Thomas Steyn is die hoofkarakter in die reeks Thomas@. Hoe sal jy Thomas beskryf?
Thomas is in graad agt en woon in Kaapstad. Hy is ‘n doodnormale ou wat hou van pizza, sport, sy rekenaar en deesdae ook ‘n goeie vriendin, Alex. Hy dink die skoolhoof is walglik, hy is ‘n vrek goeie losskakel, hy bekommer hom oor sy beste vriend, Hannes, wat soms ‘n bietjie snaaks is na ‘n kaping en uiteindelik lyk sy stiefma, Louisa, nie so sleg nie.
Karakters in jeugboeke val telkens net in twee kategorieë: of hulle is hierdie superkids wat alles onder die son (en sonder moeite) kan doen of hulle is totale losers. Ek hoop Thomas is iemand met wie ‘n mens kan assosieer omdat hy ‘n bietjie meer realisties is.
Hoe voel jy oor die feit dat Thomas in resensies met Trompie van toentertyd vergelyk word?
Ek voel gevlei omdat ek baie waarde heg aan die ou reeksboeke soos Trompie, Saartjie, Maasdorp, Keurboslaan, ens. Nie so lank gelede nie, toe daar nog nie ‘n Harry Potter of ‘n Artemis Fowl was nie, was dit regtig die enigste lekker Afrikaanse boeke vir die jonger, pre-André P. Brink-lesers onder ons. Daarna het meeste van ons maar oorgeslaan na Engels. Vir ‘n lang tyd was reeksboeke so uit soos dans op Potchefstroom en arme Trompie het amper op die brandstapel beland. Natuurlik is dit belaglik. Trompie is nou baie retro – Sandile Dikeni het selfs gesê dat dit Trompie was wat hom lief gemaak het vir Afrikaans, en vandag is hy ‘n belangrike skrywer. As Thomas oor vyftig jaar ook nog so cool is, sal ek baie bly wees.
Thomas@Moord.net was jou eerste boek. Hoe het jy aan die skryf gekom? Kom dit al van skool af, of is dit ‘n gier wat jou uit die bloute beetgepak het?
Ek was in ‘n Engelse meisieskool en vinnig besig om te verengels, maar in Matriek het ons ‘n fantastiese Afrikaanse juffrou gekry wat my oorreed het om weer Afrikaanse boeke te lees. Dit was ‘n ongelooflike ervaring – eintlik ontdekking (baie corny!). Soos meeste jongmense wat in woorde belangstel, het ek daarna deur ‘n ultra “diep” fase gegaan en verwoed gedig, maar dit was verskriklik sleg. Absoluut onleesbeer. Ek het op universiteit kortverhale geskryf en ‘n gedeelte van my honneurskursus in kreatiewe skryf by Marlene van Niekerk gedoen. Die persoon wat my egter aan die skryf gekry het was my huidige uitgewer, Miemie du Plessis, van LAPA Uitgewers. Ons paaie het gekruis en Miemie het geduldig aangemoedig, geïnspireer, raad gegee en uiteindelik was die produk Thomas@moord.net. Ek sal altyd diep dankbaar wees vir Miemie dat sy my by kinder- en jeugboeke uitgebring het. Ek kan nie aan iets anders dink wat ek eerder sou wou doen nie.
Jy is net 25 jaar oud – een van ‘n handjievol Afrikaanse skrywers jonger as dertig. Hoe voel jy oor Afrikaanssprekende jongmense?
Ek dink ons geslag jongmense is erg cool. Die nuwe geslag Afrikaanssprekende jongmense is meer selfversekerd, dink oor issues sonder om te voel dit hoef ‘n hengse krises vir almal te word, is meer onafhanklik in hulle keuses juis omdat daar gedink word en nie blindelings volgens voorskrifte en verwagtinge gehandel word nie en daar’s ‘n interessante viriliteit wat ‘n mens orals sien. As ‘n mens kyk, presteer jongmense geweldig goed. Dink maar aan Karen Zoid, Derick Hougaard, Natalie du Toit, Saartjie Botha, Neels van Jaarsveld, Francois Toerien, Nicole Holm, ens. Ek is soms net bang dat ons te apaties is, maar ek glo dat elkeen self moet besluit wat vir hom/haar belangrik is. ‘n “Herd”-mentaliteit maak my vies.
Wie is jou rolmodelle?
My ma, Karen Zoid, Petronella van Heerden, die ou wat die geel Post-It-notajies uitgedink het, Harry Potter, Koningin Elizabeth (die eerste een – nie Charles se ma nie) en Ronald MacDonald.
Met watter storieboekkarakter kan jy jou die beste vereenselwig?
Die Swart Kat
Hoe lyk ‘n ideale dag in jou lewe?
Een wat die see, droë witwyn, my man, goeie vriende en seekos insluit. In die winter verkies ek ons kaggel in ons spokerige Victoriaanse huis, sjokolade croissants, mooi musiek en ‘n goeie boek.
Wat laat jou bloed kook?
Die Kaapse Suidoos, ‘n slegte pizza, ‘n flou cocktail, die vervelige boeke wat ek op skool moes lees, pretensieuse skrywers, taxi’s en swak diens.