Mossoelie

Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt.

Hoofstuk 9: Die pienk lig

Kwikker en Mossoelie vlieg ‘n wye draai oor die wit strand, dan oor die wrak van die vissersboot en dan terug na die plek waar Kwikker die pienk lig gesien het.
“Dit was hier,” sê Kwikker en vlieg laag oor die strand, “Ek is seker dit was net hier.”
“Maar dis nou weg,” sê Mossoelie, “Jy het jou seker verbeel, Kwikker.”
Kwikker duik weer af en vlieg oor die lang stringe bruin bamboes en gebreekte skulpe. Dan sien hulle ‘n spookkrap se oë bokant die sand uitsteek.

“Kom ons gaan vra hom. Miskien, dalk net miskien weet hy iets,” sê Mossoelie en land op ‘n oop stukkie sand tussen die bamboese en goed wat die see uitgespoeg het. 
Mossoelie draf agter Kwikker aan na die spookkrap se blyplek. 
“Kwikker…e..Kwikker, wat bring jou hier?” vra die spookkrap en steek sy oë ‘n entjie verder onder die sand uit.
“Ons soek iets,” sê Kwikker.
“Wat soek julle?” vra die spookkrap, “Ek het niks gesien nie, weet ook niks nie.”
“Jy weet nie eens wat ons soek nie,” sê Kwikker.
“Ek weet sommer,” sê die spookkrap.

“Mossoelie se pêrel is weg. Dit het weggeraak toe die see daardie aand so rof was en al hierdie bamboese en stukkende skulpe wat op die strand uitgespoel het. Het jy miskien die pêrel gesien?”
“Nee, ek het nog nooit ‘n pêrel gesien nie. Hoe lyk ‘n pêrel..hm?” vra die spookkrap.
“Weet jy regtig nie?” vra Kwikker, “Het jou ma en pa jou nie see-skool toe gestuur nie?”
“Ja, hulle het maar ek het weggeloop,” sê die spookkrap, “Los my nou uit.”
“Ek sien,” sê Kwikker en wip sy stert op en af, “Dit was baie dom van jou. Nou weet jy niks van die see af nie, niks van die strand nie en niks van al die gevare nie.”
“Los my nou uit,” sê spookkrap en verdwyn dan onder die sand in.

Mossoelie sug. “Nie een van hulle sal weet nie,” sê hy.
Kwikker kyk oor die nat seesand en dan sê hy: “Nie almal van hulle is so dom nie. Een van hulle sal iets weet. Kom, daar anderkant is een.”
Mossoelie draf die klein entjie agter Kwikker aan tot by ‘n spookkrap wat so pas uit sy sandhuis gekruip het. 
“Kwikker!” roep die oupa-spookkrap uit, “Ai, my ou bene raak oud. Dis nie meer so maklik om uit my huis uit te kom nie. Wat maak julle hier? Soek julle na iets of na iemand?”
“Ja, ons soek iets,” sê Mossoelie vinnig, “Ons hoop jy kan ons help.”
“Ek…ek weet maar min wat hier op die strand aangaan. Julle moet die jong klomp krappe vra as julle iets wil weet. Maar wat is dit? Miskien kan ek tog help,” sê die ou spookkrap.
“Ons soek ‘n baie belangrike pêrel wat miskien die nag van die storm uitgespoel het. Dis Mossoelie se pêrel. Die pêrel wat hom help om vir ons hier op Silwerstrand uit die moeilikheid te hou. Het jy miskien die pêrel gesien?” vra Kwikker, “Jy weet mos hoe lyk ‘n pêrel, Oupatjie?”

“Ja…e…ja, natuurlik weet ek hoe lyk ‘n pêrel. Ons ou spookkrappe weet almal hoe lyk ‘n pêrel. Dis net die jong krappe wat nie almal weet nie,” sê die ou spookkrap en kyk oor die nat seesand uit, “Julle kan gerus vir die spookkrappe wat daar anderkant die hoop bamboes woon gaan vra. As een van hulle ‘n pêrel gekry het, sal almal wat daar woon daarvan weet.”
“Dankie, ons sal dadelik vir hulle gaan vra,” sê Kwikker, “Kom klim op my rug, Mossoelie. Dis darem ‘n bietjie te ver om te loop.”
Hulle vlieg na die plek waarvan die ou spookkrap gepraat het en Kwikker land. Mossoelie spring vinnig van sy rug af.
“Hier bly sommer baie van hulle,” sê Kwikker, “Ek hoop net hulle weet iets.”

Twee spookkrappe sien hulle sommer dadelik.
“Is daar iewers moeilikheid?” vra hulle sommer gelyk.
“Nee, nie moeilikheid nie. Ons kom hoor net of julle ons kan help,” sê Kwikker.
“Help? Waarmee?” vra die een spookkrap.
“Ons kom hoor of julle miskien ‘n pêrel gesien het wat uitgespoel het. Mossoelie het sy pêrel verloor. ‘n Baie belangrike pêrel. Hy moet dit weer terugkry,” verduidelik Kwikker.
Die twee spookkrappe kyk vir mekaar.
“Be…belangrike pêrel?” vra die een.
“Ja, ‘n baie belangrike pêrel,” sê Mossoelie, “Ek gebruik die pêrel om my te help hier op Silwerstrand.”
“Hoe lyk die pêrel?” vra die ander spookkrap.
“Hoe kan die pêrel jou help?” vra die ander een.

