Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 8. Waar is die pêrel?

Mossoelie is baie bekommerd. Miskien moet hy vir Kwikker van die pêrel vertel, dink hy toe hulle terugvlieg see toe. 
“Kwikker, ek het ‘n groot probleem,” sê Mossoelie.
“‘n Probleem? Vertel…toe vertel. Miskien kan ek help,” sê Kwikker en vlieg ‘n wye draai oor die rotse waar Mossoelie se huis gesink het en gaan land dan op ‘n rots.
“Koningin Azurina se pêrel is weg,” sê Mossoelie en kan sy eie woorde nie glo nie.
“Maar hoe weet jy dit?” vra Kwikker.
“Omdat ek dit gehad het,” sê Mossoelie.
“Is dit die pêrel wat jy om jou nek gedra het?” vra Kwikker.

“Ja…dit was Koningin Azurina se pêrel…’n baie belangrike pêrel. Dis die pêrel wat die son in die diepsee laat skyn. Ek moes dit hier op Silwerstrand veilig hou want Duiwelvis wil dit hê en hy sal alles doen om dit te kry. Hy woon in Donkersee waar dit pikdonker is. Nou is dit weg en ek weet nie meer waar om te soek nie.”
“Dis verskriklik, Mossoelie,” sê Kwikker, “Ons sal baie vinnig aan ‘n plan moet dink om almal van Silwerstrand te laat weet om te soek.”
“Nee, nee…” sê Mossoelie, “As almal daarvan weet, sal Duiwelvis dit hoor. Daardie vis wat op die strand uitgespoel het is een van Donkersee se visse. Daar is miskien nog van hulle hier rond. As hulle hoor die pêrel is weg sal hulle vir Duiwelvis gaan sê en dan sal hy nog meer van sy speurdervisse stuur.”

“Wat gaan ons dan doen?” vra Mossoelie.
“Ons moet aan iets anders dink. Ons moet vir die krappe en krewe en voêls van Silwerstrand een vir een gaan sê en hulle vra om vir niemand anders te sê nie,” sê Mossoelie.
“Soos ‘n geheim?” vra Kwikker.
“Ja….soos ‘n geheim. Duiwelvis mag dit nooit weet nie…..ook nie Koningin Azurina nie. Het jy my gehoor, Kwikker?”
“Ja..ja..ek het, Mossoelie,” sê Kwikker en wip sy stert op en af, “Vir wie sal ons nou eerste gaan sê?”
“Jy sal weet wie ‘n geheim kan hou,” sê Mossoelie.
“Wie weet al?” vra Kwikker.
“Net my vriende Takkie en Sanja. Hulle soek al baie lank daar waar my huis gesink het maar kry niks nie,” sê Mossoelie en hy voel sommer baie lus om te huil.

“Miskien moet ons vir ouens soos die sandluise gaan vertel. Hulle sal vir niemand vertel nie,” sê Kwikker.
“Wat sal hulle weet van ‘n pêrel? Het hulle al pêrels gesien?” vra Mossoelie want hy weet darem nie of sandluise sal weet van pêrels nie.
“Miskien…miskien nie. Maar ons vertel hulle. As hulle dit sien, sal hulle weet,” sê Kwikker, sprei sy vlerke en lig sy pote van die rots af op. Toe vlieg hulle weer strand toe daar waar stringe en stringe bruin bamboes en stukkende skulpe lê wat uitgespoel het toe die see so woes geword het. 

Kwikker draf rats tussen die bamboesslange en gebreekte skulpe deur en soek. 
“Ek wonder waar kruip hulle vandag weg,” sê Kwikker terwyl hulle soek. 
Dan sien Mossoelie ‘n klompie sandluise lekker eet aan ‘n stuk roesrooi seevaring. 
“Daar!” roep hy uit.
“Ek’t geweet hulle sal hier iewers wees. Hier is mos baie kos vandat die see weer leeggemaak het,” sê Kwikker en skarrel na die groepie sandluise toe.

