Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 3: Die Reënboogpêrel

“Ons moet dadelik die boodskap vir Koningin Azurina gaan gee,” sê Mossoelie op hulle pad terug, “Dis ‘n baie belangrike boodskap.”
“Ja…uh…ja, jy’s reg,” sê Takkie, “Ek sal nie wil sien hoe Duiwelvis daardie belangrike pêrel in die hande kry nie.”
Hulle kom vir Seegris tee.
“Ek het my al besimpel gesoek. Ek kry nie daardie Donkergrot nie. Ek’s seker Koningin Azurina het vir ons ‘n poets gebak,” sê hy, “E…waar kom julle nou vandaan?”
“Wil jy weet?” vra Takkie en lag te lekker.
“Ja, natuurlik wil ek weet. Ek sal jou nie vra as ek nie wil weet nie,” sê Seegris en sy groen oë blits soos hy hom vererg.

“Huh…huh…huh… by die Donkergrot,” sê Takkie en skiet weg.
“Wat!” roep Seegris agterna maar Takkie en Mossoelie is al lankal baie ver weg, te ver om om te draai om na hom te luister. 
‘n Rukkie later sien hulle vir Bambu en Anmor maar die twee sien nie vir hulle nie. Hulle lyk baie bekommerd.
“Kyk hoe lyk hulle,” sê Takkie, “Dis gesigte wat sê hulle soek die Donkergrot en hulle kan dit nie kry nie.” 
“Ja, ons is baie gelukkig,” sê Mossoelie en hy kan dit nog skaars glo dat net hy die boodskap van Koeblai gekry het.

Toe hulle later, net ‘n klein rukkie voor die tyd waarop hulle moes terug wees by die Koraalpaleis van Koningin Azurina opdaag, sien hulle nie een Mos nie. Net die ou Mosse wat die paleis se vloere blink poets met groot seesponse. 
“Toe, vat die boodskap na die Koningin. Sy wag daarvoor,” sê Takkie en laat Mossoelie van sy voorarm afklim. 
“Dankie Takkie… baie dankie. Ek sou nooit die boodskap sonder jou gekry het nie.” 
Mossoelie groet en gaan by die paleis in. Toe sien hy die Koningin Azurina se lyfwag.

“Ek wil graag die Koningin sien,” sê hy.
“Hoekom?” vra die lyfwag.
“Ek het ‘n belangrike boodskap vir haar,” sê Mossoelie. 
“Jy kan die boodskap maar vir my gee. Ek sal dit vir haar gee,” sê die lyfwag. 
Skielik sien hy twee Mosse agter ‘n pilaar verdwyn en toe sê hy vir die lyfwag.
“E..e..nee. Ek wil dit self vir haar gee.”
“Goed dan,” sê die lyfwag en neem hom na Koningina Azurina.

Die koningin is baie verbaas om hom te sien. 
“Mossoelie, wat kom maak jy hier vandag?” vra sy.
“Ek bring die boodskap van Koeblai,” sê hy.
“Die boodskap?” roep Koningin Azurina uit, “Het jy dit regtig gekry?”
“Ja,…ek het,” sê Mossoelie verleë. 
“Wonderlik. Kom vertel my,” sê die mooi Koningin.
“Koeblai het gesê Duiwelvis beplan om u aan te val,” sê Mossoelie en loer versigtig oor sy skouer.

“Wat!” roep Koningin Aszurina uit, “Is jy seker?”
“Ja, hy soek die Reënboogpêrel…”
Koningin Azurina snak na haar asem. “Die Reënboogpêrel!” roep sy uit.
“Ja..e..en as hy dit het neem hy ons see oor….hy sal u iewers in die Donkersee opsluit en ons sal die nare visse se kos word….ja, dis waar,” sê Mossoelie want hy kan sy eie woorde amper nie glo nie.
“Is dit regtig waar?” vra die Koningin weer.
“Ja..dis wat Koeblai gesê het. Hy sê Duiwelvis kom al sy nare visse…”
“Ek sal dadelik die pêrel moet wegsteek,” sê Koningin Azurina.

“Ja, Koeblai het gesê Duiwelvis is die beste speurder in die hele see. U sal die pêrel baie goed moet wegsteek. Daar waar niemand dit ooit sal kry nie,” sê Mossoelie.
“O ja, ek sal,” belowe Koningin Azurina, “Baie dankie vir die boodskap, Mossoelie. Laat weet vir die Mosse dat ek more-oggend vir almal in die Koraalsaal wil sien.”
“Ek sal vir hulle sê, U majesteit,” sê Mossoelie.

Die tyd is verby om die Donkergrot te kry. Die Mosse kom een vir een terug van die ver see. Hulle is kwaad.
“Ek see julle, daar is nie so ‘n plek soos die Donkergrot nie!” skree Bambu.
“Miskien is daar so ‘n plek… in die Donkersee tussen Duiwelvis se duiwels!” sê Anmor, “Hoe kan die koningin ons soontoe stuur.”

