Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 11: Hoekom stink die see so?

“Takkie…e..het jy hulle gesien?” vra Mossoelie benoud toe hulle wegswem.
“Wie?” vra Takkie.
“Die ander twee?” Mossoelie se oë soek nou agter elke seevaring en graspol op pad na Takkie en Sanja se grot. 
“Jy meen die ander twee grootbekke?” vra Takkie en lag, “Hulle sal nie nou naby ons kom nie.” 
“Ja, nie as jy saam met my is nie. Onthou, ek het nie iets soos swart ink nie,” sê Mossoelie.

“Ek sal maar na jou moet kyk. Jy is in gevaar hulle dink jy het die pêrel en hulle wil dit hê,” sê Takkie, “Ek dink jy moet nie alleen rondswem nie. As ek gaan kos soek, bly jy by Sanja. Sy het ook ‘n inkwapen.”
“Goed, ek sal,” sê Mossoelie.
Toe hulle naby die grot waar Sanja en Takkie woon kom, word die seewater skielik donker. 
“Hier’s moeilikheid,” sê Takkie en swem in die grot in, “Sanja! Sanja!…Sanja!”
Hulle swem deur die grot. Skielik hoor hulle
nare roggelgeluide, net soos die geluide wat die grootbekke gemaak het in Mossoelie se grot. 
“Sanja! Sanja!” roep Takkie maar sy antwoord nie. Hy swem laag op die bodem en toe sien hulle die baie grootbekke. Hulle hyg en roggel. 
Mossoelie se oë rek. 

“So baie?” 
Toe hulle weer buite die grot kom hoor hulle vir Sanja huil. 
“Waar is jy?” vra Takkie en soek tussen die seevarings.
“Hier!” snik Sanja.
“Wat..e..wat het gebeur?” vra Takkie toe hy vir Sanja sien.
“Hulle was verskriklik. Hulle het na my tentakels gehap. Ek moes toe my wapen gebruik,” snik sy.
“Ek is bly jy het,” troos Takkie.
“Ons kan nie hier bly nie,” sê Sanja, “Hier is baie van hulle. Hulle is orals.”
“Dit lyk soos ‘n aanval van Donkersee,” sê Mossoelie, “Ek is so bly ek het nie die pêrel by my nie.”
“Waar kan ons heengaan?” vra Takkie, “Ek ken nie die strand so goed nie.”
“Die veiligste plek sal seker die seetuin wees,” sê Sanja, “Maar, ek weet ook nie. Ruik julle hoe ruik die see?”

“Ja, dit ruik sleg vandag. Hoekom ruik dit so sleg?” vra Mossoelie.
“As dit is wat ek dink, is dit verskriklik. Toe die see laas so gestink het, het baie krappe, krewe en seekatte dood gegaan hier op die strand tussen die rotse.”
“Regtig?” sê Takkie, “Wat kan ons doen?”
“Ons moet die krappe en krewe gaan waarsku en almal wat ons teëkom,” sê Sanja.
“Wat moet ons vir hulle sê?” vra Takkie.
“Ons moet vir hulle sê hulle moet wegkom van die strand af. Hulle moet dieper in die see ingaan, daar waar nie rotse is nie,” sê Sanja bekommerd.

“Ek onthou nog hoe dit was toe die see so gestink het. Die krappe, krewe en ons almal kon nie asem kry nie. Baie het dood gegaan. Baie het op die strand uit geloop en toe daar dood gegaan. Dit was verskriklik,” sê Sanja, “Ek het saam met my ma-hulle dieper in die see in geswem. Ons het lank daar gebly tot die strand weer skoon was.”
“Dan moet ons dadelik vir almal gaan waarsku,” sê Mossoelie, “Daardie grootbekke moet nie hiervan hoor nie, hoor julle almal.”