“Môre, môre julle!” roep Kwikker.
Een van die sandluise kyk verskrik op na Kwikker.
“M-ôre Kwikker,” sê hy, “Wat maak jy hier?”
“Hoor gou hier. Ek het julle hulp nodig,” sê Kwikker.
“Wie is hy?” vra een van die sandluise en kyk na Mossoelie toe hy van Kwikker se rug afklim. 

“Mossoelie. Julle het seker gehoor dat Koningin Azurina iemand na Silwerstrand gaan stuur om ons te help?” vra Kwikker.
“Ja…ja…” sing die sandluise met een stem.
“Dis hy. Sy het hom gestuur,” vertel Kwikker.
“O…” sing die sandluise weer.
“Nou weet julle. Kom luister nou hier,” sê Kwikker en wink hulle met sy vlerk nader.
Sandluise kruip onder die bamboesslange en nat seevarings uit. Sommer gou is daar ‘n klomp wat na Kwikker wil luister.

“Soos ek gesê het, Koningin Azurina het vir Mossoelie gestuur om ons hier te kom help. Gisteraand toe die see so woes geword het en al hierdie bamboes op die strand uitgespoeg het, het Mossoelie se huis teen die rotse stukkend gebreek en gesink,” vertel Kwikker.
“Regtig…” vra die sandluise.
“Ja, en hy het ‘n baie belangrike ding verloor saam met sy huis,” sê Kwikker.
“Wat?” vra die sandluise.
“‘n Pêrel…maar ‘n baie belangrike pêrel,” sê Kwikker, “Maar dit mag julle vir niemand vertel nie.”
“Vir niemand nie?” vra een van die sandluise.
“Ja, vir niemand nie,” sê Kwikker, “Want ‘n groot vyand van die koningin soek ook die pêrel.”

“Nee, e… nee, ons sal vir niemand sê nie,” sê ‘n sandluis.
“Hoe lyk die belangrike pêrel?” vra een van hulle.
“Dis ‘n wit pêrel wat baie mooi blink,” sê Mossoelie vinnig, “Julle sal sommer weet as dit die pêrel is.”
“Ons sal ja,…ons sal,” sing die sandluise.
“Goed dan,” sê Kwikker.

Toe vlieg Mossoelie en Kwikker al met die strand langs, laag oor die sand en hulle kyk en kyk. Daar is baie spoelklippies wat blink maar nie so mooi soos die pêrel nie.
“Ons moet vir die ploegskulpe vertel,” sê Kwikker skielik toe hulle oor twee ploegskulpe vlieg wat mooi spoorpatroontjies op die nat seesand maak. 
Kwikker land by die ploegskulpies.
“Môre julle,” sê Kwikker, “Julle is seker ook bly die storm is verby?”
“Ja,..ons is Kwikker,” sê die een.
“Ken julle vir Moessoelie?”

“Nee, maar ons het van hom gehoor,” sê die ander een.
“Hier is hy. Ons het vir julle ‘n groot guns kom vra,” sê Kwikker, “Die vreeslike storm het sy skulphuis stukkend geslaan maar die ergste is, hy het ‘n baie belangrike pêrel verloor. Het julle dit dalk hier op die strand gesien?”
Die twee ploegskulpies druk hulle koppe teen mekaar.
“Nee, nog nie,” sê hulle dan.
“Sal julle asseblief mooi kyk wanneer julle oor die strand seil,” vra Kwikker, “Ons moet vir Mossoelie help om sy pêrel terug te kry. O ja, moet asseblief vir niemand van die pêrel vertel nie. Dis ‘n belangrike pêrel. Eers as Mossoelie dit terug gekry het, sal hy vir julle almal vertel hoekom dit so belangrik is.”
“Ons sal mooi kyk,” belowe die ploegskulpe, draai dan om en gly weer oor die nat seesand.
Mossoelie hoor hoe die seevoëls by die skeepswrak raas. Hulle vlieg om en om die neste aan die maspale.

