Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 14: Die babawagters

Elke dag vlieg Mossoelie saam met Kwikker na Piketo, die pikkewyn wat na Silverstrand toe gevlug het toe die see, daar waar sy vandaan kom, skielik swart geword het. Piketo is bly sy het gevlug. Sy het twee pragtige eiers op die wit sand van Silverstrand gelê en nou moet sy elke dag, die hele dag op hulle sit om hulle warm te hou en vir ‘n pikkewyn is dit nie maklik nie. Nie as daar honger seemeeue die hele tyd rondvlieg en wag dat sy moet opstaan om te gaan eet nie. 

Mossoelie sit op die rots en kyk strand se kant toe. Hy sien nie vir Kwikker nie. Kwikker is vanoggend laat. Piketo is seker al baie honger, dink Mossoelie. 
“Mossoelie! Mossoelie…hier’s ek! Hier’s ek!” skree Kwikker toe hy aangevlieg kom en dan skielik langs Mossoelie op die rots land.
“Waar was jy? Ons is baie laat, Kwikker.”
“Nee, nee, wag nou. Moenie met my raas nie, Mossoelie. Hoor eers wat ek vir jou wil vertel,” sê Kwikker en wip sy stert op en af van opgewondenheid.
“Toe, vertel dan!” sê Mossoelie terwyl Kwikker rondtrippel.
“Nee, ek dink ek gaan jou liewer wys, Mossoelie. Ek kan jou nie vertel nie. Jy moet dit sien.”
“O…dit klink soos ‘n geheim, Kwikker.”

“O ja, dit is ‘n geheim…..kom, klim op my rug.”
“Ons moet na Piketo toe vlieg, Kwikker. Sy wag vir ons. Kyk hoe laat is dit al.”
“Ja, ja…ek hoor jou, Mossoelie,” sê Kwikker en toe lig hy sy pote van die rots af op, sprei sy vlerke en vlieg strand toe en toe al met die strand op in die rigting van die skeepswrak. 
“Jy kan my later gaan wys wat jy my wil wys, Kwikker. Kom ons gaan eers na Piketo toe,”sê Mossoelie bekommerd.
“Ja, ja, Mossoelie. Wag net en kyk wat ek jou wil wys,” sê Kwikker geheimsinnig.
Later kyk Mossoelie af strand toe.
“Ons is by Piketo se plek!” 
Dan duik Kwikker af strand toe en hy land ‘n entjie van Piketo se nes af. Kwikker draf vooruit.

“Kwikker, jy’s terug!” roep Piketo uit.
“Terug?” vra Mossoelie, “Was jy dan al vanoggend hier, Kwikker?” 
“Ja…ek was toe jy nog gelê en slaap het. Ek het net geweet ek moet na Piketo toe kom.”
“Hoekom?” vra Mossoelie nuuskierig.
Toe lig Piketo haar lyf van die twee eiers af op en Mossoelie sien stukke gebreekte eierdoppe. 
“Nee! Het daardie seemeeue jou eiers so gebreek?” roep Mossoelie uit. 
“Nee, gelukkig nie, Mossoelie,” sê Piketo en dan staan sy op en Mossoelie sien twee baba pikkewyntjies. 
“Piketo! Hulle is mooi,” sê Mossoelie, “Maar hoe gaan jy hulle huis toe neem?”
“Ek weet nie. Hulle moet eers groot word,” sê Piketo en stoot die kleintjies weer met haar bek onder haar lyf in.

“En hulle moet ook eet, Piketo. Hoe gaan jy vir hulle kosgee?” vra Mossoelie.
“Ja, dis ‘n groot probleem. Ek kan hulle nie alleen hier in die nes los as ek gaan kos soek nie. Daardie seemeeue.” Piketo kyk in die lug in op toe twee seemeeu met groot oë op haar afkyk. “Hulle weet van my kinders.”
Mossoelie kyk na Kwikker. “Ons sal vir Piketo moet help,” sê hy.
“Hoe?” vra Kwikker.
“Ons kan na die kinders kyk wanneer Piketo vir hulle gaan kos soek.”
Kwikker wip sy stert op en af. “Hierdie kuikens is groter as ek, Mossoelie. As Piketo see toe gaan en hulle hardloop agter hulle ma aan, hoe gaan ons hulle keer?” 
“Dis ‘n probleem, Kwikker. Dit is ‘n groot probleem,” sê Mossoelie.
Piketo lyk treurig. Sy kyk oor die see en wanneer die seemeeue laag oor haar kop duik lyk sy bang. 

“Wat gaan ek maak? My kinders sal doodgaan van die honger as ek nie ‘n kans kry om vir hulle kos te gaan soek nie,” sê Piketo.
“Ek het ‘n plan, Kwikker,” sê Mossoelie, “Ek moet my pêrel gaan haal.”
“Jou pêrel? Hoe gaan jou pêrel ons help om na die pikkewynkinders te kyk? Sal die pêrel my in ‘n groot voël verander, groter as ‘n seemeeu?” vra Kwikker.
“Nee Kwikker,” sê Mossoelie en lag, “Kom, ons moet dadelik my pêrel gaan haal.”
Toe groet hulle vir Piketo en belowe om gou terug te wees.

