Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 5: Die skeepswrak

Dis ‘n lekker warm oggend. Mossoelie sit op die rots in die poel water voor sy huis en was sy lyf met ‘n seesponsie. Terwyl die sonstrale sy lyf droog kielie sit en wonder hy wat hy die nuwe dag op Silwerstrand gaan doen. Net toe hoor hy ‘n seevoël oor sy kop kwê-kwê-kwê. Hy kyk op en sien hom na die skeepswrak se kant toe vlieg.
Dan hoor hy iets in die water. En toe sien hy hoe een van Takkie se arms om die rots verskyn. 
“Môre Takkie!” roep Mossoelie nog voor Takkie se kop verskyn. 
Verbaas loer Tentakkie om die rots.

“Maar jy is vroeg op, Mossoelie,” sê hy en lag, “Ek het gedink ek kom vanoggend voor ‘n toe deur.”
“Nee, dis so mooi hier. Ek kan nie so ‘n mooi dag om slaap nie.”
“Jy’s reg, jy’s reg. Dis ‘n pragtige strand. Wat gaan jy vandag doen?” vra Takkie.
“Ek weet nie. Ons het nog nie gesien hoe dit hier onder die see lyk nie. Miskien moet ons gaan kyk.” Mossoelie spring op en skud die water van sy lyf af.
“Ek het gister deur ‘n tuin geswem. Dis nie ver hiervandaan nie. Miskien moet jy darem daar ook gaan gesig wys, Mossoelie,” sê Takkie.
“‘n Tuin,” roep Mossoelie uit, “Is dit so mooi soos ons tuin by die huis?”
“Ja..e..ja, net so mooi,” sê Takkie, “Jy moet maar self gaan kyk. Ek kan nie vir jou sê nie.”

“Wanneer gaan ons?” vra Mossoelie opgewonde.
“Ons kan maar gaan net wanneer jy reg is,” sê Takkie, “Klim op.” 
Op daardie oomblik land Kwikker op die rots.
“Groot moeilikheid, groot moeilikheid,” sê Kwikker en wip sy stert op en af van haastigheid.
“Watse moeilikheid?” vra Takkie.
“Dis daar by die wrak. Ek kan hulle nie help nie. Ek het probeer,” sê Kwikker, “Die arme goed het dae laas geëet.”
“Van wie praat jy?” vra Mossoelie nuuskierig.
“Drie spookkrappe. Hulle word daar aangehou deur die seevoëls. Ai, die arme goed,” sê Kwikker en skud sy kop, “Ek het al vir hulle gewaarsku om nie daar rond te loop nie.”
“Kom ons gaan kyk of ons hulle kan help,” sê Mossoelie, “Wag net hier vir my, Takkie. Ons is nou weer terug.”

“Nou weer?” vra Tentakkie en lag, “Jy ken nog nie hierdie strand nie…ek gaan nie vir jou wag nie. Ek het ‘n baie mooi meisie gesien. Ek wil gou gaan kyk of ek haar sien.”
“Goed dan…!” roep Mossoelie toe Tentakkie van die rots af gly en in die water verdwyn. 
“Kom klim op,” sê Kwikker, “Ek kan nie daardie spookkrappe net so los nie. Hulle sal doodgaan van honger.”
Mossoelie klim op sy rug. Toe vlieg hulle na die skeepswrak ‘n hele ent weg van die rotse waar Mossoelie se huis vasgeanker staan. 

Toe hulle naby die wrak kom, sien Mossoelie groot seevoëls wat hulle neste op die maspaal en touleer van die wrak gemaak het. Hy hoor hoe die kleintjies kwê-kwê vir kos en sien hoe hulle ma’s terugkom van die see af en kos in hulle bekke sit.
“Waar is die spookkrappe? vra Mossoelie toe Kwikker regmaak om ‘n klein entjie van die wrak af te land.
“Op die dek van die boot,” sê Kwikker. 
Mossoelie klim van Kwikker se rug af en draf saam met hom oor die wit seesand tot by die wrak. Hy volg hom onder stukke verweerde hout en geroeste ysterreëling deur.

“Waar is julle?” roep Kwikker sover soos hy soek. Hy kyk na Mossoelie, “Hulle was netnou nog hier.” Hy wys na ‘n plek onder die trappie by die stuurkajuit. 
Skielik hoor hulle ‘n stemmetjie.
“Hier! E..e..hier is ons,” roep een van die spookkrappe vanuit die stuurkajuit. 
“O…” sê Kwikker en vlieg binne. Mossoelie klouter ook na binne.
“Hoekom is julle hier?” vra Kwikker.
“Ons was amper weer meeukos,” sê een van die krappe en trane drup uit sy oë, “Kyk hoe lyk my poot. ‘n Seemeeu het my beetgekry. Nou kan ek amper nie hardloop nie. Hoe gaan ek nou hier wegkom?”

