Gysbert en Ansie gaan kuier op die plaas

Rosa Els
Gysbert het die rooi koevert tussen die ander briewe dadelik gesien. Sy naam was groot en duidelik daarop geskryf.

Deel 1

1. Die rooi koevert

Gysbert het die rooi koevert tussen die ander briewe dadelik gesien. Sy naam was groot en duidelik daarop geskryf.

“Mamma, Mamma, kyk net hier. Ek het ‘n brief gekry! Mamma, hier is my naam geskryf.” Mamma sien sommer dadelik dit is Ouma se handskrif. Gysbert kan nie wag om dit oop te skeur nie.

Ansie hardloop ook nader toe sy hoor hoe opgewonde Gysbert is. Hy skeur die brief oop en begin lees, maar sien dat die brief ook vir Ansie geskryf is. Hy lees hardop sodat sy ook kan hoor. Ansie is nog nie in die skool nie, maar Gysbert is al in graad 2.

Liewe Gysbert en Ansie

Dit is een van die dae vakansie, en nou wil Oupa en ek baie graag hê dat julle twee vir ons op die plaas moet kom kuier. Dit het al gereën en alles is so mooi groen.

Mamma kan al volgende week begin om julle klere in te pak, en onthou tog om skoene en klere vir die kerk ook in te pak.

Pappa en Mamma kan julle dan die Saterdag nadat die skool gesluit het, plaas toe bring. Laat weet vir ons of dit reg is.

Van Ouma.

Toe Pappa van die werk af kom, het hy ook gedink dit is ‘n baie goeie plan. Die kinders was so opgewonde en kon nie wag om vir Ouma te bel nie. Hulle wou sommer hê dat Mamma dadelik hulle tasse moet pak. Gysbert sug so ‘n lang sug toe Mamma sê daar is nog vyf slapies oor voordat die skool sluit.

Die dae gaan nou stadig verby. Maar die aand nadat die skool gesluit het, is die tasse gepak. Die kerkklere en skoene is heel bo. Pappa sê: “Moet tog nie julle tandeborsels en tandepaste more vergeet nie. Onthou ook julle handdoeke. En ek dink julle twee moet nou dadelik in die bed gaan klim, want more baie vroeg gaan die wekker ons almal wakker lui.”

Die kinders het al vroeg klaar gebad en hulle slaapklere aangetrek. Toe Pappa praat, luister hulle dadelik want hulle wil tog nie more nog vaak wees as die wekker lui nie.

2. Eindelik is dit Saterdag

Toe Mamma die kinders gaan roep, sit hulle al kant en klaar aangetrek. “Mamma, ons het al ons gesigte gewas en ons tande geborsel.” Sy sien ook dat hulle hare glad gekam is.

“Ons drink net gou koffie en dan val ons in die pad, want Ouma wag vir ons vir ontbyt,” sê Mamma.

“Hoe lank gaan ons ry, Mamma?” vra Ansie.

“As ons nou in die motor klim, kan ons agt uur op die plaas wees.”

Die pad is vir die kinders baie lank. Uiteindelik sien hulle die wit huis met die rooi dak tussen die bome uitsteek. Vyf minute voor agt hou pappa stil langs die groot, groen grasperk voor die huis.

Oupa en Ouma kom aangestap na die motor. Die kinders gryp hulle om die nek en soen hulle sommer ‘n paar keer.

Pappa dra die groot tas en Mamma haal die vrugte uit die motor. Ouma loop voor om te gaan wys waar die kinders moet slaap.

Gysbert en Ansie kan nie wag om van Ouma se lekker kos te eet nie. Ouma het die tafel klaar gedek en almal gaan sit aan toe sy roep. Oupa bid eers voordat hulle eet. Hy sê dat hy baie dankbaar is dat hulle veilig gery het.

Daar is pap en eiers op die tafel. Ouma sê ook altyd dat hulle vars vrugte moet eet en melk moet drink. Sy glo dat kinders gesonde kos moet eet om sterk en gesond te wees. Sy sê hulle kan maar self van die yskoue melk en lemoensap in die yskas vir hulle ingooi as hulle dors is.

Net voor middagete ry Pappa en Mamma weer. Gysbert en Ansie en Oupa en Ouma waai totdat die motor tussen die bome verdwyn.

Rosa Els
Kopiereg: Rosa Els
2000
0
Would love your thoughts, please comment.x