Hoofstuk 2: Samuel sing saam
“Dis weer musiekles vandag,” sê Phillip toe hy een oggend die sykar inspan.
“Fwieet, fwieet!” sê Samuel uit die hamsterbal. “Ek hou van musiek.”
“Jy sal maar jou snawel moet hou, Samuel. Die vrou wat vir Phillip leer klavier speel, hou nie van jou soort musiek nie,” waarsku Magrietjie toe hulle dorp toe ry.
“Jy’s net jaloers omdat jy nie kan fluit nie, Magrietjie.”
“Jaloers, grrmf. Kan jy miskien blaf?”
“Ek wil nie blaf nie, want ek het nog nooit ‘n voël hoor blaf nie,” sê Samuel.
“Hm, ja, ek het ook nog nooit ‘n hond hoor fluit nie,” sê Magrietjie. Onnosele voël, dink sy.
Hulle ry by die ingang van die musiekskool in. Phillip parkeer sy fiets en maak die sykar se hok oop.
“Kom, Magrietjie, wikkel daardie boude,” sê hy en wag dat sy moet uitklim.
Toe Magrietjie uit is, haal Phillip vir Samuel uit die hamsterbal, sit hom op haar kop en lei hulle na die trappe wat opgaan na die musiekskool op die eerste verdieping van die gebou.
“Môre, julle,” sê Alet, die musiekonderwyseres. “Kom in, Phillip.”
Magrietjie gaan lê voor ‘n rusbank naby die klavier.
“Vandag moet Phillip mooi speel,” sê Samuel.
Phillip gaan sit op ‘n bankie voor die klavier. Alet gaan sit langs hom en vra hom om te speel wat hy in die vorige les geleer het. Toe begin hy Hansie Slim te speel.
“Fwieet, fwieet, fwieet, fwieet!” fluit Samuel.
“Hou op. Jy pla vir Phillip,” waarsku Magrietjie.
“Issie, Magrietjie. Ek pla hom nie, ek fluit net saam,” sê Samuel. “Fwieet, fwieet, fwieet!”
Ná ‘n rukkie staan Alet op. “Phillip, ons kan nie oefen met die voël wat so raas nie,” sê sy.
Samuel trippel vererg op Magrietjie se kop. “Raas? Ek raas nie. Ek fluit. Ek fluit mooi. Baie mooi.”
“Ek het jou gesê jy pla hulle, Samuel,” raas Magrietjie.
“Die voël moet uit, Phillip. Dit kan nie so aangaan nie,” sê Alet.
Phillip staan van die bankie af op.
“Goed dan. Ek sal hom uitneem,” sê hy en tel vir Samuel van Magrietjie se kop af op.
“Nee! Waarheen vat jy my nou?” skree Samuel.
“Jy gaan nou buite bly,” sê Phillip kwaai en stap uit. Hy sit vir Samuel in sy hamsterbal en los hom op ‘n tafel in die gang buite die musiekkamer.
Magrietjie lê en luister hoe Phillip se vingers die klavers druk. Sy ken die liedjies wat hy speel al uit haar kop.
“Mooi, Phillip,” sê Alet nadat Phillip sy laaste liedjie gespeel het. “Jy ken die liedjie al baie goed. Volgende keer leer ons ‘n nuwe een.”
“Dankie tog,” brom Magrietjie en staan op.
Phillip vat sy hoed en groet vir Alet.
“Kom, Magrietjie,” sê hy.
Toe hulle in die gang buite die musiekkamer kom, sien Magrietjie die hamsterbal op die tafel. Sy stoot haar neus oor die rand van die tafelblad om beter te kan sien. Haar oë rek groot toe sy sien die hamsterbal is leeg. Phillip sien dit ook. “Samuel! Samuel! Hy’s weg! Waar is Samuel?” Phillip kyk vervaard onder die tafel, in die gang af, by die venster uit.
Net toe spring ‘n grysbont kat op die tafel. Magrietjie skrik toe sy sien hoe die kat haar lippe aflek. Nee, dit kan nie wees nie, dink Magrietjie benoud.
Sy draf in die nou gangetjie af en ruik aan die toe deure, kom dan terug en kyk weer na die kat wat lyk of sy iets weet en nie wil sê nie.
“Samuel! Samuel!” roep Phillip, maar Samuel is nêrens nie.
Phillip gaan klop aan die deur van die musiekkamer. Die deur gaan oop.
“Is julle nog steeds hier, Phillip?” vra Alet met ‘n frons.
“Ja, Samuel is weg,” sê hy. “Die hamsterbal is oop, en daardie kat . . .” Hy beduie na die kat wat haarself sit en was op die tafel by die hamsterbal.
“Lady vang nie voëls nie. My kat kry oorgenoeg kos. Het jy al buite gekyk?” vra Alet.
“Nee, ek sal gou gaan kyk,” sê Phillip. “Miskien het hy na die sykar toe gegaan.”
