Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 12: Die strand is gevaarlik

Toe hulle oor die strand wat altyd wit skitter in die oggendson vlieg, kan Mossoelie niks wit sand sien nie. Kwikker duik skielik af. Toe sien Mossoelie wat op die strand lê en hy skrik.
“Grootbekke!” roep hy uit, “Kyk hoe lê die grootbekke!” Nog nooit het hy soiets gesien nie. Die hele strand lê vol dooie grootbekke. So baie, hy kan nie die wit seesand van Silwerstrand sien nie. Hy kan ook nie die plek sien waar die krappe bly wat sy pêrel vir hom wegsteek nie.
“Waar is die plek waar die pêrel is?’ vra Mossoelie benoud toe sy oë tussen die geraamtes van grootbekke soek terwyl hulle laag oor die strand vlieg, “Hier is so baie grootbekgeraamtes.”

“Kwikker! Mossoelie!” hoor hulle skielik iemand van die strand af roep. 
Toe sien hulle ‘n kwikstertjie tussen die grootbekke. Hy wip sy strert vinnig op en af en roep vir hulle om te kom.
“Wat is sy probleem?” sê Kwikker.
“Ons moet seker gaan kyk,” sê Mossoelie, “Ek kan nie eintlik baie doen sonder my pêrel nie.”
“Ek weet..ek weet,” sê Kwikker, “Miskien het jy nie jou pêrel nodig nie. Maar ek dink ons moet net gaan sekermaak dat dit nog veilig is.”
Hulle land op die sand, vlak voor die groot oop bek van een van die grootbekvisse. Sy oë kyk stil en morsdood voor hom uit. Dis die eerste keer wat Mossoelie so naby ‘n grootbek se tande is. En in sy keelgat kan kyk. 

“Weet jy Kwikker, hierdie een sal maklik ‘n baba-krap kan insluk sonder om dit te kou.”
“Ek wil dit nie hoor nie, ek wil dit nie hoor nie,” sê Kwikker terwyl hy vooruit skarrel na die kwikstertjie wat vir hulle geroep het. 
“Kom help my asseblief, Kwikker. Hierdie vreeslike visse lê bo-op die deur van ‘n krap se huis. Hy kan nie uitkom nie,” sê die ander kwikstertjie.
Dan sien Kwikker ‘n pienk lig onder die grootbek op die wit sand. 
“Dis die krappe wat jou pêrel bêre se huis,” sê Kwikker. Dankie dat jy vir ons laat weet het, Veertjie,” sê Kwikker, “Ons sal die krappe help. Jy kan maar gaan.”
“Goed dan,” sê Veertjie, “Ek sal ‘n draai oor die strand vlieg. As ek julle nodig het om my te help, sal ek julle roep.”

Toe vlieg Veertjie weg.
Mossoelie kyk na die gedrogte wat met hulle groot koppe op die deur van die krappe se huis lê.
“Ek sal hulle nie alleen kan wegskuif nie,” sê hy vir Kwikker, “Ek is sonder my pêrel nie so sterk nie.”
“Kom ons kyk,” sê Kwikker, “Kom ons trek eers aan hierdie een se stert.”
Toe trek Kwikker met sy bek en Mossoelie bult die spiere in sy arms en trek. Na ‘n rukkie beweeg die grootbek. 
Hulle trek hom voor die deur van die krappe se huis weg. Mossoelie sien die pienk lig van die pêrel en hy is so bly.

“Julle kan maar uitkom!” roep hy vir die krappe.
Na ‘n rukkie kraak die grond en toe sien Mossoelie die knyper van ‘n krap uitsteek. En nie lank daarna nie, sy oë, en toe die lyf van die spookkrap wat die pêrel vir Mossoelie oppas.
“Wat het hier op die strand gebeur?” vra hy en vee seesand uit sy oë, “Kyk hoe lyk dit. In my hele lewe het ek nog nooit soiets gesien nie. Nog nooit het ek sulke vreeslike visse gesien nie. En ek is al baie, baie lank hier op Silwerstrand.”
“Die see was omgekrap,” sê Kwikker, “Daar was te veel nare vreemde visse soos hierdie met die groot bekke hier op Silwerstrand. Toe word die see omgekrap en kwaad en giftig.”
“O, is dit so,” sê die spookkrap en kyk om hom rond, “Ek wou sê, dit het ek nog nooit gesien nie.”

“Wat is jou naam, spookkrap?” vra Mossoelie en hy voel eintlik skaam dat hy nog nie gevra het nie.
“Naam?” vra die spookkrap en hy begin skud soos hy lag, “My naam is Gees.”
“Gees? Dis ‘n snaakse naam,” sê Mossoelie.
“Dis ‘n ander naam vir spook, sien,” verduidelik Spookkrap, “Ek het amper gedink ek is ‘n gees toe ek al die nare visse hier op ons strand sien.”
“Gees, ek het my pêrel nodig,” sê Mossoelie, “Ek en Kwikker het baie werk hier op die strand vandag en ek kan hom nie help sonder my pêrel nie.”
“Jou pêrel..e..o ja,” sê Gees, “Ek weet nie hoe gelukkig die ander sal wees hulle weet jy wil die pêrel hê nie. Dit is ons daglig onder die sand.”
“Ek weet,” sê Mossoelie, “Ek is baie bly dat julle so mooi daarna kyk. Ek sal dit weer terugbring. Hier onder die sand is dit baie veiliger as in die see.”

