Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 10: Die waarskuwing

“Ons moet vir jou ‘n huis kry, Mossoelie. Jy kan nie hier op die rots sit en slaap nie,” sê Takkie toe Mossoelie daardie aand op die rots sit en na die sterre sit en kyk. 
Mossoelie hoor hom nie eens nie. 
“Mossoelie, ek praat met jou,” sê Takkie en gooi sy glibberige lyf op die rots langs Mossoelie. “Waar is jou gedagtes vanaand hm?”
“Ek het die pêrel gekry, Takkie,” sê Mossoelie.
“Regtig!”
“Ja, die spookkrappe het dit opgetel. Hulle het dit onder die sand begrawe en sal mooi daarna kyk…”

“Maar dis wonderlike nuus,” sê Takkie, “Dis verskriklike wonderlike nuus. Nou moet ons net vir jou ‘n blyplek kry. Ongelukkig het ons strand nie sulke mooi skulpe soos die diepsee nie. Ek weet van ‘n pragtige rotsgrot. Wil jy gaan kyk?”
Mossoelie sit weer en kyk na die sterre en hoor nie wat Takkie sê nie.
“Mossoelie, het jy gehoor wat ek sê?” vra Takkie en sug, “Wat pla jou, my vriend?”
“Die pêrel.”
“Maar jy sê dan jy het die pêrel gevind en dat die spookkrappe dit vir jou oppas. Waaroor bekommer jy jou dan?”
“Dit het my gewaarsku, Takkie.”

“Gewaarsku?”
“Ja, toe ek daaraan raak word dit warm en skyn helderpienk. Dis ‘n waarskuwing oor iets, Takkie. Ek weet. Maar ek weet nie hoekom die pêrel my waarsku nie.” 
“Dit klink nie goed nie. Ek dink ons moet vir jou so gou as moontlik ‘n ander blyplek kry. Hier op die rots sal ‘n vyand jou maklik kan sien,” sê Takkie ernstig. 
“Waar is die rotsgrot?” vra Mossoelie.
“Naby my en Sanja s’n. Kom ek gaan wys jou. Jy sal baie daarvan hou,” sê Takkie.
“Goed dan,” sê Mossoelie en swem saam met Takkie tot onder op die bodem van die see, al op die sand langs. 

Hulle swem ‘n hele entjie van die plek af waar Mossoelie in sy skuphuis gewoon het. Dan swem Takkie om ‘n rots tot by ‘n opening: “Hier’s ons. Dis die plek, Mossoelie.”
“Kom ons gaan in,” sê Mossoelie opgewonde.
Takkie se lang arms gly deur die opening na binne. 
“Jy’s reg Takkie. Dis ‘n baie mooi blyplek,” sê Mossoelie, “Daar is tot ‘n venstertjie waardeur ek die mooi visse kan sien swem.”
“Sê dankie vir ou Takkie,” sê Takkie en lag gelukkig.
 “Baie dankie, Takkie. Hier sal geen vyand my in die hande kry nie,” 

“Kyk daar is ‘n plek vir ‘n seegrasmatras. Sanja het gesê sy sal sommer gou vir jou een maak. Ek het ook ‘n paar pragtige skulpe wat jy in jou huis kan sit,” sê Takkie, “Nouja, ek moet gou gaan kyk hoe ver Sanja is met die seegras matras. As sy klaar is sal ek dit vir jou bring.”
“Baie dankie, Takkie,” sê Mossoelie, “Sê ook baie dankie vir Sanja.”

“Sy’s ‘n oulike meisie nê,” sê Takkie, “Ek wil nie weer diepsee toe gaan nie. Ek wil hier by haar bly. Ons moet die werk wat Koningin Azurina vir ons gegee het goed dan sal sy ons nie weer terugroep diepsee toe nie. Ek is bly jy het die pêrel gevind, Mossoelie. Ek wil nie teruggaan nie. Ek en Sanja wil nog baie klein baba seekatjies hê.”
Mossoelie lag. “O, dis hoekom jy hier wil bly.”
“Ja, ja, natuurlik,” sê Takkie en lag te lekker, “Waar gaan ou Takkie weer so ‘n mooi meisie kry?” Toe swem hy uit die grot uit.

