Vertel my meer van jouself, jou werkswyse en veral hoe jy dié spesifieke boek se illustrasies benader het.
Ek het so jaar terug oorgeslaan van tradisionele media na digitaal, so al my illustrasies teken en verf ek deesdae direk op die rekenaar. Ek leer nog die proses, maar my uiteindelike doel is om tradisionele media, soos kryt en verf, na te boots op die rekenaar dat dit nie lyk asof my illustrasies op die rekenaar geteken is nie. My rede vir die oorslaan na rekenaar is dat dit 100 maal vinniger is. Dis ook makliker om veranderinge aan te bring aan illustrasies. Verder het ek meer kontrole oor die finale produk, soos kleur en lyn as wat ek sou hê met ‘n illustrasie op papier. Dan is daar ook natuurlik die bonus dat die finale kunswerk nie gestuur hoef te word vir skandering nie en dit lekker vinnig afgelewer kan word aan die uitgewer via die internet.

Formule Drie, Twee, Een! was my tweede boek wat ek digtaal geverf het. Die ‘tricky’ deel vir my was dat daar nie ‘n spesifieke hoofkarakter was wat die leser kon volg van begin tot einde nie. Maar dis waar illustrasie en teks so lekker saam kan werk in ‘n prenteboek, want ek kon een karakter kies (in hierdie geval die seun wat wen aan die einde) en hom na die voorgrond bring en ‘n soortvan hoofkarakter maak in my illustrasies; al word hy nie spesifiek so genoem in die teks nie. Dit los dan ruimte vir die teks om nie onnodig tyd te mors aan karakterisering nie, maar eerder aan te gaan met die storie se vertel.
Wat se opleiding het jy?
BAFA met Toegepaste Grafiek (grafiese kuns) en ‘n honneurs in illustrasie verkry by Stellenbosch Universiteit.
Wou jy nog altyd kinderboeke illustreer?
Ek wou eintlik strokiesprente soos Asterix teken – lank terug toe ek klein was. Ek het eers in matriek besluit om kuns te gaan swot (het nie kuns op skool geneem nie). En eers heel aan die einde van my kursus besef hoe lekker prenteboeke en strokiesprente is, toe ek Paddy Bouma (kinderboekillustreerder) vir ‘n dosent gehad het. Ná my eerste prenteboek, wou ek nie eintlik iets anders doen nie.
Hoe gaan jy te werk wanneer jy ‘n prenteboek moet illustreer?
Dit vat my nogals lank om aan die gang te kom met die teken deel. Ek het nie eintlik ‘n spesifieke metode wat ek rigied navolg nie. Gewoonlik begin ek deur die karkatersketse van almal in die boek te doen en te beplan. En saam met dit, ‘n klomp ‘thumbnail’ sketse van die bladsye. As ek gelukkig is, het die uitgewer vir my die bladsy-uitleg saam met die manuskrip verskaf – indien nie, moet ek heel eerste die manuskrip opdeel sodat die boek in 24 bladsye inpas. Dis seker die grootste kopseer van die hele proses. Wanneer ek uiteindelik die bladsye teken, spring ek rond deur die boek; baie keer begin ek in die middel en doen ek die laaste bladsy voor die eerste bladsy.
Hoe sien jy die rol van die illustreerder van ‘n prenteboek? Hoeveel vryheid gun jy jouself vir eie interpretasie?
Dit hang af hoeveel vryheid die uitgewer my gun; ek sal soveel moontlik my eie interpretasie insit. Ek sien illustrasies in ‘n prenteboek as ‘n tweede vlak van storievertel wat die teks visueel help en versterk. Dalk is dit ‘corny’ maar ek sien baie keer die interaksie van teks en illustrasie soos twee mense wat saam wals of tango; elkeen het sy spesifieke rol en saam probeer hulle ‘n pragtige uitvoering gee.
Piet Grobler meen dat illustrasies ‘n vorm van vertaling is. Wat dink jy?
Dis nogals ‘n goeie beskrywing. Illustrasie is vir my ook ‘n vorm van ‘n idee/storie/gedagte oorbring deur oordrywing; hetsy die oordrywing van ‘n situasie of karakter, ens.
Watter rol speel die illustrasies in ‘n prenteboek vir die manier waarop ‘n storie gelees en verstaan word?
Illustrasies definieer baie keer die ‘mood’ en gevoel van hoe die storie gelees kan word.
Vertel bietjie hoe jy Formule Drie, Twee, Een! benader het.
Formule Drie, Twee, Een! se storie het ‘n vinnige pas met ‘n oorheersende konsep van ‘PRET!’ en ek het die illustrasies ook so benader; die uitleg is nie rigied nie en my lynwerk is los en wild.
Elke illustrasie van Formule Drie, Twee, Een! was vir my ‘n verrassing. Ek hou veral van die humor wat jy deur die illustrasies uitgebeeld het. Hoe belangrik is humor vir jou in prenteboeke? Hoe sal jy jou eie humorsin beskryf?
Ek’s bly om dit te hoor! Humor is baie baie baie belangrik. ‘n Prenteboek, maak nie saak hoe ernstig die tema is nie, moet nogsteeds die leser kan ‘entertain’ en humor is een van daai dinge wat universeel tot almal spreek; oud en jonk. Ek sit nie altyd humor aspris in my illustrasies nie, partykeer kom dit vanself. Ek teken baie op gevoel. My gunsteling illustrasies is die wat my laat lag wanneer ek dit teken.
My eie humorsin? O, jitte… ek wonder partykeer of ek nie eintlik ‘n baie donker en siniese uitkyk op die lewe/humorsin het nie. Ek hou van lag. Dis lekker. Miskien is dit makliker om te beskryf deur te dink wat my humorsin NIE is nie – ie. dit wat my nie laat lag nie. Ek hou nie van humor wat gebruik word ‘at the expense of someone else’ nie. Daar’s veral deesdae baie tv programme wat hierdie resep volg, ongelukkig – Dit kraak een persoon af sodat die res van ons wat op die sofa lê vir hom kan lag. Sarkasme is nog een; dis seker een van die moeilikste ‘tools’ om suksesvol in iets soos bv. ‘n strokiesprent te gebruik; sonder die nodige ‘skill’ en finesse kan dit wat bedoel wou word as snaaks, net plein ongeskik lyk.
Wat is jou gunsteling tekening in Formule Drie, Twee, Een!
Die eerste bladsy en p16.