“E..e..en wie is jy?” vra een van die krappe vir Mossoelie.
“Hy?” sê Kwikker, “Die Koningin het hom vir ons gestuur. Ek het jou mos vertel ek gaan haar laat weet dat sy vir ons iemand moet stuur om ons te help.” 
“Hoe kan hy ons help teen hierdie wrede voëls?” vra een van die krappe.
Kwikker loer na Mossoelie. “Hy is ‘n sterk ou.”
Die drie krappe lag te lekker.
“Sterk?” sê die een en lag dan weer.
“Julle sal sien,” sê Kwikker.
“Hoe gaan julle ons by die huis kry?” vra een van die krappe, “Ons is honger. As ons nog ‘n dag hier moet wegkruip gaan ons dood.”
“Kom!” sê Mossoelie, “Ons sal saam met julle gaan. Ons sal bokant julle koppe vlieg en die groot voëls sal julle nie kan vang nie.”

“Ek..e..ek wil dit sien,” sê een van die krappe.
“Toe nou, hou op kla en kom,” sê Kwikker.
Toe klim Mossoelie op Kwikker se rug. Die krappe volg hulle by die stuurkajuit van die boot uit, by die trappie af en dan is hulle op die sand op die dek. 
“Kwê-kwê-kwê…” skree die seevoëls soos hulle om die mas van die wrak vlieg met hulle oë wawyd oop op die dek. 
“Hulle sien ons!” skree een van die krappe.
“Vergeet van hulle. Hardloop onder ons!” roep Mossoelie toe Kwikker laag oor die strand vlieg.

Die drie krappe hardloop langs mekaar. Mossoelie hou hulle dop. Die een met die seer poot is ‘n bietjie stadig maar hy probeer hard om by te bly.
Skielik is daar ‘n seevoël reg bokant Kwikker se kop.
“Kwê-kwê-kwê….ek wil ‘n sappige krap hê!” skree hy, “Kwê-kwê-kwê….ek wil ‘n sappige krap hê!”
“Nee!” gil die drie krappe terwyl hulle al hoe vinniger hardloop.
Skielik duik die seevoël af en gryp die stadige spookkrap aan sy poot en vlieg in die lug op.
“Help! Help!” skree die spookkrap.
“Gou, Kwikker. Vlieg na daardie voël toe,” sê Mossoelie en vryf die pêrel. 

Toe hulle onder die seevoël kom, gryp Mossoelie aan spookkrap se poot. Toe die seevoël vir Mossoelie sien, skrik hy. Sy bek gaan oop en hy laat los vir spookkrap. Spookkrap trek deur die lug en land op sy rug op die strand. Kwikker duik terug strand toe en land.
“Oe, eina!” kreun Spookkrap, “Dit voel of my dop gekraak is.” 
“Ek is jammer jy het seer gekry,” sê Mossoelie.
“Nee…nee…ek kon dood gewees het. Opgevreet gewees het,” sê die spookkrap vinnig.
Die ander twee spookkrappe is nog steeds stom oor wat hulle gesien het. 

“Ek dink julle moet eers hier onder die sand bly tot vanaand en dan kan julle teruggaan na julle huise toe,” sê Kwikker.
“Ek dink dis ‘n goeie plan,” steun die krap wat seer gekry het.
“Ek dink nie die voëls sal julle sommer weer vang nie. Daardie een het lekker geskrik. Hy sal seker nou vir die ander gaan vertel,” sê Mossoelie.
“Dankie…baie dankie dat jy gekom het. Dis gaaf om jou hier op Silwerstrand te hê,” sê een van die krappe.
“Toe, klim onder die sand in,” sê Kwikker, “Ek wil eers seker maak julle is veilig.”
“Goed, goed…ons maak so,” sê een van die krappe en begin ‘n gat in die sand grawe. 

“My poot is te seer,” kla die krap wat seer gekry het, “Hoe gaan ek onder die sand inkom?”
“Ek sal gou vir jou ‘n gat grawe,” sê Mossoelie, bult sy spiere en toe begin hy te grawe.
Na ‘n rukkie klim die twee krappe onder die sand in en gooi hulself toe dat net hulle oë uitsteek. 
Toe sukkel die beseerde krap na die gat wat Mossoelie gemaak het en klim in. Mossoelie gooi dit toe dat net die krap se oë uitsteek.

“Soja, nou is julle veilig. Julle kan vanaand wanneer die voëls slaap gaan kos soek,” sê Kwikker.
Die drie krappe wys met hulle oë dat hulle verstaan.
Toe klim Mossoelie op Kwikker se rug en vlieg terug na sy huis tussen die rotse. 

“Takkie wil vir my die seetuin gaan wys,” sê Mossoelie toe Kwikker hom aflaai.
“Die seetuin? Ek het nog net slegte dinge van daardie plek gehoor,” sê Kwikker, “Jy moet maar versigtig wees…”

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x