“Dis ‘n kragpêrel…..dit maak my sterk en dan kan ek baie dinge doen,” sê Mossoelie.
“O..e…” lag die een spookkrap, “Dit klink na ‘n wonderlike pêrel.”
“Ja…e…ja..dit is ‘n wonderlike pêrel,” sê Mossoelie.
“As ek so ‘n pêrel in die hande kry sal ek jou mos nie sê nie, sê die ander spookkrap en bars uit en lag. 
“Het julle ‘n pienk lig gesien?” vra Mossoelie.
“Huh…e…pienk lig?” vra die spookkrap.
“Ja…’n vreemde pienk lig,” sê Kwikker, “Hier iewers is ‘n vreemde pienk lig. Ek het dit met my eie oë gesien. Dis onder die sand.”

“Huh…’n vreemde pienk lig?” sê die ander spookkrap, “Ons het nie so ‘n lig gesien nie. Gaan vra vir ons bure. Miskien het hulle. Maar, e…watse lig is dit?”
“Ons weet nie,” sê Kwikker.
“Nou hoekom soek julle dan die lig?” vra die ander spookkrap.
“Sommer…ons wil maar net weet,” sê Mossoelie vinnig.
Die twee spookkrappe kyk na mekaar.
“Ons het nie so ‘n lig gesien nie. Ons kan julle nie help nie, vriende. Totsiens,” sê die een en toe vat die twee spookkrappe die pad see toe.

Terwyl Kwikker en Mossoelie die spookkrappe agterna kyk, hoor Mossoelie iets agter hom tussen die bamboesslange. Hy spring om en sien ‘n klein spookkrappie. Toe die spookkrappie hom sien, skrik hy en skree: “Whaaa!!! Mamma!” 

Kwikker en Mossoelie kyk waarheen die verskrikte spookkrappie hardloop en dan ‘n entjie verder onder die sand in verdwyn. Hulle volg hom. 
Hulle is net betyds om te hoor hoe die spookkrappie se ma met hom raas omdat hy alleen op die strand gaan speel het.
“Kom ons vra haar,” sê Kwikker.
“Hallou Kwikker,” sê die spookkrap, “Wat maak jy vanmiddag hier?”
“Ek soek ‘n snaakse ding,” sê Kwikker.
“‘n Snaakse ding?” vra die spookkrap.
“Ja, ‘n pienk lig,” sê Kwikker, “Ek’s seker dit was hier waar ek dit gesien het. Dit was onder die sand.”
“O..e..daardie ding,” sê die spookkrap en sy lyk sommer baie bekommerd, “Hoekom?”
“Weet jy waar dit is?” vra Mossoelie opgewonde, “Dis..e..dis…dalk..”
“Sjuut..” maak Kwikker hom stil.

“Waar is dit?” vra Kwikker.
“Dis hier…diep onder die grond…dis soos dag in my donker huis vandat ek daardie wonderlike ding gekry het…e..wat wil julle daarmee maak?” 
“Hoe lyk die ding?” vra Mossoelie opgewonde.
“Hoekom wil jy weet? Dis my geheim. Ek wil nie hê die ander spookkrappe moet daarvan weet nie,” sê die spookkrap en sy loer vinnig om haar heen om seker te maak niemand het haar gehoor nie. 
“Waar het jy dit gekry?” vra Mossoelie nuuskierig.
“Ek het dit uit die bek van ‘n dooie vis wat op die strand uitgespoel het gehaal. Ek het nog nooit so ‘n verskriklike vis hier gesien nie. Sy kop is groter as sy lyf en sy tande so groot soos sy kop. Die vis het die mooi ronde ligklippie tussen daardie nare lang tande vasgeklou.”
“Regtig!” gil Mossoelie, “Kan ek die ligklippie sien?”

“Nee, ek wys dit vir niemand nie,” sê die spookkrap, “Dis myne.”
“Jy moet dit vir Mossoelie wys,” sê Kwikker.
“En wie is hy miskien?” vra die spookkrap.
“Het jy al van die Koningin van die See gehoor?” vra Kwikker.
“Natuurlik, wie weet nie van Koningin Azurina nie?” sê die spookkrap.
“Sy het vir Mossoelie na Silwerstrand gestuur om vir julle en al die ander seediere wat in die moeilikheid kom te help. Daardie ligklippie is sekerlik die pêrel wat hy saamgebring het. Dis Koningin Azurina se pêrel…”

Die spookkrap kyk verbaas na Mossoelie.
“Is dit waar?” vra sy.
“Ja, dis waar. En daardie aaklige vis met die groot tande, is een van Duiwelvis van die Donkersee se trawante. Duiwelvis wil die pêrel wat jy in jou huis het, hê. Baie dankie dat jy dit veilig gebêre het.”
“Ek sal dit altyd vir jou bêre,” sê die spookkrap, “Kan ek maar?”
“Jy kan dit vir my bêre tot ek weer ‘n huis het. My huis is deur die storm verwoes.

Maar eers wil ek baie graag my pêrel sien,” sê Mossoelie.
“Goed dan,” sê die spookkrap, “Ek gaan haal dit gou.”
Na ‘n rukkie bring spookkrap die pêrel uit haar huis na bo. Toe Mossoelie met sy hande daaraan raak voel hy hoe die pêrel skielik warm word en helderpienk skyn en skielik weet hy, dis ‘n waarskuwing……wat beteken dit?

Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
Kopiereg: Marianna Brandt
0
Would love your thoughts, please comment.x