Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 15: Terug huis toe

Dis baie dae en nagte later. Piketo se kinders is al mooi groot. Elke dag, soos Mossoelie en Kwikker belowe het, vlieg hulle na Piketo toe en kyk na die kinders terwyl sy gaan kos soek tussen die rotse. 
“Ek wil huis toe gaan, Mossoelie,” sê Piketo een oggend toe Mossoelie en Kwikker by haar nes aankom, “My kinders is groot genoeg en hulle kan al goed swem. Ek dink dis tyd dat ons huis toe gaan.”
“Is jy seker hulle is groot genoeg?” vra Mossoelie en kyk na die drie pikkewyntjies.

“Ja…maar, daar is een groot probleem, Mossoelie,” sê Piketo.
“Probleem?” vra Mossoelie, “Watse probleem?” Mossoelie kyk na die lug. Daar is nie een seevoël nie.
“Nee, dis nie die seevoëls nie, Mossoelie,” sê Piketo, “Dis die groot see..en alles wat daarin is.”
“Is jy bang vir die see?” vra Kwikker.
“Nie vir die see nie, maar vir die gevare in die see,” sê Piketo en sy klink bekommerd.
“Watse soort gevare?” vra Mossoelie.
“Miskien is ek verniet bang,” sê Piketo en sug, “Sien, my kinders was nog nooit in die groot see nie. Hulle hou van swem, maar hulle weet nie van die gevare nie.”
“Ek verstaan, Piketo. Jy sal nie na almal van hulle kan kyk nie. Nê?” vra Mossoelie.

“Ja, ek sal hulle nie onder my vlerke kan hou nie,” sê Piketo.
“Ons sal ‘n plan moet maak, Piketo. Jy en jou kinders moet veilig by die huis kom,” sê Mossoelie.
“Ek sal so bly wees as ons veilig by die huis kan kom,” sê Piketo en vee met haar snawel oor een van haar kuikens se koppe. “Miskien is die see nie meer swart nie.”

Daardie aand, terwyl die son in die see wegsmelt, sit en praat Mossoelie en Tentakkie oor Piketo en haar kinders. 
“Ons kan saam met haar swem. Ek sal na haar kinders kyk,” sê Tentakkie, “Ek het mos ‘n wapen as daar moeilikheid kom, of wat?”
“Ja..en ek sal my pêrel saamneem,” sê Mossoelie. 
“Jou.e…jou pêrel? Dink jy nie dis beter as jy die pêrel los waar dit is nie. Die spookkrappe kyk mooi na jou pêrel. As ek jy is, los ek dit net daar by hulle.”
“Nee, ek gaan nie sonder die pêrel nie, Tentakkie. Ons weet nie watse soort gevare ons in die see raakloop nie. Wat as jou wapen nie werk nie?”
“Ja…e…jy’s reg, Mossoelie. Wat as my ou wapen nie werk nie, hug, hug, hug,…”

“Dis nie ‘n grap nie, Tentakkie. Jy weet nie eens wat my pêrel alles kan doen nie,” sê Mossoelie.
“Jy’s reg…ek weet nie wat jou pêrel alles kan doen nie, Mossoelie. Nouja, vat jou pêrel saam. Maak net seker dat hy veilig om jou nek is.”
“Ek sal,” sê Mossoelie, “So, is jy reg?”
“Reg?…jy bedoel om vir Piketo huis toe te neem?”
“Ja..”
“Ja…e..ek moet net vir Sanja gaan sê,” sê Tentakkie, “Ek sien jou dan môre-oggend vroeg.”
“Goed, Tentakkie!,” roep Mossoelie agterna toe Tentakkie van die rots af in die water gly.


Mossoelie is vroeg oggend al reg. Al wat hy nog moet kry voor die lang swem is sy pêrel. Waar bly Kwikker vanoggend, dink hy terwyl hy strand se kant toe kyk. 
Hy wonder nie lank nie voor Kwikker op die rots langs hom kom land, sy stertjie op en af wip en sê: “Het jy al aan ‘n plan gedink hoe om vir Piketo te help?”
“Ja, Tentakkie gaan saam met my vir Piketo huis toe neem,” sê Mossoelie.
“Regtig!” vra Kwikker, “Mossoelie, ek dink jy moet liewer hier bly.”
“Hoekom?”

“Jy kan nie weggaan nie. Ek kan nie alleen na Silwerstrand kyk nie,” sê Kwikker en wip sy stert vinnig op en af, “Tentakkie is groot en sterk genoeg om alleen vir Piketo en haar kinders huis toe te neem.”
“Goed, goed dan. Ek sal vir Tentakkie sê ek kan nie saamgaan nie,” sê Mossoelie.
“Dis net…ek kan nie alleen na Silwerstrand kyk nie. Ek het nie ‘n pêrel nie…” sê Kwikker.
“Ja, Kwikker, ek hoor jou,” sê Mossoelie.
Net toe steek Tentakkie sy kop onder die water uit.
“Hier’s ek,” sê hy, “Alles is reg. Ek het vir Sanja gesê. Ons kan maar gaan. Waar is daardie pikkewyne?” 

