Huis met pote

Pieter Scholtz
Die storie word geplaas om Storiewerf se sesde verjaarsdag te vier.

Lank gelede is verby. Hierdie storie gebeur nou. Nou-nou het nog gebeur nie. Dis nou, in die nou.

In die straat staan daar een leë huis. Die mense wat daar gebly het, het weggetrek.

Die huis se naam is Huis want sy mense het nooit vir hom ‘n naam gegee nie.

Huis voel baie eensaam want hy het nie maats om mee te gesels nie.

Dag vir dag staar Huis na die son wat opkom en ondergaan, opkom en ondergaan.

In die nag droom hy van mense wat in hom kom kuier en lag. In die oggend word hy wakker en dan is daar niemand. Sy kamers is leeg.

Huis het een groot wens. Hy sien die wens gedurig in sy gedagtes gebeur. Hy droom hoe hy van hoë geboue afspring en voel hoe lekker dit is om deur die lug te sweef. Hy wens so hy kan vlieg. Hy wil ver en hoog vlieg, sommer na ander planete en sonnestelsels toe.

Huis verlang ook so baie na mense binne sy mure. Hy verbeel hom een nag hy hoor stemme in sy woonkamer. Skielik voel dit lekker vrolik in hom. Hy dink die stemme het ‘n vuurtjie in sy kaggel aangesteek.

Huis is effens skrikkerig om te loer wie kom kuier het. Hy is bietjie bygelowig. Net nou is dit spookstemme. Hy hou nie van spookstemme nie, hulle maak hom bang.

Huis maak stadig sy een oog oop en loer…. Aaaaaaaaaaaa, hoe wonderlik, dis die Ligstemme. Ligstemme is baie welkom tuis want hulle maak lig en hulle kielie hom.

As huise gekielie word begin hulle lag. As huise lag begin hulle lewe. As huise lewe dan groei hulle pote. As huise pote het kan hulle rondloop. As hulle rondloop begin hulle kuier en dis wat huise die heel graagste doen: kuier.

Huis is so opgewonde hy kan nie wag dat die son opkom en ondergaan nie. Uiteindelik is dit die volgende aand. Huis het pote gegroei deur die dag en is nou gereed vir sy heel eerste uitstappie.

Aan die begin trap hy moeilik want hy wankel bietjie. Hy lag vir homself, ‘n huis wat loop, verbeel jou! Gou raak Huis gemaklik en daar kom ‘n huppel in sy stap.

Kort voor lank is hy by buurt se parkie waar al die huise met pote snags bymekaarkom. Hulle het ‘n groot vuur gemaak en braai vir mekaar marshmellows. Die huise lag, gesels en vertel stories.

Die huise met pote is so bly om vir Huis te sien aankom dat hulle van veraf waai en toe hy naby is hom dadelik vra om sy storie te vertel.

Huis vertel vir hulle van die besoek van die Ligstemme.

Die aand hou die huise tot laat middernagfees. Een van die huise, Toskaan, het al ver gereis. Hy besit ‘n reuse paar vlerke. Blykbaar groei huise vlerke as hulle heeltyd daaroor dink en daarop fokus.

Toskaan vertel van die sonkastele op Saturnus, die gastehuise op Jupiter, die motorhuise op Mars maar is veral opgewonde oor die meisiehuise op Venus.

Na sewe jaar land Huis op die planeet Venus. Huis het groot vlerke gegroei.

Op Venus swem hy elke dag. Dis lekker warm en naby die son. Huis gebruik sy vlerke as vinne. Hy breek ‘n paar swemrekords.

Al die geboue op Venus is vol skilderye. Huis gaan gereeld op kunstoere. Hy leer ook om Veens te praat.

Een aand op Venus se strand ontmoet hy vir Paleis.

Huis bring haar aarde toe.

(Skrywer: Pieter Scholtz)

Pieter Scholtz
Pieter Scholtz is in Gr1, 7 jaar oud
Kopiereg: Pieter Scholtz
2005
0
Would love your thoughts, please comment.x