Takkie, Sanja en Mossoelie swem dadelik strand toe. Hulle loer onder elke rots in, agter elke seevaring. Orals waar hulle krappe en krewe kry, waarsku hulle: “Swem dadelik dieper in, weg van die rotse af!”
“Hoekom is die seeskuim so ‘n vuilgroen?” vra Moessoelie toe hulle ‘n bietjie op een van die rotse rus.
“Dis die rooigif. Dit maak die mossels ook dood,” sê Sanja, “My pa en ma het my vertel.”
“Kan ons die mossels eet?” vra Takkie.
“Nee, jy sal siek word,” waarsku Sanja.

“Wat gaan ek dan eet?” vra Takkie bekommerd.
“Daar sal kos wees dieper in,” sê Sanja, “Ek kan nie onthou dat daar nie was toe ek en my pa en ma soontoe moes vlug nie.”
“Is dit waar?” vra ‘n klein krappie wat verskrik onder ‘n rots uitloer, “Sal ons doodgaan as ons nie diepsee toe vlug nie?”
“Ja, julle sal. Die rooigif sal ons almal doodmaak,” waarsku Sanja, “Ruik jy nie hoe sleg ruik die see nie?”
“Dan moet ons seker vir almal gaan vertel,” sê die krappie en swem vinnig weg.

Mossoelie, Takkie en Sanja waarsku almal wat hulle raakloop. Hulle gaan maak ook ‘n draai in die seetuin. ‘n Kluistenaarskrap is baie ongelukkig toe hy die slegte nuus hoor.
“Hoe lank gaan die see so stink?” vra hy en sug moedeloos, “My huis raak nou baie klein. Ek moet ‘n nuwe een soek. Ek kan nie so lank wag nie. Daar is baie skulpe maar hulle is gewoonlik te klein of the groot. Dit neem lank om die regte skulp te kry.”
“Wat kerm jy weer so oor ‘n huis?” sê ‘n ouman krap, “Jy het mos nie ‘n huis nodig nie. Jy’s net bang, dis hoekom jy gedurig ‘n skulp soek om in weg te kruip.”

“Ag Oompie Krek, dis nie waar nie,” sê die kluisenaarskrap, “Dis maar hoe ek is.”
“Waarvan praat julle?” kom vra ‘n mooi meisie-krap.
“Van die stink see,” sê ‘n ander krappie wat die hele tyd na hulle geluister nie.
“Die stink see! Ja, daar is baie stories oor die stink. Ek glo niks daarvan nie,” sê die meisie-krappie, “Dis sommer bangmaakstories.”
“Bangmaakstories!” vra Mossoelie. Hy kan nie glo dat daar sulke dom krappe is soos die meisie-krappie nie. “Hoekom sal ons jou wil bangmaak? Ons praat die waarheid. As jy nie na ons wil luister nie, moet jy maar sien wat gebeur.”
“Nou goed dan,” sê die krappie. “Wat moet ons doen?”
“Sê vir almal wat jy ken hulle moet wegkom van die rotse af en diepsee toe swem,” sê Mossoelie.
“Ek sal, ek belowe,” roep die krappie toe sy wegswem en agter ‘n seeroos in verdwyn.

Nie lank nadat Takkie, Mossoelie en Sanja vir die krappe, krewe en visse en almal wat kan doodgaan van die rooigif vertel het nie, sien hulle hoe honderderde, duisende krappe en krewe uit die rotsegate kruip en diepsee toe swem. 
“Wat van die krappe wat in die waterpoele tussen die rotse naby die strand woon?” vra Sanja bekommerd.
“Ja, ons kan hulle nie laat doodgaan nie,” sê Mossoelie, “Koningin Azurina sal my nooit vergewe nie.”
“Goed dan,” sug Takkie, “Ons sal moet gou maak. Die strand is groot en daar is baie waterpoele.”

“En wat van die grootbekke?” vra Sanja, “Ons moet sorg dat die nuus nie by hulle uitkom nie.”
“Ja, dis baie belangrik,” sê Mossoelie, “As die grootbekke hiervan hoor, vlug hulle ook diepsee toe en dan is ons baba-krappies in gevaar. Die grootbekke sal hulle almal opvreet. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.”
“Nee, ons kan nie,” sê Sanja, “Dit sal net so erg wees as die rooigif.”

