Diep in die hartjie van die bosveld waar die jakkalse rondsnuffel en die patryse goggas soek, woon ‘n volstruismuis.
Snags slaap hy in ‘n sagte bol opgerol in sy huisie onder die boomwortels en bedags soek hy tussen die klippers en graspolle na snoepsels.
Hy gesels graag met die patryse en partykeer kuier hy ‘n bietjie by die eekhorings, maar snoepsels is waarna hy eintlik soek. Partykeer kry hy die snoepsels sommer maklik. Hulle is veral volop net ná die reëntyd. Ander kere sit hulle ‘n bietjie hoog, sodat hy maar sukkel om hulle by te kom. Soms, na lang tye van droogte en winter in die bosveld, soek hy baie dae lank vir net ‘n ou paar snoepseltjies.
Eendag, en dit was glad nie so lank gelede nie, kan volstruismuis geen snoepsel meer kry nie. Nie eens enetjie nie!
Hy is naderhand so honger dat hy op sy sagte wolboudjies gaan sit en geduldig begin dink en dink aan iets wat hy kan doen om nie meer aan snoepsels te dink nie:
Hy borsel sy stert se tossel dat dit pofff;
Hy trek elke klitsgras uit sy wollyfie;
Hy ryg naderhand vir hom ‘n string saadjies aan ‘n grashalm om om sy nek te hang…
Maar dit help alles niks, want sy maag gee ‘n knorrr dat die eekhorings hul sterte wip en woerts-warts wegkruipplek soek en die patryse aan die sketter raak tot sy arme ore daarvan tuit.
Volstruismuis weet hy gaan nie snoepsels kry van stilsit en dink nie. Hy sal verder moet gaan soek. Iewers in hierdie groot, wye wêreld moet daar tog ‘n plek wees waar daar nog snoepsels is.
Toe sug volstruismuis lank en diep en gaan rol hom in sy graskombersie toe agter in die holte van sy huisie onder die boomwortels.
Vroeg die volgende oggend, nog voor die patryse hul koppe onder hul vlerke uitgehaal het, vou hy sy graskombers vir oulaas op en begin hy stap. Een keer, net een ou keertjie, kyk hy om na sy holte-huisie tussen die boomwortels, maar toe word hy so hartseer dat twee groot trane oor sy wolwange loop en hy haastig ‘n stukkie groen blaar moet afskeur om sy neus te snuit.
Volstruismuis stap deur die stowwerige bosveld tot die son naderhand op is. Hy drink van die dou op die gras en dink aan snoepsels. Vir die jakkals met sy lang snoet wat nader gedraf kom, skrik hy nie. Hy gee net een *POFFF* en ou Jakkals nies tot sy oë daarvan traan. En vir ou leeu met sy stink lyf KYK volstruismuis nie eens nie; hy is te besig om aan snoepsels te dink.
Verder en verder stap Volstruismuis – tot daar waar hy nog nooit was nie. Die son sit later hoog en bak sy wollerige lyfie vuurwarm, maar van snoepsels is daar geen teken nie.
En toe hoor hy iets wat hom laat vassteek.
Stemme! Vreemde geluide wat hy nog maar selde en net van ver af gehoor het hier in die bosveld, maar hy weet baie goed wat dít beteken. Hy is naby mense!
Hy rek sy nek om beter te kan sien en wikkel loer-loer nader, maar o liewe deug! Die mense is yslik groot en hulle sit om ‘n vuur!
Volstruismuis skrik so groot dat hy hom bolrond oprol en doodstil bly lê.
Hy maak sy een oog oop en loer onder sy oor deur.
Daar is ‘n pappa, ‘n mamma en ‘n kleine.
En toe sien Volstruismuis die wonderlikste ding wat hy nog ooit gesien het – die grootste, rondste, liefste snoepsels en almal is in ‘n yslike grasmandjie bymekaar!
Soveel snoepsels het hy nog nooit bymekaar gesien nie. Sy magie begin rammel en knorrr van die honger.
“O, aarde,” sê die pappa-mens. “Ek hoor die weer dreun. Miskien moet ons maar liewer oppak en huis toe gaan voor ons dalk natreën.”
O, nee, dink Volstruismuis. Oppak en saam met daardie mandjie snoepsels huis toe gaan? Sonder hom wat Volstruismuis is? So nooit as te nimmer!
