Hoofstuk 13: Die voël wat nie kan vlieg nie.
Dis vanoggend koud en die windjie waai misdruppels uit die branders wat strand toe rol. Die strand is weer skoon. Daar is nie ‘n teken van die grootbekvisse nie, net skulpe en bamboes.
Mossoelie sit op die rots en kyk oor die strand en hy dink. Was dit nie vir Gees nie, was die pêrel nou in Duiwelvis se Donkersee. Hy wil liewer nie daaraan dink nie.
“Mossoelie! Mossoelie!” hoor hy Kwikker dan skielik hier bo sy kop en dan kom land die kwikstertjie op die rots langs hom.
“Haai Kwikker,” sê Mossoelie, “Is iets verkeerd dat jy so vroeg al vir my kom kuier?”
“Nee…e..ja, iets verkeerd? E…ja,” sê Kwikker en toe hy sy asem terug het sê hy, “Jy moet saam met my kom.”
“Waarheen?” vra Mossoelie, “Ek het vir Takkie belowe ons gaan Seetuin toe vanoggend.”
“Nee, vergeet van die Seetuin, Mossoelie. Jy kom nou saam met my,” sê Kwikker en wip sy stert, “Toe, maak gou. Klim op.”
Mossoelie staan lui van die rots af op en klim op Kwikker se rug. Toe lig die kwikstertjie sy pote en sprei sy vlerke en vlieg ‘n draai oor die see en dan noord, al langs die strand op.
“Waarheen gaan ons?” vra Mossoelie, “Onthou, as ek weer iemand moet red, moet ons eers my pêrel by Gees gaan haal.”
“Ja, ek weet. Maar kom ons gaan kyk eers of jy die kêrel kan help,” sê Kwikker.
“Is dit weer ‘n kwikstertjie wat iewers vassit?” vra Mossoelie.”
“Nee, dit is nie. Ek sou jou mos gesê het,” sê Kwikker en toe duik hy skielik af strand toe.
Hulle land op die strand.
“Waar is hy nou?” vra Kwikker,wip sy stert op en af en kyk om hom rond, “Hy het gesê hy wag vir my.”
“Van wie praat jy?” vra Mossoelie.
Kwikker kyk na Mossoelie en toe sê hy: “Jy sal my tog nie glo as ek jou sê nie, Mossoelie. Jy moet dit liewer self sien.”
“Nog ‘n grootbek?” vra Mossoelie.
Kwikker giggel. “Nee man, ‘n vis is mos nie ‘n voël nie.”
“Nou maak jy my baie nuuskierig,” sê Mossoelie en terwyl hulle nog so gesels hoor Mossoelie skielik iets agter hom.
“O..e..daar is jy,” sê Kwikker.
Mossoelie draai om en toe sien hy die snaakse groot voël, eintlik ‘n reuse voël en hy wonder hoe hy so ‘n reuse voël kan help.
“Mossoelie, dis van hom wat ek jou vertel het,” sê Kwikker dan, “E…sê my, watse soort voël is jy?”
“Ek…ja, julle het seker nog nooit ‘n voël hier op julle strand gesien wat soos ek lyk nie, nê,” sê die voël en lag.
“Nee, nog nooit nie,” sê Kwikker, “Het jy, Mossoelie?”
“Nee, nog nooit nie,” sê Mossoelie, “Watse soort voël is jy dan? Jy is nie ‘n seemeeu nie. Kwikker sê jy kan nie vlieg nie.”
“Ja, ek kan nie vlieg nie. Ek wens elke dag ek kon vlieg. As ek kon vlieg, was dit vir my baie makliker om weg te kom,” sê die voël en bars dan in trane uit.
“Ag nee, hoekom huil jy nou?” vra Kwikker, “Ons wil jou help.”
