Ek weet sowaar nie watter soort mens ek besig is om te word nie. Ek wil al hoe minder dinge hê, ek hou al hoe minder van mense wat “vreeslik baie belangrik” is, ek sku al hoe meer weg van kollig en kalklig. Moet asseblief nie vir my deftige ruikers uit bloemistes aandra nie en asseblief, asseblief, koop nie vir my duur geskenke gee vir verjaarsdag em Kersfees nie.
Dis nie dat ek nié van blomme en persente hou nie. soos alle mense houe ek van ‘n geskenk. Maar gee my liewer ‘n ding uit jou hart en kyk my in my oë, dan hoor ek wat jy vir my sê.
Onlangs is ek op die dorp waar ek grootgeword het, ‘n plattelandse dorpie tussen die vlegselheuwels van KwaZulu-Natal. En ek kry die wonderlikste geskenk. Van die mooiste vrou op die dorp. Kleintyd reeds het ek gedink hierdie vrou is iets besonders. Sy is elegant, beheersd en stylvol, sy dra haar gesig en haar liggaam en klere met vrede en waardigheid. Mense kyk haar agterna; nie omdat sy so pragtig is soos Sophia Loren nie, maar omdat sy rysiger, en ja, mooier, is as die beeldskone filmster.
Sonder enige goeie rede gee hierdie vrou vir my ‘n bos blomme. Dis nie ‘n bloemiste-gedoente nie, maar rose uit haar eie tuin. Nie een van die blomme is kweekhuis-perfek nie, maar oop, vol en geurig. “Jy is vir my nou die vervulde vrou soos weerspieël in hierdie rose,” sê haar briefie.
Ek hoor duidelik wat sy sê.
Haar rose lê my hart vol, lank, lánk nadat dit verwelk het.
Op Kersoggend klop Basjan aan ons voordeur. Sy hare is ‘n bietjie deurmekaar, hy’t ‘n biekie gekuier saam met sy mense die vorige nag, maar hy lag sy gesig vol kreukels en tande.
Hy bring vir ons ‘n Krismisboks, sê hy.
Basjan se Krismisboks slaat reguit in my hart in. Want hy grou versigtig ‘n vetplantjie uit sy eie tuin uit om ons Kersfees vreugdevol en oorvloedig te maak. Vrede op aarde, in die mens ‘n welbehae, die vetplantjie groei dat hy bars. Volgende Krismis kan ek uit hierdie plantjie vir Basjan twéé steggies gee vir sy tuin. En een vir al my baie bure.
Ag, tog, ekskuus dat ek hierdie laaste storie vertel, maar as ek dit nié doen nie, dan sal niemand weet van hierdie goedheid en genade in my lewe nie.
Een van my boeke kry ‘n prys. Dit is ‘n klein prysie, ek gaan beslis nie ryk of beroemd word daarmee nie, maar ek lag ‘n bek vol tande. Skrywers in hierdie land word nie eintlik doodgegooi met akkolades of positiewe terugvoering nie, daarom is hierdie prys ‘n aanmoediging, ‘n erkenning en doodplein ‘n groot lekkerte.
Wat die prys nóg beter maak, is dat dit sonder pretensie of intrige is. Die jurie bestaan naamlik nie uit die vreeslike geleerde en belangrike literati van die boekbedryf nie, maar uit diegene vir wie die boek geskryf is: kinders. Soos ‘n mede-pryswenner, Leon de Villiers, later sou sê: “Dit is ‘n prys van kinders wat vere voel vir die skrywer, maar hou van die storie.”
Katryn hoor hoe ek lag toe ek die nuus verneem. Wat is dit nou, vra sy, want sy moet weet wat in hierdie huis aangaan. En sy lag tog te lekker saam met my toe sy hoor wat gebeur het.
Die oggend voordat ek vertrek om die oorhandigingsfunksie by te woon, moet ek nog ‘n paar laaste dinge doen. Matewis Thabo bring vir my die plaaswerkers se swartboek, die weeklikse lone moet uitgewerk en die koevertjies volgemaak word.
Onderaan al die inskrywings oor oortyd, skulde en laste, is daar vir my ‘n notatjie geskryf: “Namens al die werkers op De Compagnie wens ons mevrou baie geluk met die boekprys”.
Later die aand kry ek my prys. Maar ek het dit eintlik alreeds gekry, van elke kind wat daarin vreugde vind om sy neus in ‘n boek te steek. En elke man op die plaas wat in hierdie tyd na druiwemoer en gis ruik, van elke vrou wie se oorrok vol druiwesap is.
(ATKV-kinderboektoekenning vir Blinde Sambok.)