Hoofstuk 7: Die Groot Storm
Mossoelie skrik een aand wakker toe iets sy skulphuis hard teen die rots stamp.
“Wat is dit?” vra hy verskrik en sit regop. Toe hoor hy die wind wat kerm en kla en blaas oor Silwerstrand. Hy was nog altyd bang vir Wind, dink Mossoelie benoud. Net toe hy wonder hoekom Wind so kwaad is, blaas Wind se sterk asem sy skulphuis dat dit sommer in die rondte tol.
Mossoelie loer by die venster uit. Die nag is pikdonker. Hy sien nie een sterretjie in die lug nie, ook nie die goudgeel maan nie. Iets is vreeslik verkeerd, dink hy. Het Wind dalk die sterre weggeblaas…en die maan? Hy wil nie eens daaraan dink nie.
Terwyl hy nog so staan en kyk na die pikswart hemel, is Wind weer al om sy huis en ruk en pluk aan die deur. Mossoelie se oë rek groot toe hy hoor hoe sy huis kraak.
Skielik is daar weer ‘n harde stamp en dan vlieg die deur oop. Water stroom binne.
Dan is daar ‘n harde slag bo in die lug. Skielik begin dit hard te reën. Mossoelie se huis is half onder die water in. Dis donker. Hy kan niks sien toe hy sy pêrel soek nie.
“Die pêrel…die pêrel,” snik hy later toe hy uit sy huis uit swem, “Waar is die pêrel?”
Groot reëndruppels val op sy kop en op sy lyf toe hy oor ‘n rots klouter. Hy skrik toe weerlig die see verlig.
Dis ‘n gevaarlike plek, die Silwerstrand, dink hy benoud terwyl hy op die rots sit en na sy huis kyk wat half onder die water is. Hy wonder nog waar Tentakkie is, toe hoor hy iets in die water ‘n entjie vanwaar hy sit.
“Mossoelie!”
“Takkie…ek’s so bly jy’s hier,” sê Mossoelie verlig, “Waar was jy toe die storm opgekom het?”
Toe steek Sanja haar kop onder die water uit.
“Ek het by Sanja gekuier,” sê Takkie en dan sien hy Mossoelie se huis, “Mossoelie, wat het met jou huis gebeur?”
“Dit lek. Wind het dit teen die rots gewaai. Ek het gehoor hoe dit kraak. Toe het die water begin inkom en ek kon nie langer daarin bly nie, Takkie.”
“Ek sien…ja, dis jammer. Ons sal vir jou ‘n ander blyplek moet soek,” sê Takkie, “Eers as die storm bedaar het.”
“Takkie, die pêrel is nog in die huis. Dit was te donker. Wind het my huis woes heen en weer gestoot. Ek het die pêrel op die plek gesoek waar ek dit altyd sit… dit was weg.”
“Weg?! Maar dis verskriklik. Die pêrel mag nie wegraak nie. Sê nou dit kom in die vinne van Duiwelvis se trawante!” roep Takkie uit, “Ek sal dit dadelik moet gaan soek.”
“Koningin Azurina mag nooit hiervan weet nie. Ek het belowe ek sal mooi na die pêrel kyk,” snik Mossoelie hartseer.
Takkie verdwyn onder die water in. Sanja bly by Mossoelie agter.
“Jy kan vir ‘n rukkie by my kom bly, Mossoelie,” sê sy, “Totdat jy ‘n ander huis gekry het.”
“W…waar bly jy?” vra Mossoelie.
“Nie so ver hiervandaan nie. Onder ‘n groot rots. Jy en Takkie kan sommer daar kom bly,” sê Sanja. Skielik is daar weer ‘n weerligstraal en dan donder dit bokant hulle koppe. Sanja duik onder die water in. Net toe steek Takkie sy kop uit.
“Nee, ek kry niks nie,” sê hy. Dis te donker daar onder. Ons sal moet wag tot ligdag. Die see word ook nou rowwer. Kom, jy kan nie alleen hier op die rots bly sit nie. Die weerlig is gevaarlik,” sê Takkie en gooi ‘n arm op die rots sodat Mossoelie kan opklim.