Hy maak sy lang nek nog langer en wikkel sag-saggies en sluip-sluip en so vinnig as wat sy ronde lyfie maar kán, tot by die grasmandjie.
Dis die snaaksste snoepsels, dink hy toe hy teen die kant van die mandjie begin opklouter – hulle RUIK glad nie soos snoepsels nie…
En toe…
…val hy binne-in die mamma se werksmandjie en bly hy net daar tussen die bolle wol lê.
“O, deug,” dink hy. “Dis toe nooit regte snoepsels nie!”
En Volstruismuis rol hom bolrond op van skone teleurstelling.
Die mamma vou die piekniekkombers op en vat die mandjie en sit hom voor by haar voete in die motor en die pappa en die mensekind klim ook in en daar ry hulle weg van die bosveld af.
Arme Volstruismuis! Daar is amper nie woorde in enige taal wat kan vertel hoe hierdie wegryery van die bosveld af hom ontstel nie. Hulle het al baie kilometers ver gery voor hy vir die eerste keer weer aan ‘n snoepsel kan dink. En dit moes hy liewer nie gedoen het nie, want sy maag raak so woes aan die raas, dat die pappa stadiger ry en hardop wonder of daar dalk iets met die motor se enjin skort.
“Ek hoor ook iets,” sê die mamma. “En dit klink vir my dit kom hier by my mandjie uit.”
Toe klim Volstruismuis darem baie vinnig uit die mandjie en glip onder die sitplek in. Hy sal dit nou nie hardop sê nie, maar nie eens sy huis in die boomholte was so stowwerig soos hier onder die mense se motorsitplek nie. Voor hy dalk aan die nies raak, steek hy liewer sy nek aan die ander kant van die sitplek uit vir ‘n bietjie vars lug.
Maar o, wee. Dit moes hy liewer nie gedoen het nie, want toe hy opkyk, sien hy die kleine mensekind op die agterste sitplek sit.
En die kleine mensekind sien hom!
Hy skrik so groot, dat sy lyf begin *POFF*.
“Mmm,” sê die pappa. “Iets ruik regtig lekker. Gebruik jy ‘n nuwe parfuum, my vrou?”
“Nee, tog nie,” antwoord die mamma. “Dalk speel Mandie met iets wat lekker ruik.”
Maar Mandie kry nie ‘n woord uit nie, want daar voor haar voete op die vloer van die motor sien sy so duidelik soos daglig vir die eerste keer in haar lewe ‘n VOLSTRUISMUIS!
Volstruismuis weet hy is nou tot by sy ore in die moeilikheid, want het sy ouma hom nie kleintyd al teen mense gewaarsku nie? Hy begin bewe van die bossie dons op sy kop tot by die tossel op sy stertpunt.
Hy sien die mensekind se hand naderkom en al wat Volstruismuis nou kan doen, is om hom op te rol voor hy dalk flou val van vrees.
So sag-saggies dat hy dit skaars kan voel, tel Mandie die bibberende volstruismuisbal op en sit hom op haar skoot neer. Toe vat sy sy wollerige stertpunttossel en rol sy stert oop. Daarna vat sy hom so v-e-r-s-i-g-t-i-g aan die bol dons op sy kop en rol sy nek oop.
En toe sê sy sag-saggies dat hy nie moet bang wees nie, want sy gaan hom definitief nie seermaak nie.
Volstruismuis maak eers sy een blou oog en toe sy ander blou oog oop en hy en Mandie kyk vir mekaar. En net daar kry Mandie die moeë, stowwerige, honger Volstruismuis vreeslik lief.
Die hele ent pad na hul huis in die stad, speel Mandie met Volstruismuis en streel sy hom en troetel sy hom. Sy wens sy het geweet wat volstruismuise eet, maar sy belowe om vir hom brood en melk te gee sodra hulle by die huis kom. Die arme Volstruismuis weet nie hoe om vir haar te sê dat hy nie brood eet nie en dat hy laas melk gedrink het toe hy nog ‘n pienk babatjie was met net drie donsies op sy kop. Al die gepraat van kos laat hom net aan snoepsels dink en voor sy maag weer begin raas, maak hy liewer sy oë toe en raak hy aan die slaap op Mandie se skoot.