Phillip is net weg toe Magrietjie skielik hoor: “Magrietjie . . .”
Magrietjie spits haar ore.
Die volgende oomblik vlieg die kat van die tafel af op en hardloop na die venster. Magrietjie spring om, net betyds om te sien hoe die kat teen die gordyn opklouter.
“Magrietjie. Magrietjie!” hoor Magrietjie vir Samuel skree.
Dan sien sy hom hoog op teen die bont gordyn sit. “Bly daar, Samuel!” roep sy.
Die kat is al halfpad op teen die gordyn. Magrietjie hap na haar agterpote.
“Kom af daar jou pes!” knor Magrietjie, “of ek byt jou poot morsaf. Daarvan sal jou baas nie hou nie. ‘n Kat sonder ‘n poot!”
“Auuuuu! Miaaauuu!” Die kat kyk af en kap met haar voorpoot na Magrietjie se neus. Magrietjie koes en wys haar tande. Sy hap weer na die kat en byt haar agterpoot raak.
“Iauuuu! Miaaaauuuu!” kerm die kat.
Die musiekkamer se deur vlieg oop.
“Wat gaan hier aan!” gil Alet verontwaardig.
Net toe spring die kat van die gordyn af, oor Magrietjie se kop, en gly-gly oor die vloer na die musiekkamer, tussen Alet se bene deur. Magrietjie spring agterna en stamp Alet dat sy dáár trek.
Samuel sien alles van waar hy hoog teen die gordyn sit, reg onder die gordynkap. Hy sien hoe kwaad Alet is. Dan hoor hy iemand op die trappe. Dis Phillip, en hy lyk moedeloos. Nou moet hy sy kans vat, dink Samuel.
“Uit! Uit!” hoor Samuel Alet vir Magrietjie skree.
Samuel vat sy kans en fladder van die gordyn af en duik tot op Phillip se kop.
“Samuel! Samuel!” roep Phillip bly uit. “Waar kom jy nou vandaan?”
“Maak nie saak nie. Jy doen dit net nie weer nie, Phillip,” raas Samuel. “Jy sit my nie weer in daardie bal op daardie tafel nie,” sê hy en tjorts sommer net daar op Phillip se kop.
“‘Skuus, kan nie help nie, Phillip. As ‘n kat so groot soos ‘n leeu jou jaag, sal jou maag ook omgekrap wees.”
Magrietjie kom aangedraf toe sy vir Phillip hoor. Sy sien vir Samuel op sy kop. “Dankie tog,” sug sy.
“Kom, Magrietjie, kom!” roep Samuel.
Net voor hulle by die trappe kom, is Alet agter hulle. Magrietjie weet sy is kwaad, want sy swaai haar vinger en sy praat hard.
“Jy los die hond en die voël by die huis wanneer jy volgende keer vir jou musiekles kom, Phillip,” sê Alet kwaai.
“Dis daardie kat . . . hy het vir Samuel skrikgemaak,” probeer Phillip verduidelik.
“Amper opgevreet!” skree Samuel. “Jy los my volgende keer in die sykar.”
“Dit . . . dit sal nie weer gebeur nie,” belowe Phillip vir Alet.
“Ek weet jy het groot geskrik, Samuel, maar jy doen dit nie op mý kop nie,” sê Magrietjie toe hulle met die trappe af loop na Phillip se fiets.
“Kon dit nie gehelp het nie,” sê Samuel. “Daardie kat het my baie groot laat skrik.”
Terwyl Phillip sy hare by die huis was, wag Magrietjie en Samuel in die sykar.
“Hoe het jy uit die hamsterbal gekom? Het Phillip dit nie goed toegmaak nie?” vra Magrietjie.
“Ja. Daardie simpel kat het die bal op die tafel met sy poot omgerol en toe gaan dit oop. Ek het amper al my vere weggeskrik, Magrietjie. Hy het sy poot deur die opening gesteek om my aan te keer. Ek was nog nooit so bang nie.”
“Wat doen jy toe?” vra Magrietjie.
“Daar’t ‘n kind aangekom en die kat geroep. Ek klim toe vinnig uit die bal en klouter teen die gordyn op. Ek het die hele tyd terwyl julle my gesoek het, agter die gordyn gesit,” sê Samuel. “Daardie kat kon my nie sien nie. Toe ek hoor Phillip gaan my by die sykar soek, was ek bang julle ry vir my weg. Dis toe dat ek agter die gordyn uitkruip.”
“Daardie kat was baie lus vir jou,” sê Magrietjie. “Sy het tot vir my kans gesien.”
“Jy het my gered,” sê Samuel. “Magrietjie, ek is lief vir jou.”
“Ja, ja. Maar nou gaan ons nooit weer kan luister hoe Phillip op die klavier oefen nie.”
Om die storie verder te lees:
Koop Die avonture van Magrietjie Swaaiboude deur Marianna Brandt

(Skrywer: Marianna Brandt)