1
Jy WORD nie ‘n skrywer nie – jy IS een. Daarmee sê ek dat geen opleiding jou ‘n skrywer sal maak nie – hoe kundig dit ook al is en en hoe opreg dit ook al bedoel word. Die goue reël is egter: Leer van almal wat op jou pad kom – veral van hulle met wie jy nié saamstem nie. Dit slyp jou onderskeidingsvermoë.
2
Die ietwat stuitige (maar dêm slim) definisie van ‘n toespraak “Stand up, speak up, shut up” kan ook op ‘n stuk skryfwerk van toepassing gemaak word:
Stand up: Moenie bang wees om jou idees rugbaar te maak nie. Mense sal nie altyd met jou saamstem nie, en dis goed so; dit hou jou op jou tone. Eintlik is dit lekkerder as mense NIE met jou saamstem nie. Dit laat jou belangrik voel. Wat NIE beteken dat jy wel belangrik IS nie!
Speak up: Skryf duidelik, met eenvoud en deernis, al spot jy ook met hulle swakhede. Mense hou daarvan om hulle swakhede in stories uiitgebeeld te sien; dit gee hulle die salige gevoel dat hulle darem nie die enigste sondaars op aarde is nie. Lees oor en oor: THE OLD MAN AND THE SEA van Ernest Hemingway.
Shut up: Alles het ‘n slot. Jou lewe ook. Hoe gouer jy leer hoe en wanneer om jou storie te eindig, hoe beter vir jou en jou storie. En vir die leser of luisteraar. Tensy jy daarvan hou as die leser kan raai wat jou slot is nog voordat jy self daaraan kan dink.
3
Ek dink dis noodsaaklik vir ‘n skrywer om sy moontlikhede en tekortkominge te ken. Maak ‘n aparte lys van albei en konsentreer op jou moontlikhede. Ek sê, moontlikhede, want niemand ken homself so goed dat hy altyd presies weet waarheen hy op pad is nie.
4
Sonder ‘n positiewe instelling teenoor die lewe en jou medemens, sal jou skryfwerk nooit bevredigend wees nie. Al kry jy per ongeluk ook die Nobelprys.