Gees, die spookkrap gee vir Mossoelie die pêrel. 
“Wat wil jy vandag met die pêrel maak, Mossoelie?” vra hy.
“Ek weet nog nie, ou Gees,” sê Mossoelie en sit die pêrel wat soos ‘n reënboog in die son skitter, om sy nek.
“Onthou om dit terug te bring,” waarsku Gees.
“Ek sal dit terugbring, Gees. Maar eers moet ek kyk of ek iemand kan help,” sê Mossoelie en klim weer op Kwikker se rug.

“Is iemand in die moeilikheid?” vra Gees.
“Nee…” sê Mossoelie.
“Ja, ja….iemand is in die moeilikheid Gees en ons moet nou dadelik vlieg. Totsiens,” sê Kwikker, lig sy pote van die wit seesand af op en vlieg terug na Piketo toe.

“Is julle terug?” vra Piketo toe hy hulle sien, “Wat is daar om jou nek, Mossoelie?”
“‘n Pêrel, Piketo. Jy kan maar see toe gaan om vir jou kinders kos te gaan haal. Ons sal na hulle kyk,” sê Mossoelie.
“Sal julle?” vra Piketo.

“Ja, gaan see toe. Jou kinders is honger. Hoor hoe skree hulle,” sê Kwikker terwyl hy al om Piketo se nes trippel. 
“Maar die seemeeue..” Piketo kyk na die lug waar twee seemeeue vlieg, “Hulle weet van my kinders. Hoe sal julle hulle van my nes af weghou?”
“Ons sal, Piketo,” belowe Mossoelie. “Toe, gaan see toe en gaan vang vis.”
“Goed dan..,” sê Piketo, klim van haar nes af en waggel see toe.

Sy is skaars weg of die seemeeue duik af op Piketo se nes. Mossoelie sien dit en spring tussen die kuikens in. Hy gryp aan sy pêrel en hou dit voor hom na die seemeeue. Toe gebeur ‘n snaakse ding.
“My oë! My oë…daardie skerp lig! Ek kan nie sien nie,” skree die een seemeeu en toe die ander een. 

Hulle draai weg en vlieg soos blinde voëls wat nie weet waarheen hulle wil gaan nie. En hulle skree.
“Ek kan nie sien nie! Ek kan nie sien nie!”
Kwikker kan nie glo wat gebeur het nie.
“Wat het jy met daardie pêrel gedoen, Mossoelie?”
“Ek het die pêrel na hulle toe gehou en toe het ‘n rooi lig daaruit gekom en toe ‘n skerp wit lig. Die lig het gemaak dat hulle glad nie Piketo se nes kon sien nie, ook nie die kuikens nie.”
“Dit het gelyk of hulle hulle oë verloor het. Het jy gesien hoe hulle vlieg?” vra Kwikker.
“Ja, hulle was vir ‘n rukkie blind. Ek hoop hulle het groot geskrik. Maar hulle sal weer terugkom as hulle oë reg is,” sê Mossoelie.

“Jy sal maar elke dag daardie pêrel van jou moet saambring, Mossoelie. Ons sal nie na hierdie kinders kan kyk sonder die pêrel nie,” sê Kwikker en kyk see toe.
Na ‘n rukkie sien hulle hoe Piketo teruggewaggel kom met ‘n vis in haar bek. Die kleintjies gryp die vis uit haar bek. Die een trek aan die stert en die ander aan die kop van die vis. Piketo kyk na die twee en sy lyk gelukkig.
“Dankie dat julle so mooi na hulle gekyk het. Het die seemeeue julle gepla?” vra sy.
Kwikker wag nie nog om vir haar te vertel nie.
“Hulle het, maar ons het hulle sommer gou weggejaag.”
“O…e…hoe?” vra Piketo en Mossoelie weet toe sommer dadelik sy dink hulle jok. 

Kwikker wys na Mossoelie se pêrel om sy nek.
“Met daardie pêrel. Weet jy hoe bang die seemeeue vir daardie pêrel is, Piketo?”
“Regtig..” Piketo kyk na die pêrel, “Waar kan ek so ‘n pêrel kry?”
“Daar is net een so ‘n pêrel in die groot see. Dis die een, Piketo,” sê Mossoelie,

“En die pêrel sal vir jou en jou kinders beskerm hier op Silverstrand.”
“Dis goeie nuus. Dis sulke goeie nuus,” sê Piketo en vou haar vin-arms om haar twee kleintjies. “Nou moet julle net gou grootword en dan gaan ons huis toe. Mossoelie en Kwikker sal ons help.”

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x