“O, ek het so lekker geslaap,” sê Annelize. Sy loer uit die blom uit waarin sy geslaap het. Die son skyn helder en die lug is mooi blou. “Ek gaan vir my ‘n paar bessies pluk,” sê Annelize vir haarself. Sy begin fluit-fluit aanstap.
“Hallo Emma,” sê Annelize vir die vriendelike eekhoring.
“Wat gaan jy nou doen?”
“Ek gaan bessies pluk,” sê Annelize.
“Jy moet versigtig wees, want daar is partykeer slange daar,” waarsku Emma.
“Ag nee wat! Wie is nou bang vir ‘n slang,” sê Annelize en begin aanstap. Sy kom by die bessies en begin pluk. Skielik hoor sy ‘n geluid agter haar en sy swaai vinnig om. Dit is ‘n groot slang en hy staan reg om te pik. Annelize probeer wegkom, maar toe kom daar nog ‘n slang en nog een en nog een. Later is daar ‘n kring slange om haar en hulle kom nader en nader…
“Help! Help!” skree Annelize so hard as wat sy kan. Skielik kom daar ‘n voël uit die lug en gryp vir Annelize en vlieg met haar weg. Die voël vlieg tot by ‘n boom en sit vir Annelize op ‘n tak neer.
“Baie dankie dat jy my gehelp het,” sê Annelize vir die rooiborsie.
“Plesier,” sê die rooiborsie en vlieg weg.
“Ek sal jou nie vergeet nie,” roep Annelize agterna en sy waai vir die rooiborsie totdat sy hom nie meer kan sien nie.
“Hallo,” sê ‘n stem agter haar.
“Goeiemôre Marie,” groet Annelize die koningin mier.
“Kom slaap sommer vanaand by my,” nooi Marie.
“Dit sal lekker wees,” sê sy en volg vir Marie.
Marie se huis is in ‘n gat in die stam van ‘n boom. Die beddens is uit blaartjies gemaak. Annelize gaan lê en raak aan die slaap, want sy is baie moeg. Sy begin droom. Sy droom sy kom by ‘n deel van die oerwoud aan waar daar klomp ander klein seuntjies en dogtertjies soos sy is. Hulle sing en hulle lag en hulle speel. Hulle eet lekker kos en…
Annelize word wakker geskud deur Marie.
“Opstaantyd,” sê Marie.
Vaak-vaak klim Annelize uit die bed uit. Sy loop na die kombuis toe en gaan sit by die tafeltjie. Marie bring twee kleibakkies tafel toe. Hulle eet neute en wilde aarbeie wat Marie self gaan soek het. Toe hulle klaar geëet het, vertel Annelize vir Marie van haar droom.
“Ja, almal wil mos by hulle eie soort wees,” sê Marie.
Annelize groet Marie en loop by die deur uit. “Dankie dat ek hier kon bly,” sê sy.
Annelize klim teen die boomstam af. Toe sy onder kom is sy moeg omdat sy so ver geklim het. Sy gaan sit op die nat sand.
Daar vloei ‘n stroompie verby haar. Annelize soek na ‘n blaar en klim op dit. Sy ry op die blaar en dryf al verder en verder af met die stroompie. Na ‘n rukkie stop die blaar, want die stroompie het weggeraak.
Annelize klim van die blaar af. Daar staan ‘n bossie met bessies langs haar. Sy pluk ‘n paar bessies en eet hulle op. Skielik hoor sy stemme naby haar. Sy stap in die rigting van die stemme. Toe sy sien wat dit is, is sy verbaas.
Daar is klomp klein dogtertjies en seuntjies wat sing en lag en speel. Annelize eet lekker kos saam met hulle en sy gesels met hulle. Sy is baie gelukkig daar, maar sy verlang na haar ander vriende ook.
Annelize het lekker daar gebly die res van haar lewe, want haar droom het waar geword!
(Skrywer: Marguérite Fouché)