Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 6: Die seetuin

“Môre, môre Mossoelie,” roep Takkie een oggend buite die deur van Mossoelie se huis, “Lekker dag om na die seetuin te gaan.”
Mossoelie spring van sy bed af op en maak die deur oop. 
“Ja, ek dink ook so,” sê Mossoelie en plons in die water in. Hy swem vir ‘n klein rukkie en dan klim hy uit en skud die druppels van sy lyf af, “Waar is die seetuin?” vra hy, “Kwikker sê hy het nog net slegte dinge van die seetuin gehoor.”
“Ja, ek hoor die tuin kan gevaarlik wees,” sê Takkie, “Maar ons sal self besluit hoe gevaarlik dit regtig is. Wat sê jy, Mossoelie?”

“Ja,..jy’s reg,” sê Mossoelie, skud sy krulkop en verdwyn in sy huis in. Hy sit die pêrel om sy nek en maak die deur agter hom toe.
 “Is jy reg?” vra Takkie en gooi sy voorarm op die rots. Mossoelie gly met sy arm af tot agter sy kop, kry sy sit en klou met sy voete onder Takkie se kop vas. 
Toe gly Takkie die water in. Hulle swem ‘n entjie van die rotse af en dan dieper en dieper tot op die seebodem. Na ‘n rukkie kom hulle by twee groot rotse met ‘n opening tussen hulle. 
“Dit lyk soos die poort na die tuin,” sê Takkie en swem deur. 
Hulle is skaars deur toe hulle die pragtige anemone sien.
“Ek het nog nooit sulke mooi blomme in ons tuin gesien nie,” roep Mossoelie opgewonde uit. 

“Hulle is mooi ja,” stem Takkie saam. 
Hulle swem verby rooies, oranjes en groenes, geles en perses en verby die mooiste seevarings. Hulle sien baie soorte visse, seeslakke, krappe, krewe en krewels. 
Toe sien Mossoelie ‘n seester wat sukkel om ‘n mossel oop te breek. 
“Hy gaan sy arm afbreek, Takkie,” sê Mossoelie, “Kom ons gaan help hom.”
“Wie sê hy wil ons hulp hê?” vra Takkie.
Net toe kom ‘n krap verby geswem. Toe hy hulle sien kom hy nader en vra: “Wie is julle? Ek het julle nog nooit hier in die seetuin gesien nie.”

“Ja, ons wag nog nooit hier nie,” sê Mossoelie, “Ek is Mossoelie en dit is my vriend Tentakkie. Ons kom van die diepsee af.”
“O…e… die diepsee. Dan weet jy nie van hierdie plek nie, nê. Dis mooi en alles hier… maar…e… ek sê liewer niks nie. My naam is Sebastiaan. Hoekom het julle Silwerstrand toe gekom?”
“Om vir krappe soos jy te kom help. Koningin Azurina het ons gestuur,” sê Mossoelie.
“Regtig! Jy sê die Koningin het julle gestuur,” sê die krap, “Dis..e..baie gaaf, baie gaaf. Maar ek wil julle net waarku, dis nie vandag ‘n plek vir ‘n krap en ‘n seekat nie.” 
Mossoelie wil nog vra hoekom nie, maar toe hy weer kyk is die krap net weg. 
“Help! Help!” hoor Mossoelie iemand roep. Dis die seester.
“Kom, ons moet hom gaan help,” sê Mossoelie en gryp na die pêrel. 
Takkie swem na die seester waar hy besig is om sy een poot tussen die twee helftes van ‘n mossel in te druk. 

“Help! Help! My poot gaan afbreek,” kerm die seester. 
Toe hulle by die seester kom, klim Mossoelie van Takkie af.
“Ek sal jou help,” sê Mossoelie vir die seester en vryf die pêrel. 
Die seester kyk na Mossoelie.
“Jy, hoe kan jy my help?” 
“Ek kan, ek kan,” sê Mossoelie terwyl sy borskas en die spiere in sy boarms groter word. 
Dan gaan hy na die mossel en trek met sy hande die twee helftes uitmekaar sodat die seester sy arm kan bevry.
“Ek kan dit nie glo nie,” sê die seester verbaas, “Jy’t my arm gered. Waar kom jy vandaan? Ek het jou nog nooit hier gesien nie.”
“Ek woon nou hier by julle,” sê Mossoelie.
“O… dis wonderlike nuus. Ek moet al my vriende van jou vertel. Hoe lank gaan jy hier by ons wees?”
“Ek weet nie. Totdat Koningin Azurina my weer terugroep,” vertel Mossoelie.

Die seester slaan sy een poot voor sy mond.
“Dan het die Koningin vir jou gestuur,” sê hy, “Hier is baie werk vir ‘n ou soos jy, veral hier in die seetuin. Dis die enigste plek waar daar volop kos is maar ook baie gevare. Ek hoop regtig jy sal hierdie plek vir ons veiliger kan maak… Wat is jou naam?” 
“Mossoelie..”
“Hallou Mossoelie… welkom hier by ons. En dankie dat jy my arm gered het,” sê die seester en swem weg. 

Mossoelie klim terug op Takkie se arm en gaan sit weer agter sy kop. Hulle sien narvissies in die blare van ‘n seeroos wegkruip en ‘n bokserkrap verby skarrel. 
Terwyl hulle lekker tussen rotse deur verby ‘n bedding pers anemone swem, hoor hulle ‘n hartseer stemmetjie. Toe hulle om die rots swem, sien hulle twee seeperdjies vreeslik huil. 
“Kyk daar, Takkie! Swem vinniger!” skree Mossoelie toe hy sien hoe ‘n seeperdjie halflyf in in ‘n pers anemoon vassit.
Takkie swem vinnig. Toe hy by die anemoon kom, vryf Mossoelie weer sy pêrel, “Swem nou oor die anemoon, Takkie. Naby genoeg sodat ek hom kan uittrek,” sê Mossoelie.