Jy het ook ‘n eie prenteboek geskryf en geillustreer (Hou vas, Seekoei!) Vertel meer hiervan.
Die idee van Seekoei was een van ‘moenie tou opgooi nie’ of ‘aanhouer wen’. Ek het eendag op die strand gesit en gesien hoe ‘n dogtertjie se lilo wegwaai. Dis waar ek toe die idee gekry het.

Beplan jy nog ‘n eie prenteboek?
Jaaaaa, ek het so klompie idees en halfgeskribbelde manuskripte, maar my tyd is so knap dat ek al my aandag op die oomblik (vir nou) toespits op my illustrasie. Die kompetisie hier is so moeilik dat ek my tekenvermoë en tegnieke moet ontwikkel en verbeter en baasraak alvorens ek myself weer sal blootstel aan skryf.
Jy het ‘n weeklikse strokie in die Volksblad. Waar kom jou idees vir die strokie vandaan?
Ek weet rerig nie; ek is soms net bly en verlig dat ek dit kry, want daar is min goed so aaklig soos om nie ‘n idee of ‘n konsep te hê nie en net ‘n blank te slaan! Alledaagse gebeure om my is seker waar ek 99% van alle idees kry.
In watter genre en medium verkies jy om te werk?
Strokies en prenteboeke is my twee gunstelinge. Hulle’s albei so verskillend, maar tog so bevredigend op hul eie manier.
Jy woon die afgelope vier jaar in Engeland. Het die nuwe omstandighede jou kuns beïnvloed?
Definitief. Op ‘n positiewe manier, al is en was dit nie altyd lekker nie. Dis moeilik hier, want die kompetisie so straf en baie. Ek het so paar maande terug ernstig gewonder of ek nie eerder moet ophou en iets anders kry om te doen vir ‘n lewe nie; iets wat meer sekuriteit verskaf nie.
Ek moes leer om terug te staan van my werk en om krities daarna te kyk: om te sien hoe ek dit kan verbeter en waar my swakhede lê. Die probleem van illustreer is dat dit ‘n baie ‘alleen’ tipe werk is en al manier om te verbeter en te groei is deur te luister na kritiek en daardie kritiek te evalueer as positief of negatief. So lekker as wat dit is om prentjies te teken, is dit tog op die ou end van die dag ‘n besigheid met ‘n produk wat verkoop moet word. As mens nie gereeld feedback/ terugvoering kry van hoe ander mense jou produk sien en ervaar nie, gaan dit maar sukkel om die produk te verbeter en te verkoop. En die moeilikheid (al is dit dalk vanselfsprekend) is dat mense in verskillende dele van die wêreld, kinderboeke op verskillende maniere benader; elke keer wat ek ‘n projek doen, leer ek iets nuuts. Dis baie keer ‘daunting’ maar dis opwindend!
Ek is ook nou in die bevoorregte situasie waar ek ‘n kinderboek agent het in London, so ek het iemand wat krities na my werk kyk op beide ‘n kommersiële en kunstige vlak en vir my ‘feedback’ verskaf – ek kan dus fokus op my teken en die bemarking oorlaat aan ander mense.
Met watter ander projekte is jy besig?
Ek werk aan ‘n paar ontwikkelingsprojekte vir die Britse opvoedkundige mark, maar die lekkerste projek vir hierdie week, is die tweede boek van Jamie en Sebastian deur Martie Preller en Martie Kruger (Lapa). Twee ander opwindende boeke wat nou binnekort gaan verskyn na ons Formule Drie, Twee, Een! is Arboreta, die heks met die groen hare, deur Riana Scheepers (Protea Boekehuis) en my eerste Kanadees/Amerikaanse boek (Mom and Dad don’t live together anymore – ‘n hersiende weergawe van Kathy Stinson se boek uit die 80’s met dieselfde titel (Annick Press).