Danie is ‘n klein seuntjie en is agt jaar oud. Hy is baie lief vir dinosourusse, maar sy ma sê daar bestaan nie meer dinosourusse nie.
Eendag was hy weer in sy kamer toe hy iets hoor. Dit kom van onder sy bed.
Hy kruip saggies nader. Skielik steek daar ‘n klein neusie uit. Dit is ‘n dinosourus. Danie skrik hom boeglam.
Net toe kom sy sussie, Mia, die kamer binne. Hy probeer die klein neusie wegsteek, maar Mia sien dit.
“‘n Dinosourus” snak Mia na haar asem. “Ek kan nie glo daar bestaan nog sulke goed nie. Ek gaan vir ma sê.”
“Hoekom?” vra Danie.
“Want ‘n mens mag nie ‘n dinosourus in ‘n huis aanhou nie,” sê Mia.
“Dis nie waar nie,” kap Danie terug.
Maar Mia is al klaar die kamer uit en op pad om vir Danie se ma te sê.
Net oomblikke later kom Danie se ma die kamer binne. “Is dit waar dat jy ‘n dinosourus in jou kamer aanhou?” vra sy boos.
“Ja,” antwoord Danie.
Skielik begin Danie se ma in die kamer rondsoek en onder die bed kry sy ‘n klein dinosourus. Sy trek toe die dinosourus onder die bed uit, dra hom kar toe en ry reguit dieretuin toe.
Danie was baie hartseer oor sy dinosourus, maar hy kon darem elke Sondag vir hom gaan kuier. En raai wat was sy naam, Dino!
(Skrywer: Leon van der Vyver)