Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 2: Koeblaai se boodskap

“Waar dink jy is die Donkergrot?” vra Mossoelie toe hy en Tentakkie deur die water swem wat al donkerder word hoe verder hulle swem. 
“Ons moet uitkyk vir ‘n swart rots. My vriend het my vertel dat dit nie ‘n seerots is nie. Dit lyk soos een van daardie groot swart mossels wat so raas wanneer dit op die water dryf, waarmee die mense van die land die sardientjies vang. ‘n Baie groot een, my vriend. Nouja, dis die Donkergrot. Dit is baie groot, groter as die grootste rots wat ons al gesien het. My vriend vertel dat die sardientjiekinders partykeer daar skoolgaan. Ja, binne in die Donkergrot. Hulle word geleer van al die gevare van die Donkersee.”

“Is dit dan naby die Donkersee?” vra Mossoelie. Wat hy weet van die Donkersee wil hy nie eens aan dink nie. Hy was nog nooit daar nie maar Oupa Mossie het hom genoeg vertel van die visse met bekke groter as hulle lywe en tande tien keer langer wat by hulle bekker uithang. Hulle swem met hulle bekke en oë wawyd oop en nie een seekat of Mos is sy lewe seker nie.
“Dis op die randjie van die Donkersee, my vriend. Ons sal maar versigtig moet wees. Partykeer kom Duiwelvis en sy maters hier kos soek,” waarsku Tentakkie. Mossoelie se hart begin sommer vinniger te klop terwyl sy groot groen oë elke bos seegras en rotsgrot dophou. 
“Hoe…hoe ver is dit nog?” vra Mossoelie later.
“Nie te ver nie. Sien jy hoe anders lyk die water hier?” vra Tentakkie.
“Ja..e..dis donkerder as by ons…of is dit al nag?”
“Nee, dis nog nie nag nie. Dit is soos dit hier lyk. Dis hoekom Duiwelvis so jaloers is. Hy wil ons see hê en hy het al alles probeer. Gelukkig is Koningin Azurina te slim vir hom. Hy sal nooit ons see regeer nie…nooit nie, my vriend. Daarvoor sal die Mosse en die seekatte sorg.”
“Ten…Tenta…Tentakkie…kyk daar!” gil Mossoelie toe hy skielik twee oë van agter ‘n graspol sien loer.

Skielik pyl een van Duiwelvis se gulsige Donkersee vriende met sy bek wawyd oop op hulle af. 
“Tentakkie…Tentakkie!” skree Mossoelie.
En dan is dit skielik pikswart om hulle. Pikswart. Mossoelie kan niks voor hom sien nie. Hy kan ook nie die aaklige vis met die groot tande sien nie. Hy kan niks voor hom sien nie. Nie eens die tentakel van Tentakkie waaraan hy nou vasklou nie.
“Tentakkie…Tentakkie…hoekom is dit nou so donker…waar is daardie vis?”
Tentakkie lag. “Weg my vriend..weg.”
“Hoekom is dit so donker om ons. Is ons dan in die Donkersee?” vra Mossoelie benoud.
“Nee, ek het daardie vis verwilder. Jy weet Mossoelie, ek gebruik my geheime wapen maar min maar as ek dit moet gebruik, gebruik ek dit,” lag Tentakkie.
“Jou..e..geheime wapen? Wat is dit?” vra Mossoelie nuuskierig.

“Jy sien ek het ‘n pot swart kleurstof wat ek saam met my dra. Wanneer ek in die moeilikheid kom soos vanoggend, maak ek dit oop en spuit dit om my. Geen vyand kan my dan sien nie. Hulle raak ook bang want hulle weet nie waar hulle is nie. Dan swem hulle weg,” verduidelik Tentakkie. 
“Regtig…e..dis goed,” sê Mossoelie, “Het jy genoeg van daardie swart goed as ons weer een van hulle raakloop?” 
“Ek hoop so,” lag Tentakkie.
Hulle kom vir ystervarkie teë.
“More…more julle. Julle moet versigtig wees. Een van Duiwelvis se maats is hier rond. Maar ek het hom lekker laat skrik toe hy na my hap. Gelukkig kon ek myself baie gou opblaas,” lag Ystervarkie, “Sy bek is seker lekker seer.”

“Ons het hom gesien,” sê Tentakkie, “Ek dink ek en jy het hom lekker die skrik op die lyf geja.”
“Is dit jy wat die water so swart gemaak het?,” vra Ystervarkie.
“Ja…ek moes. Hy het ons aangeval,” sê Tentakkie, “E..sê my, weet jy miskien waar die Donkergrot is?”
“Die Donkergrot?” vra Ystervarkie en hy dink.
“Ja, dis ‘n baie groot rots..e..nie eintlik ‘n rots nie maar dis baie groot en dit lyk soos ‘n baie, baie groot swart mossel..e..het jy dit gesien?”
“O ja…ek was al daar. Dis nie so ver hiervandaan nie.”
“O, dan is ons darem nog op die regte pad,” sê Tentakkie terwyl hy oor die seebed swem met een van sy tentakels op die grond. 

