Miserella sak grond toe, die donker deur teen haar rug, met die wind wat haar hare stringerig verby haar gesig waai. Wat haar trane droogmaak so gou as wat sy hulle kan huil.
Buite die kamer hoor sy nog Juvenis, Violenta en Laniolet se stemme. Maar sy kan nou nie meer uitmaak wat hulle sê nie. Dit smelt weg saam met die geluide in die vertrek. Die klap, skuur en kraak van meubels, die suisende wind, die grommende onheil.
En in haar kop kom daar nóg geluide, diep, swaar orrelklanke, dreunend. Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus, Juvenis se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek wat Volaticus vir sy vrou gekomponeer het ná haar wrede dood aan die kake van ‘n weerwolf, so word vertel.
Miserella probeer die snikke wat uit haar bors wil bars, in toom hou. Haar oë is vasgenael op die vaas met die as.
Dit word stil. Skielik. Die windjie draal net vir ‘n oomblik langer en raak dan ook weg.
Is dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos gister? Gaan daar niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry om uit die as op te staan nie?
Vrae wat oor en oor deur haar spoel.
Maar toe! ‘n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak af, vloer toe. Die tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug. Die kerse ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer is nou gehul in ‘n helder wit lig, wat dring tot in elke donker skeur en vergete hoek. ‘n Geluid soos botsende treine, skeurende metaal en hartverskeurende gille.
Meubels skuif na die mure toe van die impak in die middel van die vertrek. Miserella gryp haar bene vas. Arms beskermend oor haar lyf. ‘n Stoel tref haar teen die skouer. Sy byt op haar tande van pyn. Byt haar wang aan die binnekant raak en proe bloed in haar mond.
En in al hierdie waansin tuimel die vaas daar voor haar grond toe, saam met die glaskissie. Miserella sien dit in stadige aksie, draaiend. Die vaas se deksel gly af, as wolk mistig uit die vaas se tollende bek. Die aswolk wat dan onnatuurlik begin krul, groter word.
Buite die deur hoor Miserella nou iemand gil. Aanhoudend. Juvenis, dink sy, maar haar gedagtes is vasgevang in dit wat sy hier voor haar sien.
Nog ‘n weerligstraal wat die mure ruk en ‘n gordyn voor die venster wegskeur. Die venster breek oop, glas spat, blare en sand waai in.
Maar die aswolk bly onaangeraak, word digter, digter. Miserella moet haar oë knip teen die trane en vrees.
“Miserella!” hoor sy weer vir Juvenis.
En uit die as verskyn daar nou ‘n bonkige figuur, eers dofgrys soos uitgebrande stompe in ‘n dooie vuur. Die as begin effens wegsyfer. Die silwerwit lig word nou dowwer, maar is steeds helder genoeg vir Miserella om te sien hoe die silhoeëtagtige figuur in die wolk sy hande oplig, aan sy gesig vat.
Dis ‘n man, kan Miserella uit sy houding aflei, breë skouers, voete uitmekaar.
Toe is daar ‘n geluid soos iets wat val. Iets geels, sien Miserella. Metaalagtig. Goue muntstukke wat uit die as op die vloer neerkletter en wegrol onder die meubels teen die mure in.
Die man is blykbaar nie eens daarvan bewus nie. Hy vee nog met sy hande oor sy lyf. Toe steek hy sy hand voor hom uit. En die hand kry ‘n kleur: doodsbleek vel met blou, bultende are. Nou die ander hand, ‘n silwer ring aan een vinger, ‘n ring met ‘n kraai op.
Miserella trek haarself kleiner teen die muur.
Die man gee ‘n tree vorentoe. Vuil swart skoene, grys langbroek, gekreukelde baadjie. Vergeelde hemp met ‘n dun, swart strikdas wat uitrafel aan die punte.
Sy kop is bles, sien Miserella, want hy kyk af vloer toe, sy gesig gehul in skadu’s. Miserella hou haar asem op.
Hy lig sy kop op.
Die skadu’s val van sy gesig af soos vlermuise van ‘n grot se dak.
Sy vel is grof, groot neus met dun neusvleuels. Sy bokaak strek ver verby sy onderkaak. En dan . . . sy wrede groen oë onder die wilde wenkbroue.
Hy knip sy oë een keer, draai sy kop skuins, snuif, glimlag boosaardig. Sy verrotte botande steek uit onder die bloedlose lippe.
Mortallus!
Hy draai sy kop in Miserella se rigting. Sy wenkbroue lig en laat sy oë nog groter lyk, sodat sy die wit aan die bo- en onderkant kan sien.
“Ná al die jare . . .” grom hy binnensmonds. Sy stem skuur oor sy lippe.
Miserella lê steeds in ‘n bondeltjie teen die deur. Mortallus kom nader. Afgemete treë, nader. Nou eers los sy haar bene wat steeds in haar arms opgetrek was. Sy begin wegkruip, al met die muur langs, stoot meubels uit haar pad.
“Moenie bang wees nie . . .” sis Mortallus.
Nader.
Miserella voel die kamer se hoek teen haar rug. Sy kan nie verder nie, maar Mortallus kom steeds nader.
Sy gesig verander heeltyd, vriendelik, boos, treurig, asof hy nie sy emosies onder beheer kan kry nie. Sy mond wat heeltyd oop- en toegaan. Hy steek ‘n hand uit, die een met die silwer ring aan.
“Miserella, nie waar nie?” draal sy growwe stem.
Sy hand is nou hier by haar gesig. Sy ruik sy vel. Dit ruik na as.
Mortallus vat aan haar ken. Miserella probeer haar gesig wegdraai. Hy vat haar ken stewiger vas, draai haar gesig terug.
Nou kom sy gesig nader.
En sy ander hand, die een met die mes wat Miserella die dag op die tafel agtergelaat het toe sy geskrik en weggehardloop het.
Miserella se oë val bang op die mes se lem. Haar asem ruk.
Die lem blink naby haar keel.
Toe hoor sy hoe die deur oopgebreek word.
…