“Ek sal baie bly wees as julle kan,” sê die voël, “Sien, ek is ‘n pikkewyn. My naam is Piketo. Ek woon baie ver hiervandaan….ek moes vlug. Dit was vreeslik in die see. Daar was baie robbe en haaie en ag, ek wil nie eens daarvan praat nie,” sê die pikkewyn en huil dan weer dat die trane eintlik klein poeletjies in die sand voor hom maak.
“Hoekom het jy hiernatoe gekom, Piketo?” vra Kwikker nuuskierig.
“Oor die see daar by ons swart geword het,” sê die pikkewyn en dit lyk of sy haarself nou nie kan glo nie, “Ja..e..dit het.”
“Wat?” vra Mossoelie. Hy het nog nooit gehoor dat die see swart kan word nie.
“Net soos ‘n swart mossel?” vra Kwikker verbaas.
“Ja,…net so,” sê Piketo en pof haar vere toe die koue wind ‘n bietjie sterker begin waai.
“Swart?” Mossoelie krap met sy vinger tussen die krulle op sy kop en dink, “Het die visse ook gevlug?”
“Seker, want hulle sal ook net soos baie van die pikkewyne dood gegaan het,” sê Piketo en trane val weer uit sy oë. “Die see het aan hulle vasgesit. Ek jok nie. Aan hulle vere en pote en als. Ek het weggeswem van die swart see af, so vinnig as wat ek kon sodat dit my nie kon vang nie.”
“Dis vreeslik,” sê Kwikker met groot oë, “Het jy alleen gevlug?”
“Nee…maar ek het nie die ander gesien nie. Ek weet ook nie of my susters en broers weggekom het nie. Ek weet nie of die robbe of haaie hulle langs die pad opgevreet het nie…ek weet nie,” sê Piketo.
“Wat het die see so swart gemaak, Piketo?” vra Mossoelie.
“Ek weet nie. Toe ons een oggend opstaan om te gaan eet toe sien ons alles is swart. Die rotse en die see. Daar was ‘n groot wit skulp op die see. Die ou pikkewyne het gesê dis daardie groot skulp wat die see so swart gemaak het,” sê Piketo, “Maar ek weet nie…ek weet nie.”
Mossoelie kyk na Kwikker. “Groot skulp?”
“Ja, ‘n baie groot skulp,” sê Piketo, “Julle het seker nog nooit so ‘n groot skulp gesien nie.”
“Maar hoekom sal die skulp die see swart maak?” vra Kwikker, “Hoe?”
“Ek weet nie. Maar dit het en dit sit aan alles vas. Ons pote en vlerke. Ek het ook pikkewyne gesien wat net omgeval en doodgegaan het toe hulle in die swart see geval het. Hulle hele lyf was swart, net hulle oë nie,” sê Piketo, “Ek sal nie nou kan teruggaan nie. Die see sal nog swart wees. En daardie groot skulp sal nog daar wees.”
“Jy kan maar hier op ons Strand bly solank soos jy wil. Ek sal vir al die ander voëls sê jy is hier,” sê Kwikker.
“O..e..dankie. Ek sal weer teruggaan maar ek weet nog nie wanneer nie, want ek weet nie wanneer die see weer reg gaan wees daar waar ek woon nie,” sê Piketo en kyk noord, daar waar sy vandaan gekom het.
“Wat eet jy, Piketo?” vra Mossoelie nuuskierig.
“E..ek eet vis en ander kos wat in die see is vir pikkewyne,” sê Piketo.
“O, dan is jy nie ‘n voël soos ek nie,” sê Kwikker, “Ek het so gedink.”
“Ek sal my eie kos vang,” sê Piketo, “Julle hoef nie na my te kyk nie. Ek wil net hier bly tot my strand weer skoon is en nie meer swart nie.”
“Jy kan,” sê Mossoelie, “Slaap jy in die see?”
“Nee, ek is ‘n voël. Ek slaap op die strand,” sê Piketo, “Ek sal vir my ‘n plekkie kry om te slaap. Julle moet nie oor my bekommerd wees nie. Baie dankie, julle ouens.”
