‘n Kreatiewe kreature-storie
In ‘n land baie ver hiervandaan, by ‘n groot meer, woon ‘n groot klomp swanedrake. Die mammas en die pappas werk en gesels en die kinders baljaar van vroeg tot laat. Een mamma sit geduldig op haar nes en broei.
Kort-kort maak Pappa Swanedraak ‘n draai by die nes. Hy is al skoon ongeduldig van die weke se gewag vir die eiers om uit te broei. Mamma Swanedraak weet sommer dat hierdie eiertjies binnekort sal uitbroei.
Sowaar! ‘n Paar uur later voel Mamma Swanedraak hoe die eiertjies begin kraak en vyf klein swanedrakies broei uit.
‘n Paar maande later is die vyf swanedrakies al sterk en hulle swem en baljaar te heerlik saam met al die ander. Een van die swanedrakies, klein Drommie Draak, is net anders as die ander drakies.
Drommie Drakie sit elke dag onder die groot wilgerboom en kyk hoe die voëltjies bo in die lug vlieg en sweef. Dan wens hy dat hy ook kan vlieg met sy vlerke.
Swanedrakies het vlerkies, maar hulle vlerkies kan nie vlieg nie. Hul vlerkies is heeltemal te klein vir hul lyfies.
Dae lank dink hy en wonder wat hy kan doen. Eendag hoor hy die groot swanedrake praat oor die towerpaddas. Hy hoor dat dit paddas is wie se agterlywe vas aan mekaar sit. Die paddas het twee tonge met sterk towerkrag op die punte. “Miskien sal die paddas my vlerkies groter kan toor?”
Een oggend vroeg, nog voor die son sy koppie uitsteek, vertrek Drommie om na die towerpaddas te gaan soek.
Laatmiddag kom Drommie Drakie moeg en uitgeput by die towerwaterval uit. Hy wonder hoe hy die towerpaddas in die hande sal kry? Nog voor hy verder kan dink, hoor hy skielik ‘n vreeslike brulgeluid en hy skrik hom amper flou. ‘n Yslike draak met vlammende rooi oë staan voor hom. Sy slagtande is lank en die speeksel drup uit sy bek.
“Wat soek jy?” brul die gedierte.
“Ek soek na die towerpaddas. Kan jy my dalk help?” vra Drommie in ‘n bewerige stemmetjie.
Die gedierte verdwyn en nie lank daarna nie spring die towerpaddas uit die water tot voor Drommie. Drommie staar verbaas na die paddas. Hulle is by hulle rûe aan mekaar vas.
“Amper soos ‘n siamese tweeling,” dink hy.
Drommie was verniet so bang. Die paddas is heel vriendelik. Hulle luister hoe hy vertel dat hy graag sal wil vlieg. Die towerpaddas drup drie druppels van die toormengsel uit die ronde stekelsakkies op die punt van hul tonge, op Drommie se klein vlerkies. Tot Drommie se verbasing voel hy sy klein vlerkies al groter en groter word. Drommie flap sy vlerke drie keer en voel hoe hy in die lug opstyg.
“Baie baie dankie,” sê hy.
Sommer gou vlieg Drommie tot by die huis.
Drommie het nog skaars geland, of hy sien dat daar ‘n groot groep swanedrake saamdrom. Hy hoor net hoe huil almal. Drommie stap nader en hoor dat Driekie Swanedraak ontvoer is. Hy is sommer baie omgekrap, want Driekie is sy beste maat.
Drommie vra ontsteld, “Wie het Driekie ontvoer?”
Mamma Swanedraak antwoord hartseer, “Dit is die nare driehoringslangkop. Dit is verby met Driekie!”
Drommie sug, want almal weet dat die nare slangkop op die hoogste bergpiek tussen die kranse in ‘n grot bly.
Skielik onthou hy dat hy nou ook kan vlieg. Hy styg dadelik in die lug op. Al die swanedrake roep uit van verbasing.
“Drommie kan vlieg! Kyk!”
Drommie vlieg tot by die hoogste bergpiek, tussen die kranse, waar die driehoringslangkop woon. Dapper stap hy in die slangkop se grot in. Hy hoor vir Driekie waar sy snikkend in die donker sit. Die driehoringslangkop snork soos hy slaap ‘n entjie van Driekie af.
Drommie tel vir Driekie versigtig op en sluip op sy tone na die ingang van die grot. Skielik raak die driehoringslagkop wakker. Die slange seil uit sy gesig en peil reguit op Drommie en Driekie af. Drommie gee ‘n reusesprong uit die grot en fladder sy sterk vlerke. Hy vlieg vinnig na die huis, maar toe hy omkyk, sien hy die driehoringslangkop volg hulle.
Drommie vlieg so vinnig as wat hy kan na ‘n hoë krans. Hy sit vir Driekie saggies neer en draai om en vlieg terug na die driehoringslangkop. Drommie gebruik sy snawel en byt twee groot happe uit die slangkop se vlerk. Die monster val met ‘n brul af grond toe en val hom morsdood op die grond.
Drommie gaan haal vir Driekie en vlieg met sy groot, sterk vlerke huis toe. Al die swanedrake juig toe Drommie vir Driekie veilig op die grond neersit.
“Drommie is ‘n held!” skree al die swanedrake gelyk.
Nie lank daarna nie, is Drommie en Driekie getroud. Driekie was die gelukkigste swanedrakie in die hele wêreld.
(Skrywer: Juanette Coetzee)