‘n Kreatiewe kreature-storie
Arrie het geskrik toe hy my die eerste keer gesien het. Sy oë was so groot soos pierings en terwyl hy in die huis hardloop, skreeu hy vir sy ma dat daar ‘n monster op die grasperk is. Arrie se ma vra toe wat se monster en hy sê, ‘n uh, uhm, … ‘n dino.., ‘n dinoso… Sy ma sê, nee man, dinosourusse het lankal uitgesterf maar hy kan ‘n koekie uit die blik vat en met sy monster gaan speel. Sy sê sy kan nie saam kom nie want sy was skottelgoed.
Arrie het versigtig nadergekom en my die koekie gegee wat ek vinnig opgeëet het want ek was baie honger.
“Waar kom jy vandaan.” Arrie se oë is nog steeds groot.
“Hier agter die klipkoppie, die eierdoppe lê nog daar. Wil jy gaan kyk?” vra ek opgewonde want ek is nou al ‘n maand oud en niemand om mee te speel nie.
“Jissie ja,” sê Arrie en vertel my hy het uit sy ma se maag gekom.
Oppad na die koppie stry ons want ek sê alle babas broei uit eiers. Arrie sê aikona, hy kan nie onthou van enige eierdoppe in sy kot nie.
“Kom ek gaan wys jou,” sê ek en ons klim die hoë koppie uit.
Agter ‘n groot klip lê die groot wit doppe.
“Sien jy nou,” sê ek trots.
Ek en Arrie rus ‘n bietjie op ‘n klip terwyl hy met ‘n eierdop speel.
“Dit is nogal dik nê, amper so hard soos klip.”
Ek is nog honger en kou aan ‘n stuk van die dop maar Arrie is reg, dis hard en dit proe sleg.
“Jy weet, my ma glo nie aan monsters nie. Sy sê jy kan nie bestaan nie.”
“Maar hier sit ek dan voor jou. En wat is ‘n monster?” vra ek.
“In my monsterboek is daar baie prentjies van diere soos jy. Party is baie groot met lang tande en het skubbe op. Ander het vlerke soos jy en dan is daar een wat kan vuur spoeg wat einlik ‘n draak is. Maar ek het nie geweet monsters kan praat nie.”
“Ek ken ook Xhosa,” sê ek en stoot my bors uit.
“O ja, en dit sê ook in my boek dat monsters baie kan lieg.”
“Molo, ewe, unjani, ndiphilile.”
“Wat beteken dit?”
“Hello, hoe gaan dit, goed dankie.”
“‘n Monster wat Xhosa praat. My ma gaan my nooit glo nie.”
“Het jy nog koekies, ek’s honger.”
Terwyl ons terugloop plaas toe, klap ek my vlerke maar styg net ‘n entjie op. Dit moet nog groei sê Arrie.
By die huis vra Arrie vir nog ‘n koekie. Sy ma sê dis die laaste vir die dag. Hy vertel sy ma dat ek ook Xhosa kan praat maar sy lag en sê dat monsters nie kan praat nie, al wat hulle kan doen is om mense bang te maak. Arrie stry met haar maar sê sy is te besig om te gaan kyk maar vra wat is sy monster se naam.
“Wat is jou naam,” vra hy terwyl ek die koekie eet.
“Ek het nie ‘n naam nie, dis lekker koekies, wat se soort is dit?” wil ek weet.
“Tjoklit chips,” antwoord hy. “Dis nou ‘n ding, eers sê my ma dat daar nie monsters nie is nie en dan dat hulle mense net bang maak en dan vra sy jou naam. En jy is die heeltyd honger. Wat gaan jy eet”
“Tjoklit chips,” sê ek.
“Aikona, my ma sê daardie was die laaste een vandag.”
“Nee, ek bedoel Tjoklit chips is my naam.”
“Jou naam kan nie Tjoklit chips wees nie, dis die koekies se naam.”
“Is nie, ek onthou nou dis my naam.”
“Issie, dis net omdat dit die koekies se naam is dat jy so sê,” stry Arrie
Ek word kwaad en toe ek hardop skree, “Tjoklit chips is my naam,” spring daar ‘n lang rooi vlam by my mond uit.
Ons skrik ons boeglam en Arrie se ooghare is gebrand.
“Jislaaikit,” stotter hy verbaas terwyl hy droë stukkies ooghare van sy gesig afvryf.
Arrie spring op en dans opgewonde rond.
“Jy kan vuur spoeg, jy’s die draak wat kan vuur spoeg,”
“Okei, oukei, jou naam kan Tjoklits wees,” sê hy toe hy weer gaan sit.
“Tjoklit chips,” sê ek hard.
Hy keer vir sy gesig en sê, “olraait, oukei maar dan moet chips jou van wees, mens het net een naam.”
“Goed, my naam is Tjoklits,” kondig ek trots aan.
Arrie kyk my vol bewondering aan al het hy nie een ooghaar op sy kop nie.
Voor dit donker word, sit Arrie sagte strooi in een van die buitekamers sodat ek sag en warm kan slaap. Hy wou my in sy kamer laat slaap het maar hy dink sy ma is nog bang vir monsters, wat nog te sê van drake, en hy’s bang ek steek per ongeluk die huis aan die brand.
Ek kon hoor hoe sy met hom raas. Sy glo nie dat ‘n monster wat eintlik ‘n draak is en wat se naam Tjoklits is, sy ooghare afgebrand het nie. Sy gaan ook sy pa hiervan vertel en vra dat die petrol veilig gebêre word.
Ek wil julle nog so baie stories vertel soos toe ek geleer om te vlieg en toe die honde op die plaas my gejaag het maar ek is nou moeg en wil gaan slaap. As julle mooi soet is dan vertel ek julle more hoekom Arrie die verkyker gebou het wat op my kop is.
(Skrywer: Cobus Brits)