Mossoelie gaan sit agter Tentakkie se kop en klou om sy nek vas toe hulle in die water ingly.
“O hier is jy,” sê Sanja toe sy vir Takkie sien, “Ek het jou gaan soek maar die water is te donker. Ek kon jou nie sien nie.”
“Ja, ons moet maar naby mekaar bly,” sê Takkie.
“Ek het vir Mossoelie gesê dat julle twee maar by my kan kom bly tot Mossoelie weer ‘n huis het,” sê Sanja, “Die rots waaronder ek woon is groot en daar is baie plek.”
“Goed…goed…dis ‘n goeie plan,” sê Takkie en swem dan in die rigting van Sanja se huis.
Mossoelie kan nie slaap nie. Hy dink aan die pêrel en aan Koningin Azurina en sy belofte om mooi daarna te kyk. Hy is bly toe hy die volgende oggend die donker uit die water sien verdwyn.
“Môre…môre…môre,” sê Takkie opgewek, “Net gou iets eet en dan moet ek en jy na daardie pêrel gaan soek, Mossoelie.”
“Ek is nie honger nie,” sê Mossoelie, “Ek het ook niks geslaap nie. Wat as die pêrel heeltemal weg is. Wat gaan ek vir Koningin Azurina sê?”
“Wag, wag nou,” sê Takkie, “Wie sê die pêrel is so weg…hm?”
“Jy kon dit dan nie kry nie. Ek kon dit ook nie kry nie, Takkie,” sê Mossoelie.
“Vanoggend skyn die son en ek en jy sal baie mooi kan sien. Ons sal die pêrel kry,” belowe Takkie.
Die lug is blou en die son skyn heerlik warm op die rotse. Op die strand lê bamboes en gebreekte skulpe wat die vreeslike wind en woeste see op die strand gestrooi het.
Toe Takkie en Mossoelie by die poel tussen die rotse kom waar sy huis was, kan hulle die skulphuis nie bo die water sien uitsteek nie.
Takkie duik en swem na Mossoelie se huis onder die water. Die deur van die huis is afgeruk en ‘n groot kraak waardeur die water gekom het.
“Toe, gaan soek jy binne, dan soek ek hier buite rond na die pêrel,” sê Takkie en lig vir Mossoelie van sy nek af.
Mossoelie swem deur die deuropening van sy huis. Hy skrik toe hy ‘n kluisenaarskrap daar kry.
“Wat maak jy hier?” vra Mossoelie vir hom.
“Ek…ek het gisteraand my huis verloor,” kla die krap, “Toe vind ek vanoggend hierdie lekker groot huis. Is…is dit jou huis?”
“Ja, dit was my huis,” sê Mossoelie, “Maar dit het in die storm gebreek en gesink. Ek kan nie meer daarin woon nie.”
“O…dan kan ek seker maar hier bly totdat ek vir my ‘n nuwe huis gevind het,” vra die krap.
“Ja,..jy kan maar,” sê Mossoelie, “Ek soek iets wat ek gisteraand toe ek gevlug het hier vergeet het.”
“Wat?” vra die kluisenaarskrap en rol sy oë.
“‘n Pêrel…’n spesiale pêrel,” sê Mossoelie.
“‘n Pêrel, sê jy?” vra die krap, “Nee, ek het niks hier gesien nie.” Hy kyk om hom rond. “Jy sê dis ‘n spesiale pêrel?”
“Ja…ek moet dit kry,” sê Mossoelie. Hy kyk onder sy seegrasbed, in sy koraalkassie, onder die bamboesmat. Die pêrel is nêrens.
“Ek sê jou wat,” sê die krap, “As ek dit kry sal ek dit dadelik vir jou bring. Waar bly jy nou?”
“Onder die groot rots saam met twee van my seekatvriende,” sê Mossoelie.
“E..e…seekat..e..vriende? Ek dink jy moet maar liewer dit self kom haal,” sê die krap ernstig, “Jy kan mos weer hierlangs kom?”
“Ja, ek sal,” sê Mossoelie, “My seekatvriend soek hier buite rond. Ek beter hom gaan help.”