Takkie maak so en Mossoelie se lyf word sterk. Hulle swem bo-oor die anemoon waarin die seeperdjie vassit. Toe gryp Mossoelie hom om sy lyf en trek hom uit.
“My stert… my stert,” huil die seeperdjie. 
Toe sien Mossoelie dat sy sakkie vol baba-seeperdjies is wat verskrik, met oë vol trane na hom kyk. 
“Dankie… dankie,” sê die pa-seeperdjie, “My stert is baie seer… maar baie dankie. Daardie anemoon sou my heeltemal opgevreet het. Wat sou van my kinders geword het.” Die seeperdjie begin vreeslik te huil.
“Toemaar, as ek en Takkie naby is, sal dit nie sommer gebeur nie,” troos Mossoelie hom.
“Julle moet tog versigtig wees. Hier is nare dinge hier in die seetuin,” sê die seeperdjie en snik.

“Ons sal versigtig wees,” sê Takkie, “Maar ek dink jy moet na ‘n veiliger plek toe gaan.”
“O ja, ek sal,” sê die seeperdjie, “Baie dankie dat julle my gered het.” Toe swem hy weg.
“Ek het nou genoeg gesien van die seetuin, Takkie. Ons kan weer kom. Ek dink ons kan maar teruggaan huis toe,” sê Mossoelie.
“Ek dink ook so. Ons het nou die seetuin gesien en weet waar dit is,” sê Takkie.
Net toe hulle omdraai om terug te swem, sien Takkie iets agter ‘n pol seegras roer. Dan hoor hy:
“Jou tande is amper skoon. Nog net ‘n klein bietjie skoonmaak.” 

Mossoelie hoor dit ook en toe sien hy die skoonmakerkrewel. 
“Ek wonder wat doen hy?” sê Mossoelie. 
“Ek dink ons moet padgee. Gou!” sê Takkie skielik.
“Hoekom?”
Toe gebeur dit. Skielik skiet bontpaling uit die pol seegras op Takkie en Mossoelie af. Die slangvis hap na een van Takkie se arms. Takkie baklei woes en toe val Mossoelie af. Skielik is die water pikswart. Mossoelie skrik. Hy kan nie sien waar bontpaling is nie. Hy kan nie vir Takkie sien nie en hy word banger en banger. 
“Takkie… Takkie, waar is jy?”
Takkie antwoord nie. Mossoelie probeer hard in die donker water sien maar dit help niks nie. Hy sien net as iets beweeg maar hy kan nie sien wat dit is nie.
Na ‘n rukkie onthou Mossoelie skielik van die pêrel. Hy vryf die pêrel en dan gebeur dit net soos die dag toe hy en Takkie na Silwerstrand toe gekom het. Stadig begin die water helder word en die swart verdwyn. 

Na ‘n rukkie kan Mossoelie weer alles rondom hom sien. En toe sien hy een van Takkie se arms om ‘n rots uitsteek.
“Takkie…hier is ek,” sê hy, maar Takkie antwoord hom nie. Miskien het hy seergekry. Miskien is hy dood. Hoekom antwoord Takkie hom nie, dink Mossoelie bekommerd. 
Hy swem versigtig nader aan die rots waar hy die seekat-arm gesien het. 
“Takkie!…Takkie!… hier is ek!” roep hy weer, maar kry nie ‘n antwoord nie. Hy kan dit nie verstaan nie. Hoekom antwoord Takkie hom nie.
Toe hy om die rots kom en die seekat sien, skrik hy. Dis nie Takkie nie. Dis ‘n meisie-seekat.
“O..hallou, het jy miskien my vriend Takkie gesien?” vra Mossoelie vir haar.

“Takkie? Wie is dit?” vra die mooi seekat.
“My seekat vriend… ons was netnou deur ‘n bontpaling aangeval… en nou is my vriend net weg,” sê Mossoelie moedeloos.
“Nee, ek het hom nie gesien nie… jy sê bontpaling is hier rond,” vra die meisie seekat met groot oë, “As hy is, beter ek vinnig hier wegkom. Hy het nie so lank gelede nie my broer opgevreet.”
“Nee, moenie so sê nie,” sê Mossoelie.
Net toe voel Mossoelie iets in sy nek en hy skrik. Hy swaai om en toe sien hy vir Takkie.
“Takkie! Ek was nog nooit so bly om jou te sien nie,” sê Mossoelie en gooi sy arms om Takkie se nek, “Ek het gedink bontpaling het jou opgevreet.”
“Nee, nie so maklik nie,” lag Takkie, “Met wie het jy netnou so lekker gesels?”

“‘n Mooi meisie-seekat,” sê Mossoelie.
“Regtig,” sê Takkie, “Waar is sy nou?”
“Weg…toe sy hoor van bontpaling toe swem sy vinnig weg,” sê Mossoelie.
“Ag nee, waar gaan ek haar nou weer kry,” sê Takkie en sug.
“Sy is seker nie so ver weg nie. Kom ons gaan soek haar,” sê Mossoelie en hy was reg. Hulle swem nie ver nie toe sien Takkie die mooi meisie-seekat.

“Ek het vir Takkie gekry!” roep Mossoelie toe hulle by haar kom.
“O…is dit Takkie,” sê sy en flikker haar oë, “My naam is Sanja.”
“Sanja,…e..dis ‘n mooi naam,” sê Takkie, “Kom, dan swem jy saam met ons uit die seetuin uit. Die plek is te gevaarlik vir ‘n mooi meisie soos jy.”

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x