Mossoelie kan nie glo hy het weer ‘n huis nie. Hier gaan hy lekker bly, dink hy toe hy deur die venster na die pragtige vissies kyk wat verbyswem. 
Terwyl hy nog so staan en kyk en droom oor die mooi nuwe huis van hom, hoor hy iets agter hom ritsel. Hy draai om en toe hy hulle sien voel sy hele lyf lam. Voor him is vier visse met verskriklike groot bekke waarin verskriklike lang tande is. hulle lywe is baie kleiner as hulle koppe en baie dun en aan hulle sye is daar liggies. Op hulle koppe is daar steeltjies met liggies. Hulle oë is groot en rooi.
“W..w..wie is julle?” vra Mossoelie.

Die vier aaklige visse bars uit en lag en toe sien hy hoe lank hulle tande regtig is en hy is bang. 
“Ons, liewe maatjie, kom van Donkersee. Duiwelvis het ons gestuur. Waar is die pêrel?”
“E…ek het dit nie,” sê Mossoelie.
Die vier visse bars weer uit en lag. “Dit weet ons. Waar is dit?”
“Ek..e..ek weet nie,” sê Mossoelie.
“Jy weet!” skree die een vis in sy gesig. Mossoelie kan tot diep in sy keelgat sien. 
“E..e..ek weet nie. Dis weg,” sê Mossoelie.
“Weg? Ons weet dis weg. Maar jy weet waar dit is. Jy steek dit weg,” sê ‘n ander vis.

“As jy dit nie vir ons gee nie, kom jy nie lewendig uit hierdie grot nie. Duiwelvis wil die pêrel hê,” sê ‘n ander een.
“Die pêrel het ‘n boodskap uitgestuur. Duiwelvis het die boodskap in die Donkersee ontvang. Hy sê as die pêrel vir ‘n lang ruk uit die see is, stuur dit die boodskap uit. Die pêrel is iewers op die strand en jy weet waar,” sê die ander vis en hap na hom. 
“E..ek weet nie waar dit is nie,” sê Mossoelie. En hy is so bly hy het nie die pêrel by hom nie. 
“Jy weet waar dit is. As jy ons nie wil sê nie, of die pêrel vir ons gaan haal nie, is jy in groot moeilikheid. Ons gaan jou vang en saam met ons na Donkersee neem. Sal jy daarvan hou?” vra een van die visse.

“Nee..e..nee, gaan weg!” skree Mossoelie.
Skielik is die grot pikdonker en Mossoelie kan net die liggies op die visse se lywe sien en die aan die steeltjies op hulle koppe.
Dan hoor hy roggelgeluide. 
“Ek…ek…kan…nie ….asem…kry…nie. Uhg…uhg…..” hoor hy en na ‘n rukkie sien Mossoelie nie meer die liggies nie… Hy sien net die donker om hom.
“Mossoelie?” hoor hy.
“Takkie…e..waar is jy?” var Mossoelie.
“Hier,” roep Takkie, “Hulle haat seekat-ink. Dit maak hulle blind en lam.”
“Waar is hulle nou?” vra Mossoelie want hy kan nog nie mooi om hom sien nie.
“Ons sal netnou kan sien of hulle dalk hier dood lê,” sê Takkie en lag te lekker, “Hier is die seegrasmatras wat Sanja gemaak het.”

“O, dankie Takkie,” sê Mossoelie en hy voel nog steeds bewerig. 
Takkie se swart ink verdwyn stadig. Mossoelie kyk in die grot rond en toe sien hy die twee grootbekvisse op die grond lê.
“Hulle is dood. Vanaand kan jy lekker slaap, Mossoelie,” sê Takkie.
“Daar was vier van hulle, Takkie,” sê Mossoelie benoud, “Hier is net twee…waar is die ander twee dan?”
“Wat sê jy, Mossoelie?” 

“Ja, daar was vier van hulle,” sê Mossoelie.
“Dan is jy nie veilig hier nie,” sê Takkie, “Kom saam met my.”
Net buite die grot sien Mossoelie twee pare groot oë van agter ‘n seevaring vir hulle loer en hy skrik….

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x