“Ons sal jou gaan wys,” sê Kwikker, “Ek en Mossoelie sal oor die see vlieg. Jy hou ons net dop, hoor jy?”
“Goed dan, is dit net al die pad wes?” vra Tentakkie.
“Ja, al die pad wes tot verby die skeepswrak,” sê Kwikker, “Jy sal ‘n groot plat rots sien, wag vir ons daar.”
“Goed dan, ek maak so,” sê Tentakkie en swiep deur die water.

Toe klim Mossoelie op Kwikker se rug. Hulle vlieg oor die see. Hulle kan vir Tentakkie mooi onder die water sien swem. So nou en dan steek hy sy kop uit om vir hulle te wys hy weet van hulle.

Na ‘n rukkie gaan land Kwikker en Mossoelie op die plat rots. Hulle wag nie lank nie voor Tentakkie sy kop onder die water uitsteek.
“Hier’s ons. Waar is die pikkewyne?” vra hy.
“Ons gaan net gou vir Piketo en haar kinders haal,” sê Mossoelie en klim weer op Kwikker se rug.
Toe vlieg hulle gou strand toe.
Piketo is bly om hulle te sien.
“Ek kan nie wag om huis toe te gaan nie. Ek het al vir my kinders van al die gevare in die see vertel. Hulle weet,” babbel Piketo terwyl sy opgewonde op die sand rond trippel. “Wanneer gaan ons?”

“Sommer nou. Kom saam met ons. Tentakkie, dis die seekat wat saam met julle gaan swem, is daar by die plat rots. Hy wag vir julle daar,””sê Mossoelie.
“Gaan jy dan nie saam nie?” vra Piketo toe sy en haar kleintjies na die plat rots toe waggel. 
“Nee, wie kyk dan na Silwerstrand,” sê Kwikker, “Ek kan nie alleen na die plek kyk nie.”

Tentakkie lê op die rots en wag vir hulle. 
Piketo se kinders het nog nooit ‘n seekat gesien nie. Hulle kruip onder Piketo se vlerke in. 
“Hy sal julle niks maak nie,” sê Piketo, “Hy gaan vir ons huis toe neem, na die strand waar daar baie pikkewyne woon. Julle sal baie maatjies hê en daar is ook nie sulke nare seevoëls soos hier nie.”
“Ja, julle moet nie bang wees vir ou Takkie nie,” sê Tentakkie en lag, “Ek is maar net ‘n ou seekat. Ek sal niks doen aan pikkewynkinders nie.”
Toe steek die pikkewynkinders hulle koppe onder Piketo se vlerke uit. Hulle loer eers versigtig na Tentakkie en dan kruip hulle uit. 

“Is julle reg om te gaan?” vra Tentakkie, “My inkpot is vol. En julle strand is ver. Ek dink ons moet maar gaan.”
“Piketo vou haar vlerke om Kwikker en Mossoelie. Dit word skielik donker om hulle.
“Baie dankie vir alles wat julle vir my en my kinders gedoen het,” sê Piketo, “Ons gaan hierdie strand baie mis. As julle ooit op Pikkewynstrand kom, moet julle vir my en my kinders kom soek. Ons sal daar wees…as ‘n rob ons nie langs die pad opvreet nie.”
“Nee, ‘n rob sal julle nie vang nie. Tentakkie sal sorg dat niks met julle gebeur nie. Hy het ‘n gevaarlike wapen,” sê Mossoelie.

“Het hy?” vra Piketo en haal haar vlerke van hulle af, “Watse soort wapen is dit? Hy is dan net ‘n glibberige vis. Hoe kan hy vir ons teen gevare soos robbe beskerm?”
“O ja, hy kan,” sê Mossoelie, “Almal in die see skrik vir sy wapen. Tot die gevaarlikste haaie.”

“Regtig!”
“Ja, ek kan jou nie vertel van sy wapen nie. Jy sal dit sien as jy in gevaar is. Dan sal hy dit gebruik,” sê Mossoelie.

Toe plons die kleintjies wydsbeen een vir een in die poel water tussen die plat rotse. Toe Piketo. 
“Julle moet naby my swem,” sê Tentakkie, “Ek kan julle nie oppas as julle nie bymekaar bly nie.”

Mossoelie en Kwikker staan en kyk hoe Tentakkie, Piketo en haar drie pikkewynkinders wegswem, al verder en verder van die poel tussen die platrotse wegswem. 

“Baai, baai Piketo!!!” roep Mossoelie vir oulaas.

(Skrywer: Marianna Brandt)

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x