“You have to enter the womb of Africa and be part of it, and not see. Your eyes must be closed, but you must feel all the rhythms of the body.” Mazis Kunene
Die Laeveld, Mosambiek, Dasseneiland, die Kaapse Weskus, die Okavango – die Kus van die Dood in die Namib. Met ‘n kronkelpad het Pieter Pieterse vir dertig jaar lank diep in Afrika ingekruip en gelééf op die ritme van haar liggaam. Soms alleen, soms met vrou Jenny, soms bril óp sy kop en soms kaalvoet en kaalbors. Maar altyd met ‘n verkennersoog, ‘n nuuskierigheid en ‘n passie vir die natuur en die Afrika-landskap.
“Oorsee vir wat?” vra hy nadat hy twee vliegtuigkaartjies wen in ‘n kortverhaalkompetisie. “Die lewe soos wat ek hom lewe is te kosbaar om vir ‘n maand daarvan weg te gaan.”
Hy het nie weggegaan nie, hy het bloot nuuskieriges na hom gelok met sy gewilde TV-programme, draaiboeke, resepte, radiovervolgverhale en talle boeke. En soos die uitgewer Annari van der Merwe sê, “Hy het ander se drome uitgeleef, maar die drome toeganklik gemaak.” Hy het meer boeke beweeg as André P. Brink en het meer kykers getrek as die spul van Sewende Laan.
Dit was nie net middeljariges wat baadjiepak vir kortbroek wou verruil het wat by Pieterse se werk aanklank gevind het nie. Ook kinders. Met sy nagenoeg twintig jeugboeke, sommige vertaal in Engels en Frans, was hy een van die produktiefste jeugboekskrywers in Afrikaans.
Vir “jong” lesers het hy ‘n wêreld oopgemaak wat vir meeste ‘n vreemde, romantiese fantasie was. “Wow! Ek het die boek in Johannesburg gelees, maar ek was dáár!” merk ‘n opgewonde lesertjie op. “Dis ‘n idille wat deernisvol en subtiel humoristies vertel word, soos net ‘n Pieter Pieterse dit kan doen,” skryf ‘n liriese resensent.
Sy bekendste werke is Die Pad na die See (1988, Tafelberg) en Silwer, Jakkals van die Namib (1990, Tafelberg).
Die Pad na die See was in 1988 die wenner van die goue Sanlamprys vir Jeuglektuur. Die verhaal neem die leser terug na die Trichardt-trek van 1835-1837 en fokus op vier jongmense: Willem, Hanna, Sarie en die 16-jarige Pieta
Trichardt. Hulle worstel enersyds met die kompleksiteite van verhoudings en andersyds met die aanslae van hulle nuwe ruimte.
Die kinder- en jeugboekkenner, Marina le Roux, het die boek destyds as volg beskryf: “Soos in die beste legendes is die taal en styl van hierdie boek ook sober, sonder pretensie, maar gelaai met emosie en vitaliteit. Pieterse skryf met robuuste drif sonder enige toegewings. Die pad na die see is ‘n meervlakkige, boeiende historiese roman.”
In 1990 word nog ‘n jeugroman van Pieterse aangewys as finalis in die Sanlamkompetisie. Silwer, jakkals van die Namib word later gediskwalifiseer omdat die karakters nie tussen 13 en 18 jaar oud is nie, maar nietemin gaan haal Pieterse die Namibiese Kinderboekforum se goue medalje, ontvang hy die tweede prys in die ATKV se Prosaprys en is die boek ‘n finalis vir die gesogte M-Net-prys.
Dis ‘n legendariese brandsiek jakkals in die Namib waaroor Pieterse skryf. Silwer. Een van die talle wat hy self vir ‘n tyd lank gevolg en leer ken het. (Jare later, so vertel Annari van der Merwe, loop hy weer sy jakkalse raak. En herken hulle.) Die verhaal fokus op die oorlewingstryd van die woestynjakkalse, die jong veldwagters se soeke na meer as net die jakkalse en die onherbergsaamheid van die Skedelkus van die Dood. Lewe en dood, eggo dit deur die boek.
Lewe én dood, eggo dit nou deur die Laeveld, Mosambiek, Dasseneiland, die Kaapse Weskus, die Okavango, die Kus van die Dood in die Namib.