Hoofstuk 4: Silwerstrand
Vroeg die volgende oggend is Takkie by Mossoelie se huis.
“Is jy reg?” vra hy vir Mossoelie.
“Ja, ek is so bly jy neem my soontoe,” sê Mossoelie, “En ek is so bly ek vat my huis saam.”
“Jy’s ‘n gelukkige kêrel,” sê Takkie terwyl hy Mossoelie se huis van die rots af losmaak, “Die koningin het my gevra om jou op te pas daar by Silwerstrand.”
“Jy maak seker ‘n grappie, Takkie,” sê Mossoelie en lag.
“Nee, nee, ek maak nie ‘n grappie nie. Ek moet saam met jou gaan om jou op te pas,” sê Takkie.
“Dis wonderlik!” roep Mossoelie uit, “Wanneer gaan ons?”
“Sodra ek van hierdie huis ‘n boot gemaak het,” lag Takkie, “Aaah…los is dit!”
Toe is Mossoelie se huis ‘n boot en reg vir die lang reis oor die groot blou see na Silwerstrand.
Mossoelie se huis dryf bo-op die water. Hy kyk uit een van die vensters en sien die blou lug. Skielik steek Takkie sy kop uit.
“Hier gaan ons,” sê hy dan en gee Mossoelie se mosselhuis ‘n stoot in die rigting van die land.
Terwyl Mossoelie deur die venster kyk, sien hy ‘n boot en seevoëls en baie baie ver die einde van die see.
Na ‘n ruk steek Takkie weer sy kop onder die water uit.
“Jy moet mooi kyk na daardie pêrel,” sê hy, “Onthou die koningin het gesê dis ‘n towerpêrel. As ons in die moeilikheid beland sal die pêrel ons seker help of wat sê jy?”
“Seker,” sê Mossoelie.
Skielik sien hulle die vin van ‘n groot haai ‘n entjie van hulle af uit die water steek.
“Mossoelie..e..Mossoelie..kyk daar,” sê Takkie.
“Hy’t jou gesien, Takkie,” sê Mossoelie, “Doen iets. Gou!”
Toe Mossoelie weer kyk is die water pikswart om sy boothuis en Takkie is weg. Hy sien ook nie die haai nie.
“Takkie! Takkie!” roep hy benoud, maar Takkie is nêrens.
Nou dobber Mossoelie se boothuis op die groot blou see sonder rigting en Mossoelie is baie bang.
“Takkie! Takkie!” roep hy weer.
Maar daar is nie ‘n teken van Takkie nie.
Dan kyk hy af na sy bors waar die pêrel in die son lê en blink, alle kleure van die reënboog. Hy vat daaraan, hou dit in altwee sy hande en kyk by die venster uit en skielik, voor sy oë word die swart see weer ‘n helderblou.
Mossoelie kyk na die pêrel in sy hande en dan weer na die see wat eers swart was.
“Hier’s ek! Hier’s ou Takkie!” roep Takkie en steek sy een voorarm deur die venster.
“Takkie, jy het my groot laat skrik,” sê Mossoelie, “Waar was jy?”
“Hier naby,” lag Takkie, “Toe sien ek die water word skielik weer blou en ek kry toe my pad gou terug na jou toe.”
“O…dis hierdie pêrel se towerkrag,” sê Mossoelie.
“Hoe nou?” vra Mossoelie.
“Die pêrel het die see weer blou gemaak, Takkie,” sê Mossoelie.
“Kan nie wees nie,” sê Takkie.
“Dis ‘n towerpêrel. Koningin Azurina het self so gesê,” sê Mossoelie, “Ek wonder wat die pêrel alles kan doen?”
“Kom, ons het baie tyd gemors,” sê Takkie, “Ons sal wel sien as die pêrel towerkrag het.”
Toe gaan hulle voort, oor die groot blou see.
Toe die son daardie aand sak, kom hulle op Silverstrand aan. Mossoelie anker sy boothuis tussen twee rotse en klim uit.
“Hallo Silverstrand! Hallo almal julle!” roep hy uit op die rots voor sy huis.
Takkie steek sy kop onder die water van die poel wat ‘n klein entjie van Mossoelie se boothuis af is, uit.
“Hier gaan ons lekker bly,” sê hy, “Hierdie poel is net groot genoeg vir my.”
