Die avonture van die Parramallallas

Naaswenner in Storiewerf se Vonkelfiksiekompetisie 2007 (10-13 jaar)

‘n Kreatiewe kreature-storie

Eendag, lank lank gelede, was daar ‘n Parramallalla-gesin. Dit was Pappa Parramallalla, Mamma Parramallalla, en Donsie en Sponsie Parramallalla.

Donsie en Sponsie was ‘n siamese tweeling, en hul grootste droom was om los te wees van mekaar.
Hulle twee was alewig aan die baklei en hulle pappa en mamma was al raadop. As Donsie wou regs gaan wou Sponsie altyd links gaan, dan het albei geval.

Toe hulle omtrent twaalf paddajare oud was, het hulle mamma gesê, “Julle twee moet nou ophou baklei. As die hout weer op is, moet julle bos toe gaan om hout te gaan haal. Indien julle terugkom met ‘n nuwe bakleiery sal julle vir die res van die jaar gehok wees en ek gaan julle selfone vat.”

Hulle het baie bang geword, want nie een van hulle kan sonder mxit klaarkom nie. Hulle maak toe ‘n plan. Hulle sal nie baklei nie en voor hulle ma sal hulle maak asof hulle maklik in vrede kan saamleef, maar agter haar rug kon hulle mekaar nogsteeds nie verdra nie.

Die dag kom toe dat hulle moet bos toe gaan, want al die hout was op en dit was baie koud.

Hulle begin toe loop, maar in die eerste paar minute loop hulle die Whiekie Mawhakkie raak. Die Whiekie Mawhakkie is die slegste towenaar wat daar in die hele bos is; nie sleg omdat hy niks kan regkry nie, maar sleg omdat hy onmin saai oral waar hy gaan.

Niemand het dit vir Donsie en Sponsie gesê nie.

Die Whiekie Mawhakkie vra hulle toe: “Kan ek julle tweetjies dalk help?” waarop Donsie antwoord: “Asseblief Oom, ons moet hout bymekaarmaak, maar ons is soort van verdwaald hier in die bos.”

Sponsie pomp hom in sy ribbes: “Jy kan nie net met vreemdelinge praat nie; netnou is dit soos op Rooikappie waar die wolf haar verlei en toe later probeer opeet!”
Maar Donsie sê: “Eerstens is hy nie ‘n wolf nie, tweedens het Rooikappie nie ‘n selfoon gehad nie en derdens is ons nie oppad na ‘n ouma of iets toe nie.”
Die Whiekie Mawhakkie, wat heeltyd gestaan en afluister het, sê toe vir hulle:

“Julle hoef nie bang te wees nie; almal in die bos ken my en ek weet van baie hout hier in die bos.”
Die tweetjies besluit toe, sonder om iets te sê, dat hulle maar hierdie Whiekie Mawhakkie sal vertrou, want hoe gouer hulle klaar hout optel, hoe gouer kan hulle weer op mxit gaan.

Hulle was toe nie eers meer bang nie, want hulle het nog nie geweet in watter gevaar hulle nou is nie. Die Whiekie Mawhakkie lei hulle na ‘n digte bosdeel van die gewone bos, daar waar dit baie donker is.
Ewe skielik is hulle stoksielalleen; die Whiekie Mawhakkie is weg. Hulle raak verskriklik bang, want hulle is heeltemal alleen en hulle weet nie waar hulle is nie. Donsie besef net betyds dat hy sy selfoon by hom het, en hy “please call me” sy ma.

Sy ma bel hom en toe sê hy vir haar: “Mamma, ons het verdwaal in die bos en ons is baie bang. Sal julle ons asseblief kom haal? Ons is in ‘n baie digte deel van die bos, maar ons wil nie beweeg nie, want netnou val ons in gate of iets,” waarop sy ma antwoord: “Okay, ons sal julle kom haal, sing net kliphard ‘n liedjie dan kan ons julle stemme volg.”
Hulle begin sing, die een liedjie na die ander, en uiteindelik daag hulle ouers op – maar nie alleen nie.

Die Whiekie Mawhakkie het ook die gesing gehoor en hy het geweet dat as die kinders se ouers hulle kry, hulle die hele storie gaan hoor en dan is dit klaar met die Whiekie Mawhakkie.

Hy kom toe gelyk met die Parramallallas daar aan en hy besef hulle het ‘n hele mag van die bos saamgebring. Koning Spreeu, die hele Polisiemag onder leiding van Krokodil en al die ander diere wat klein kindertjies het, is daar.
Die diere en die Whiekie Mawhakkie veg teen mekaar, maar dit was duidelik wie sou wen, want die diere was baie meer as een ou Whiekie Mawhakkie. Die diere jaag toe die Whiekie Mawhakkie uit die bos uit en verbied hom om ooit weer terug te kom.

Donsie en Sponsie het natuurlik ongeskonde uit die hele geveg uitgekom, want hulle was weer op mxit besig om hulle pêlle te vertel wat gebeur.
Hulle het ook nooit weer baklei of met vreemdelinge gepraat nie. Mamma en Pappa Parramallalla was so trots dat hulle kinders nie meer baklei nie, dat hulle hulle na die Goeie Fee toe gevat het en sy het hulle losgemaak van mekaar.

Van daardie dag af was die Parramallallas die gelukkigste gesin in die bos en daarom het hulle hulle van verander na Paddas, “want,” het hulle gesê, “mense gaan nie oor ons kan praat of skryf sonder dat hulle tonge vashaak nie.”

En dis hoe die Parramallallas Paddas geword het.

(Skrywer: Cornita Steenkamp)

Die storie is geskryf deur Cornita Steenekamp (12) Die storie was naaswenner in Storiewerf Vonkelfiksie Kreatiewe Kreature Skryfkompetisie 2007 – Afdeling B
2007-09
0
Would love your thoughts, please comment.x