“Hoekom raas hulle so?” vra hy vir Kwikker, “Dink jy nie hulle baklei dalk oor die pêrel nie?”
“Miskien….miskien nie,” sê Kwikker, “Kom ons gaan kyk.” Toe vlieg hy na die skeepswrak.
Al wat hulle daar sien is baba-voëls in die neste wat met hulle bekke groot oop skree vir kos. 
“Nee wat, hulle sal niks weet nie. Hulle ouers is iewers opsoek na kos vir hulle,” sê Kwikker en draai dan om.
Mossoelie sug moedeloos. Sonder die pêrel is hy niks werd vir Silwerstrand nie.

Hy kan net sowel teruggaan huis toe en vir Koningin Azurina gaan vertel wat gebeur het. Die Mosse sal hom uitlag en terg en hy sal wens een van Duiwelvis se vampiere wil hom opvreet. 
Kwikker vlieg na die rotse waar Mossoelie opgeklim het en land.
“Ons moet môre maar weer gaan soek. Dalk is ons gelukkig…dalk nie,” sê Kwikker en pof sy vere, “Ek kry nou koud. Mossoelie, ek sal later weer verder gaan soek. Ek moet eers weer langs die strand vlieg.” 
“Dankie Kwikker,” sê Mossoelie en waai dan vir hom toe hy wegvlieg.

Vir ‘n rukkie sit Mossoelie op die rots en kyk oor die see, ver…en hy wonder waar sy pêrel kan wees. Hy wonder oor die vis met die groot bek wat uitgespoel het en skielik is hy weer baie benoud.
“Mossoelie!”
“Ta-Takkie..hoe laat jy my skrik!” Mossoelie se hart klop kadoef-kadoef in sy keel. 
“Het jy al jou pêrel gekry?” vra Takkie.
“Nee. Ek sal dit seker nie kry nie,” sê Mossoelie moedeloos, “Die een wat dit gevat het, sal dit mos nooit vir my teruggee nie, Takkie.”

“Wag nou, wag nou, miskien het niemand dit al gekry nie. Het jy al daaraan gedink?”
“Waar is dit dan, Takkie?” vra Mossoelie.
“Iewers…ons sal maar net nog moet soek,” sê Takkie, “Ek en Sanja het die hele oggend onder die water hier by die rotse gesoek, in elke skeurtjie en gaatjie. Niks nie…”
“Sien jy nou…niks nie. Wat gaan ek vir Koningin Azurina sê. Sy het die pêrel vir my gegee om op te pas.” Trane glip uit Mossoelie se oë. Hy kan nie help om nou te huil nie. Sy hart is so seer.

Baie later daardie middag, toe die son amper heeltemal in die see gesmelt het, sit Mossoelie nog steeds op die rots en staar oor die ver branders.
Skielik land Kwikker langs hom.
“Kwikker!” sê Mossoelie ‘n bietjie bly om hom te sien, “Ek het gedink ek sien jou eers môre.”
“Nee…ek kon nie nog wag tot môre nie, Mossoelie. Ek het ‘n snaakse ding gesien en ek moes jou kom vertel.”

“Watse ding?”
“Jy weet, net toe ek weer daar van die skeepswrak af strandlangs vlieg sien ek ‘n snaakse helder pienk lig op die seesand. Ek vlieg toe om en om die pienk lig en gaan land. Toe sien ek die pienk lig is nie bo-op die sand nie. Dis onder die sand. Ja, dis baie snaaks. Ek het net gewonder of jy weet wat dit kan wees? Ek het nog nooit soiets gesien nie.”

“Haai, waar het jy dit gesien?” vra Mossoelie.
“Daar waar die spookkrappe woon..”
“O..kom ons gaan kyk,” sê Mossoelie en klim op Kwikker se rug.

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x