Terwyl hulle nog so kyk na al die nuwe dinge om hulle, kom sit ‘n voëltjie op die rots. Sy stert wip vinnig op en af.
“Hello, hello julle!” roep hy uit, “hello, hello julle!”
“Hello,” sê Mossoelie toe hy die vriendelike voëltjie sien, “Wie is jy?”
“Kwikker, ja, ek is Kwikker,” sê die voëltjie en wip sy stert op en af, “Het die koningin julle gestuur?”
“Ja, hoe weet jy dit?” vra Mossoelie verbaas.
“Ek het haar gevra,” sê Kwikker.
“O..,” sê Mossoelie, “Ek is Mossoelie.”
“Ek’s bly jy julle het gekom,” sê Kwikker.
“Ons ook, huh, huh, huh,” lag Takkie, “Dis ‘n baie beter plek as die see waar ons vandaan kom.”
“Ons het baie probleme hier,” sê Kwikker dan, “Dis partykeer nie so ‘n lekker strand nie. Dis hoekom ek die koningin hulp gaan vra het.”
“Ons weet,” sê Mossoelie, “Maar..e..watse soort probleme?”
“Ag, dis die krapbabas. Daar is alweer een in die moeilikheid omdat hy in die brander gespeel het. Nou lê hy op die strand en ek sukkel om hom weer in die water te kry,” kla Kwikker.
“Ek kan jou gou help,” sê Mossoelie.
“O, dit sal baie gaaf wees,” sê Kwikker, “Klim op my rug dan vlieg ons sommer gou na die strand toe.”
Mossoelie klim op Kwikker se rug en toe vlieg hulle oor die see en toe oor die wit strand. Mossoelie het nog nooit ‘n strand gesien nie. Dis vir hom nog mooier as die see waar hy vandaan kom.
Na ‘n rukkie land Kwikker op die wit sand. Toe sien Mossoelie die krappie.
“Hier is hy,” sê Kwikker.
“Hoe kry jy hulle altyd terug in die water?” vra Mossoelie.
“Ek stoot hulle met my bek. Hoe anders?” vra Kwikker.
Mossoelie kyk oor die strand en sien baie bamboesslange, seegras en gebreekte skulpe.
“Wag, ek het ‘n beter plan,” sê hy en tel ‘n paar stukke seegras op. Hy vleg dit vinnig en toe sê hy vir Kwikker: “Kom help my gou. Ons maak dit om die krappie se lyf vas.”
“Ek kan sien jy is ‘n slim mannetjie,” sê Kwikker en help hom vinnig om die gevlegte kras om die krappie se lyf vas te maak.
“Soja,” sê Mossoelie toe hulle klaar is, “Nou kan ons hom maklik see toe sleep.”
“Ek..e..ek is dors,” huil die krappie dan skielik.
“Ons is nou by die see,” troos Mossoelie.
Toe begin Kwikker en Mossoelie trek.
“Hoekom is hy so swaar?” kla Mossoelie later toe hulle die krappie nie kan beweeg nie.
“Dis die nat seesand. Hy steek in die seesand vas,” sê Kwikker.
Moessoelie vat aan die pêrel om sy nek en skielik word sy skouers groter en sy arms sterker.
Kwikker fluit. “Fheeeww!”
“Kom, nou sal ons hom kan trek,” sê Mossoelie en vat die grastou.
Toe trek hy die baba-krappie see toe terwyl Kwikker saam draf.
Toe die baba-krappie die water sien, probeer hy self loop maar hy is te swak.
“Ek is..e..dors,” kerm hy.
“Toemaar, jy is nou in die water,” sê Mossoelie en toe trek hy hom in die water in.
Hulle kyk hoe die brander die baba-krappie gryp en inneem see toe.
“Dankie, dankie…hoe is jou naam nou weer?” vra Kwikker.
“Mossoelie,” sê Mossoelie, “Sal jy my weer terugneem?”
“Natuurlik,” sê Kwikker, “Klim op my rug.”
Toe vlieg hulle ‘n wye draai oor die strand. Mossoelie sien iets in die verte.
“Wat is dit daardie, Kwikker?” vra hy en wys na die groot ding wat op die strand lê.
“Dis ‘n skeepswrak…’n nare plek…my groot probleem. Ek sal jou later daaroor vertel,” sê Kwikker.”