Skielik is Seegris ook daar.
“Waar is Mossoelie?” vra hy.
“Mossoelie?” vra Bambu en lag uit sy maag uit, “Hy soek seker nog die Donkergrot… watse kans het hy as ons dit nie kan kry nie, uh?”
“Moenie so gou praat nie,” waarsku Seegris en swem weg.
Mossoelie hoor hom toe hy en Takkie by hulle verby swem. 
“O, daar is jy,” roep Seegris en kom nader, “Het jy die Donkergrot gekry?”
“O ja,” sê Takkie, “En die boodskap van Koeblai.”
“Wat? Julle jok… niemand het die boodskap gekry nie,” sê Seegris, “Julle het nie nodig om te jok nie. Ons het ook nie die boodskap gekry nie. Koningin Azurina sal ‘n ander plan moet uitdink om ons te toets vir Silwerstrand.”

“Die koningin het my gevra om vir julle te sê om more-oggend by die Koraalsaal te wees. Sy wil met ons almal praat,” sê Mossoelie.
“Wanneer het sy so gesê?” vra Seegris.
“Toe ek vir haar die boodskap geneem het,” sê Mossoelie.
“Jy jok, Mossoelie. Maar ek sal more-oggend by die Koraalsaal wees. Jy sal seker darem nie daaroor jok nie,” sê Seegris.

Die volgende oggend stroom die Mosse na die Koraalsaal om na Koningin Azurina te gaan luister. 
“Ek is bly om julle almal veilig terug te sien,” sê sy toe almal doodstil sit. 
“Ja..ja… dit was ‘n aaklige uitstappie,” sê ‘n Mos.
“Ek is baie bly dat ek die boodskap van Koeblai gekry het,” sê Koningin Azurina.
Die Mosse snak na hulle asems.
“Wie…e… wie het dit gekry? Wie het die Donkergrot gekry?” vra hulle vir mekaar. 
“Ek kan sien dat julle nie weet wie die boodskap vir my gebring het nie,” sê die koningin.

“Ja, ons wil weet,” sê een van die Mosse, “Dis nie een van ons nie.”
“Dit is,” sê Koningin Azurina en glimlag.
“Een van ons?” vra hulle.
“Ja..en ek is so bly oor daardie boodskap,” sê Koningin Azurina, “Ek wil vir Mossoelie baie dankie sê.”
“Mossoelie!” roep die Mosse uit.
“Hoe het jy geweet waar die Donkergrot is?” vra een van hulle.
“Het daardie seekat geweet?” vra ‘n ander een.
“Mossoelie, sal jy asseblief vorentoe kom,” vra Koningin Azurina.
Mossoelie gaan na die Koningin. 
“Ek wil graag vir Mossoelie vra om die redder van Silwerstrand te wees. Hy is die slimste Mos.”
Mossoelie kan dit nie glo nie. Hy is die slimste Mos. Koningin Azurina het self so gesê. Maar hy sou nie dit gewees het sonder Takkie nie, dink Mossoelie.

Sy oë rek toe Koningin Azurina ‘n pragtige pêrel aan ‘n goue lint uit ‘n mossel haal. Dit skitter al die kleure van die reënboog. Is dit dalk die Reënboogpêrel, wonder hy. Dis die mooiste pêrel wat hy nog gesien het. 
“Sien julle hierdie pêrel?” vra sy vir die Mosse, “Dit is die pêrel wat Duiwelvis wil hê. Mossoelie het vir my kom vertel dat hy en al sy diepseevisse kom om hierdie pêrel te steel en dan ons see oor te neem.”
“Huh…” Die Mosse kyk verbaas na mekaar.
“Duiwelvis is ‘n goeie speurder, het Koeblai laat weet. So, ek het gedink om die pêrel weg te steek waar Duiwelvis dit nie sal kry nie,” sê Koningin Azurina.
“Ja…ja…ja…” stem die Mosse saam.

Die Koningin haal die pêrel uit die mossel.
“Ek het gedink die veiligste plek vir die pêrel sal wees baie ver van ons see af,” sê Koningin Azurina.
Toe sit sy die pêrel om Mossoelie se nek.
Die Mosse snak na hulle asems.
“Uh… wat gaan hy daarmee maak? Hy sal nie daarna kan kyk nie?” roep hulle uit.
“O ja, hy sal,” sê Koningin Azurina, “Hy sal hierdie pêrel saamneem Silwerstrand toe, daar waar Duiwelvis dit nooit sal kry nie.”

“Silwerstrand?” vra Mossoelie. Hy kan dit nie glo nie. Hy is gekies om Silwerstrand toe te gaan en na die Reënboogpêrel te kyk. 
“Jy gaan na die pêrel kyk, Mossoelie, maar die pêrel sal ook na jou kyk. Dit is ‘n wonderpêrel,” sê Koningin Azurina, “Dit is ook die ander rede waarom Duiwelvis dit wil hê.”
“Dankie Koningin… baie dankie,” sê Mossoelie, “Ek sal mooi daarna kyk.”

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x