Hulle swem verby ‘n paar rogge wat hulle vlerke in die sand op seebodem flap op soek na kos. Toe sien hulle vir Hari, Tentakkie se goor haai vriend. 
“Wat maak jy so ver van ons see af?” vra Tentakkie.
“Ek soek mossels. Daar by ons is maar baie min. Ek moet verder en verder gaan soek,” kla hy, “Waarheen is julle op pad. Weet julle nie dis gevaarlik om hier rond te swem nie?”
“Ons weet…maar ons moet,” sê Tentakkie en lag. 
“Hoekom?” vra Hari.
“Ons is op soek na die Donkergrot. Weet jy waar dit is?” vra Mossoelie.
“Die Donkergrot? Ek kom nou net daarvandaan. Dis net anderkant hierdie rotse. Glad nie so ver nie. Wat wil julle daar gaan maak?”

“Ons moet vir Koblai gaan soek. Koningin Azurina het ons gestuur om ‘n boodskap by hom te kry,” sê Tentakkie.
“Koeblai? Ja, hy is daar maar julle sal baie gou moet maak. Koblai is baie siek. Ek weet nie of hy nog sal lewe as julle daar aankom nie,” sê Hari.
“Dan beter ons nou gou maak,” sê Tentakkie, “Dankie vir die nuus, Hari.”

Hulle swem oor die rotse soos wat Hari gesê het. Nou en dan sien Tentakkie iets lekkers om te eet.
“Wanneer ons terugkom moet ek eers hierlangs kom, Mossoelie. Kyk net die lekker mossels.” 

“Ja…ja…moenie nou daarvan praat nie. Ons moet gou maak,” sê Mossoelie en hy hoop net Koeblai wag vir hulle en gaan nie dood voor hulle by die Donkergrot kom nie. As Koeblai doodgaan voor hy die boodskap vir die eerste een gee wat by die grot aankom, is Koningin Azurina se plan om die slimste Mos te kies vir Silwerstrand alles verniet, dink Mossoelie.

Na ‘n rukkie is hulle oor die groot rotse en toe sien hulle die Donkergrot net soos wat Tentakkie se vriend gesê het. 
“Daar is dit,” sê Tentakkie en stoot sy tentakels nou vinniger uit in die rigting van die ou skeepswrak wat lyk soos ‘n rots. 
Toe hulle daar kom, is Mossoelie skielik baie bang. Al wat hy deur die eet groot gat van die grot sien is donker, so donker dat hy amper niks kan sien nie.

“Hoe gaan ons vir Koeblai in die donker plek kry?” vra hy vir Tentakkie.
“Jy weet, ek het daardie vraag ook vir my vriend gevra. Hy het gesê ons moet ons nie daaroor bekommer nie. Daar sal lig wees by Koeblai en ons sal hom duidelik kan sien.”
Toe swem hulle die donkerte in. Mossoelie klou styf aan Tentakkie se tentakel vas. As hy per ongeluk afval, sal Tentakkie hom nooit weer kry nie en een van die nare visse van die Donkersee sal hom opvreet, dink hy.
 Hulle soek rond in die groot kamers van die Donkergrot. Hulle soek lank en dan sien hulle ‘n liggie.
“Dit moet die plek wees waar Koeblai woon,” sê Tentakkie en swem dadelik na die liggie toe.
Hulle skrik toe hulle daar kom en die ou vis sien. Koeblai kan skaars praat.

“Julle is…e…eerste hier. Ek moet vir julle…e…die…boodskap…vir….Koningin Azurina gee…”
“Ja, ons moet vir haar die boodskap neem,” sê Mossoelie en hy kan nog nie glo dat hulle eerste daar is nie.
“Wat is die boodskap, Koeblai?” vra Tentakkie.
“Die Duiwelvis…hulle maak planne… om julle Koning aan te val. Hy bring baie draakvisse, rotsterte… en lelike okersvisse.”
“Hoekom?” vra Mossoelie benoud. 
“Hulle soek die Reënboogpêrel..…as hulle dit het, is hulle die heersers… van julle see. Hulle sal julle koningin… iewers in die Donkersee opsluit en julle sal…. die Duiwelvis en sy wraakvisse se kos word.”

“Nee, dis vreeslik,” skree Mossoelie, “Waar is die pêrel?”
“Dis in julle paleis. Julle Koningin moet dit dadelik op ‘n plek wegsteek waar Duiwelvis dit nie sal kry nie. Onthou…e…Duiwelvis is die beste speurder in die hele see,” sê Koeblai.
“Ons sal haar dadelik gaan sê,” sê Tentakkie.

“Ja…doen dit. Ek wil rus,” sê Koeblai en toe draai hy op sy sy en hou op om asem te haal. 
“Hy’s dood,” sê Mossoelie, “Net ons het die boodskap, Tentakkie. Ons moet nou dadelik teruggaan om vir Koningin Azurina te gaan vertel.”
Toe swem hulle by Koeblai se blyplek uit en deur die donker Donkergrot…..

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x