Toe swem hulle strand se kant toe, na die rotspoele. Baie krappe het al uit die water geklim en sit op die rotse.
“Hoekom sit julle hier?” vra Mossoelie ‘n krap.
“Ek kan amper nie asemhaal in die water nie. Ek weet nie of ek siek is nie,” sê die krap, “En hier op die rots sal ek ook nie vir lank kan sit nie.”
“Jy moet dadelik saam met ons kom. Sien jy hoe vuil is die skuim?,” vra Mossoelie.

“Ja…ek sien. Dit lyk of die mossels siek is,” sê hy.
“Ja, die gif in die see maak die mossels siek,” sê Mossoelie.
“Is dit rooigety?” vra die krappie verskrik, “Ek weet wat dit is. Dis vreeslik gevaarlik. Ons kan nie die mossels eet nie.”
“Ja, dis rooigety. Jy is reg, dis baie gevaarlik om die mossels en ander seekos te eet. Dis baie giftig,” sê Sanja, “Kom, ons moet gaan. Daar is ook gif in die water. Dis hoekom julle moeilik asemhaal.”
“Dan moet ons eers al die ander krappe gaan waarsku,” sê die krap, “Hulle weet nie hiervan nie.”
“Daar is min tyd, my vriend,” sê Takkie, “Ons sal moet opskud.”

Hulle swem na al die waterpoele en waarsku al die krappe en krewe en visse en toe is dit soos ‘n groot trek soos hulle almal na die diepsee toe swem.
Mossoelie het nooit geweet daar is so baie krappe en krewe en visse in die see van Silwerstrand nie. Tot waar hy nie meer kan sien nie, is daar krappe en krewe en visse en nog steeds kom daar nog en nog en nog. En hy sien nie een grootbek nie.
“Hoe lank moet ons hier bly?” vra een van die krewe na ‘n paar dae en nagte weg van die rotse by die strand. 
“Ek en Takkie sal gaan kyk of dit veilig is om terug te gaan,” sê Mossoelie.
“Ja, ja,..gaan asseblief,” roep die krappe uit, “Ons is moeg van die diepsee.”

Toe Mossoelie en Takkie by die rotse kom, sien Mossoelie vir Kwikker. Hy vlieg laag oor die rotse en kom land, wip sy stert op en af van opgewondenheid.
“Mossoelie…e..Takkie…ek is so bly om julle te sien. Ek het gedink die rooigety het julle dood gemaak.”
“Nee, hier is ons,” sê Takkie.
“Al ons krappe is dood…maar ek kan dit nie verstaan nie, daar lê net hier en daar ‘n ou krap op die strand doo,” sê Kwikker.
“Maar dis wonderlike nuus,” sê Kwikker.
“Maar dis wonderlike nuus,” sê Takkie en loer na Mossoelie, “Ons het ons werk goed gedoen.”
“Wat bedoel julle?” vra Kwikker en trippel nuuskierig op die rots rond.

“Ons het al die krappe en krewe diepsee toe gestuur. Hulle sal weer terugkom,” sê Mossoelie.
“Dis goeie nuus…baie goeie nuus,” sê Kwikker en wip sy stert op en af van opgewondenheid, “Ek is tog te bly, want ‘n strand sonder krappe en krewe is mos nie ‘n strand nie. Mossoelie, kom, klim op my rug. Ek wil jou iets gaan wys.”
Mossoelie kan nie wag om weer op Kwikker se rug te klim nie. Toe Kwikker se pote van die rots af oplig en hulle deur die vars seelug vlieg, voel Mossoelie weer so vry soos ‘n voëltjie.
“Kyk daar!” roep Kwikker toe hulle laag oor die strand vlieg. 
Mossoelie se oë rek want wat hy sien, kan hy amper nie glo nie….

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x