“Goed dan,” sê Mossoelie, “Ons sal weer môre kom kyk hoe dit met jou gaan.”
“Ja…julle moet. Ek sal net hier wees,” sê Piketo.
Toe klim Mossoelie op Kwikker se rug en vlieg terug na die rotse waar Kwikker hom gekry het.
“Dis ‘n anderster voël daardie, Mossoelie,” sê Kwikker, “Sy praat van ‘n groot wit skulp wat die see swart gemaak het. Kan dit waar wees?”
“Ek weet nie. Ek het nog nooit so ‘n skulp gesien nie.
Vroeg die volgende oggend is Kwikker weer by Mossoelie op die rotse.
“Kom ons gaan kyk hoe sit met Piketo gaan,” sê hy, “Sy het mos gesê ons moet kom.”
“Ja, sy het,” sê Mossoelie, skud die water na ‘n lekker vars oggendbad van sy lyf af en klim op Kwikker se rug.
Hulle vlieg weer noord.
“Vandat die grootbekke weg is van Silwerstrand af is dit stil hier en niks om te doen nie,” kla Kwikker, “Ek wens die see wil ook hier so skielik swart word.”
“Nee,” sê Mossoelie, “Moet nie dit sê nie. Dit kan iets verskrikliks wees. Jy moet dit nooit wens nie, Kwikker.”
“Oukei, ek maak net ‘n ou grappie,” sê Kwikker, “Wat anders kan dan tog gebeur. Ek soek iets om te doen, Mossoelie.”
Na ‘n rukkie duik Kwikker af en gaan sit op die strand waar hulle vir Piketo die vorige dag gelos het.
“Piketo! Piketo! Piketo!” roep Mossoelie en dan roep Kwikker weer. Maar hulle sien die pikkewyn nêrens nie.
Hulle kyk orals. Hulle gaan kyk by die rotse, in die waterpoele tussen die rotse en roep maar kry nie ‘n antwoord nie.
Toe hulle weer roep, hoor hulle: “Hier! Hier! Hier!”
“O daar is jy!” roep Mossoelie. Hy sien vir Piketo verder op teen die strand. “Wat maak jy daar?”
“Kom ons gaan kyk,” sê Kwikker.
Toe hulle daar kom sien hulle vir Piketo op iets sit.
“Wat maak jy hier, Piketo?” vra Kwikker.
“Ek het nie geweet ek gaan hier broei nie,” sê Piketo en lig haar lyf van haar nes af.
“Haai, jy het twee eiers gelê,” sê Kwikker, “Twee mooi eiers.”
“Ek is so bly. Ek is so bly,” sê Piketo, “My kinders kon dood gewees het as hulle daar gebore was. Hulle sou nooit kon wegswem van die swart see af nie.”
“Ek is so opgewonde, Piketo,” sê Kwikker.
“Ek ook…maar, is hier seemeeue?” vra Piketo.
“Ja….baie,” sê Kwikker, “Is jy vriende met hulle?”
“Nee, hulle is my grootste vyande. Ek weet nie wat ek gaan maak nie. Ai, ek weet nie,” sê Piketo en sy lyk sommer baie bang.
“Regtig,” sê Mossoelie.
“Ja, hulle sal my eiers steel. Ja, hulle doen dit. Hulle eet pikkewyneiers,” sê Piketo.
“Ek het ‘n plan, Piketo. Ek en Mossoelie sal na jou eiers kom kyk wanneer jy see toe wil gaan om te gaan eet. Ons sal elke dag kom,” belowe Kwikker.
“Ja, ons sal,” sê Mossoelie, “Jy kan nie toelaat dat die seemeeue jou eiers steel nie.”
“Dankie julle,” sê Piketo, “Sal julle nou vir ‘n rukkie na hulle kyk. Ek is baie honger.”
“Ja..gaan vang vir jou ‘n vis,” sê Kwikker.
“Dankie julle gawe ouens,” sê Piketo, staan van die eiers af op en waggel see toe.