gebruik terwyl jy lees.
- Verander die naam van een van die karakters in die storie na jou baba se naam.
- Lees die boek soveel keer as wat jou baba dit wil hoor. Babas het nodig om stories weer en weer te hoor. Deur herhaling fokus die baba elke keer op ‘n ander aspek in die storie en word sy sodoende bewus van nuwe detail. Herhaling is ook bevordelik vir die internalisering van taal en struktuur.
- Laat jou baba toe om die boek na willekeur te hanteer en daarmee te “speel”.
- Hou leessessies kort.
- Lees boeke waarin daar mense, voorwerpe en diere voorkom waarmee jou baba bekend is.
- Lees boeke wat jy ook geniet.
- En laaste maar nie die minste nie, stel ‘n goeie voorbeeld vir jou baba en lees self. Dit moet vir jou baba duidelik wees dat jy lees as belangrik ag.
Die artikel het oorspronklik verskyn in Ek en my kind