“‘n Seekat…hier buite?” Die krap loer na die deur se kant toe.
“Ja, hy help my soek. Ek moet die pêrel vind. Totsiens,” sê Mossoelie en swem by die deur uit.
Net toe Mossoelie buite sy huis is, sien hy vir Takkie.
“Nee, sover was ek nie gelukkig nie, my vriend,” sê Takkie, “Wat het jy binne jou huis gekry?”
“Nie ‘n pêrel nie…” sê Mossoelie.
“Iets anders?” vra Takkie.
“N..nee..niks nie,” sê Mossoelie, “Die pêrel is weg, Takkie. Dis weg. Wat gaan ek vir Koningin Azurina sê?”
Mossoelie klouter teen die rots uit en gaan sit in die sonnetjie. Na ‘n rukkie sien hy vir Kwikker.
“Takkie, hier kom Kwikker. Miskien weet hy iets,” sê Mossoelie.
Kwikker land op die rots by Mossoelie.
“Môre julle. Dit was darem ‘n vreeslike storm. Waar is jou huis, Mossoelie?” vra Kwikker.
“Dit het in die storm gebreek en gesink. En my pêrel is weg,” sê Mossoelie hartseer.
“Is jou pêrel weg?” vra Kwikker.
“Ja, ek het al orals gesoek. Takkie ook.”
“Ek sal die nuus op die strand gaan verkondig. Moenie bekommerd wees nie. Ons sal dit weer kry. Die see sal dit vir jou teruggee,” belowe Kwikker.
“Ek hoop regtig so, my vriend,” sê Takkie.
“Hoekom ek gekom het, daar is alweer probleme….ai tog, al die probleme hier op Silwerstrand. ‘n Spookkrap het weer gisteraand te laat rondgeloop. Hy het in die stormwind sy been gebreek. Die arme ding lê nou daar op die nat sand, kan nie ‘n poot versit nie. Sal jy asseblief vir my kom help, Mossoelie?”
“Ek weet nie…sonder die pêrel is ek nie so sterk nie,” sê Mossoelie.
“Ek sal jou help,” sê Kwikker, “Kom, klim op my rug.”
Mossoelie help gou vir Kwikker om die spookkrap se poot met ‘n stukkie dryfhout en seegras te spalk.
“Dankie julle,” sê Spookkrap toe hy stadig hinke-pink wegstap, “Sê maar wanneer ek vir julle moet help!”
Toe Kwikker vir Mossoelie terugneem, sien hulle op die strand ‘n klomp seevoëls saamdrom.
“Ek wonder waarna kyk hulle?” sê Kwikker, “Ek is nou vreeslik nuuskierig. Is jy nie ook nie, Mossoelie?”
“Ja, ek is,” sê Mossoelie, “Kom ons gaan kyk.”
Kwikker land ‘n klein entjie van die klomp seevoëls af. Mossoelie klim van sy rug af.
Dan hoor hulle ‘n seevoël sê: “Ek het nooi gedink daar is sulke visse in die see nie!”
“Dis ‘n vis,” sê Kwikker, “Hy het seker met die stormweer uitgespoel.”
Hulle stap nader.
Die seevoëls begin nou een vir een wegvlieg.
Toe sien hulle die vis.
“Kyk sy groot bek!” roep Kwikker uit, “En sy skerp tande! Hy lyk vreeslik gevaarlik…meer gevaarlik as ons haaie!”
Mossoelie kan nie ‘n woord uitkry nie. Duiwelvis het hierdie aaklige vis met die groot bek en gevaarlike tande gestuur. Maar hoe weet Duiwelvis hy, Mossoelie het die belangrike pêrel? En dat hy hier by Silwerstrand is? Iemand moes hom gesê het. Want niemand weet nie, behalwe Koningin Azurina en die Mosse en hulle sal nooit vir iemand van Donkersee sê nie. En wat as Duiwelvis ‘n klomp van die aaklige visse gestuur het om die pêrel te kom steel. Wat as hulle al klaar die pêrel gekry het? Mossoelie se hart klop in sy keel….