“Dan is dit goed,” sê Gees, “Wag net hier, ek gaan dit gou haal.” 
Toe grawe Gees in die sand in en toe hulle weer sien is hy weg. 
Na ‘n hele rukkie se wag, sien Mossoelie die pienk lig van die pêrel al helderder onder die sand word en hy weet dis Gees wat dit uitbring.
“Hier kom die pêrel, Kwikker,” sê Mossoelie opgewonde en hy kan nie wag om die towerpêrel weer om sy nek te hang en te voel hoe die krag in sy arms en bene kom nie. 
Toe hulle weer kyk staan Gees voor hulle met die pêrel in sy kloue.
“Hier’s hy,” sê Gees en gee vir Mossoelie die pêrel.
“Baie dankie Gees,” sê Mossoelie en hang dit om sy nek, “Ek sal dit weer terugbring. Ek belowe.”
“Is jy reg?” vra Kwikker toe.

“Ja,” sê Mossoelie en klim op sy rug. 
Toe waai hulle vir die krap en vlieg van die strand af op, maak ‘n wye draai en vlieg laag oor die strand sodat Mossoelie mooi kan sien as enige iemand in die moeilikheid is. 
Skielik hoor hulle: “Mossoelie! Kwikker!”
“Kwikker, hoor jy wat ek hoor?” vra Mossoelie toe hy dit vir die tweede keer duidelik hoor.
“Ja,..e..ek hoor. Wie roep so?” vra Kwikker.
“Ek weet nie, maar dit kom hier van die strand af,” sê Mossoelie. En toe hy dit weer heer is dit sommer naby. 
Hulle gaan sit. Mossoelie klim af.
“Waar is jy?” roep hy en hardloop tussen die dooie grootbekke deur. Hy kyk nie na die aaklige koppe met die groot uitpeuloë nie, hy wil hulle nie sien nie. Hy hardloop agter die stem aan van die een wat vir hulle roep.

“Mossoelie!” roep iemand dan skielik reg agter Mossoelie, “Hier’s ek.”
“Wie..e..?” vra Mossoelie, draai in sy spore om en kyk rond.
“Hier!” 
Toe sien hy vir Veertjie en ‘n baba-kwikstertjie. 
“Mossoelie, jy moet ons help. Die kind het binne in die bek van die vis beland. Haar voet sit vas. Ek het dit probeer loskry maar ek kan nie. Kan jy asseblief help?”
“Ek sal probeer,” sê Mossoelie en vryf die pêrel om sy nek wat nou in die oggendson pienk en groen en geel skitter. 
Toe klouter Mossoelie in die groot bek van die grootbek. Die baba-kwikstertjie se stert sit vasgeknyp in die kakebeen van die grootbekvis. Mossoelie vryf die pêrel. Sy bo-arms word sterker en sterker en toe staan hy regop en rek hom uit en stoot teen die verhemelte van die grootbekvis, so hard dat sy bek groot oopkraak. 

“Trek jou stert uit!” roep Mossoelie vir die baba-kwikstertjie, “Veertjie, trek die kleintjie se stert uit!”
Veertjie wip vinnig tot agter in die bek van die grootbekvis en trek die baba-kwikstertjie se stert uit waar dit vassit.
“Is dit uit?” roep Mossoelie na ‘n rukkie terwyl hy nog steeds met sy arms die bek van die grootbekvis oophou.
“Ja, dankie Mossoelie,” sê Veertjie, “Donsie is los.”
“Dankie tog,” sug Mossoelie. 
Die baba-kwikstertjie wip-wip vinnig uit en toe laat sak Mossoelie sy arms.
“Hier’s darem baie van hierdie aaklige visse. Dis so moeilik om die kleintjies weg van die strand af te hou,” sê Veertjie. 

“Ja, hier is baie,” sê Kwikker, “Maar môre sal jy sien is net hulle geraamtes oor. Daar is baie meeue wat lekker gaan kom feesvier.”
“Ja, ja…Kwikker is reg,” sê Veertjie, “Die meeue hou van vis. Hierdie grootbekvisse sal sommer gou-gou verdwyn. Net hulle grate sal oorbly.”
“Ek is bly om dit te hoor,” sê Mossoelie en kyk weer oor die strand. Hy is so bly die grootbekke is nie meer in die see nie. 
“Waar kom hulle vandaan?” vra Veertjie, “Ek het nog nooit sulke lelike visse gesien hier by ons nie.”

“Hulle kom van die diepsee af. Nie daar waar ek vandaan kom nie. Hulle is Donkersee se visse. Duiwelvis is hulle koning,” sê Mossoelie.
“Duiwelvis!” roep Veertjie uit, “Ek het al van hom gehoor. Maar wat kom maak sy visse hier by ons?”
“Hulle soek iets,” sê Kwikker, “Maar dis ‘n geheim wat niemand van mag weet nie…”

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x