Dit word later donker en kouer, maar Volstruismuis slaap vas. Mandie slaap ook vas met die warm volstruismuislyfie onder haar hand op haar skoot.
Hulle word nie eens wakker toe die motor by die huis in die stad stilhou en die pappa vir Mandie optel en na haar bed toe dra terwyl die mamma deure oopsluit en ligte aanskakel nie. Toe die pappa vir Mandie neerlê, rol Volstruismuis uit haar hand en oor die bed. Amper val hy op die vloer, maar die pappa vang hom in sy groot sterk hand.
Hy bekyk die volstruismuisbal. “Gits,” sê hy. “As ek nie geweet het dis ‘n speelding nie, sou ek sowaar gedink het my dogter speel met ‘n regte volstruismuis.”
Hy sit vir Volstruismuis by die ander speelgoed in die kis onder die venster en skakel die lig af terwyl hy wonder wat ‘n volstruismuis eet.
Iewers in die stil ure van die nag word Volstruismuis wakker van sy maag se sagte gerammel. Hy lê nog en wonder waar hy is, toe ruik hy SNOEPSELS!
Baie, baie s-t-a-d-i-g rol hy hom oop, maar toe hy sien hy lê nou op die skoot van ‘n yslike groot wawydwakker wolhaarbeer, rol hy soos blits weer op.
Nie vir lank nie. Die snoepselgeur kom kielie sy neus tot hy vrees sy maag gaan weer aan die rammel raak. En daar glip Volstruismuis in die helder maanlig by die speelgoedkis uit…
…OOR die mat,
UIT by die deur,
Af met die gang,
IN by mamma en pappa se kamer,
OP teen die spieëlkas,
Al TUSSEN mamma se mooimaakgoed deur,
Tot BY ‘n botteltjie met ‘n gaatjie en DAAR kom die snoepselgeur uit!
Volstruismuis gaan sit op sy harige boudjies en druk die bottel styf teen hom vas en ruik en ruik en RUIK!
Omdat hy al plat en poegaai is van die honger, gee hy ‘n soetsalige lekkie – maar SIES! GA! Dit proe iets ALLERVERSKRIKLIKS SLEG! Hy hoes en hy spoeg!
En toe rammel sy maag dat die bottels op die spieëlkas daarvan ratel.
Die volgende oomblik gaan ‘n groot, ronde lig aan en daar staan die mamma langs die spieëlkas en betrap vir Volstruismuis op heter daad by haar PARFUUMBOTTEL!
“My goeiste-genade, kan ek dit glo? Ek dag mens kry nie meer VOLSTRUISMUISE nie!” sê sy en slaan haar hand in verstomming oor haar mond.
Volstruismuis rol hom op en *POFFF*!
“O, wat ‘n lieflike geur!” sê die mamma.
Sy vat volstruismuis aan sy stert se tossel en aan sy kop se bol dons en sy rol hom oop en sê baie, baie saggies vir hom hy moet asseblief nie weer so lawaai nie. Pappa moet liewer nie wakker word nie. Hy hou niks van muise in die huis nie. Hulle knaag en kou aan alles en nog wat. En wie weet wat ‘n volstruismuis alles eet!
Sy tel Volstruismuis op en vat hom badkamer toe en bad hom in die spierwit wasbak dat die skuimbolle staan, “Want,” sê sy, “so ‘n stowwerige skepseltjie het ek in jare nie gesien nie.”
Toe hy skoon is, vryf sy hom droog en borsel sy hom uit. En toe gaan maak sy vir hom ‘n lê-plekkie binne-in haar werksmandjie met die bolle wol wat vir die arme honger Volstruismuis soos snoepsels gelyk het.
“Ek wonder wat ‘n volstruismuis eet,” sê sy. “Miskien moet ek môre vir hom ‘n bietjie groente gee.”
Sy soen hom nag, want sy het hom klaar vreeslik liefgekry en toe gaan klim sy weer terug in haar bed.
Volstruismuis sit droewig en droog en silwerskoon en wag vir ‘n volgende beproewing. En dis ook nie lank nie, of sy arme magie begin rammel en raas en sy oë tap groot ronde trane van honger vir net één ou snoepseltjie.
“Maar my grote goeistigheid, wil jy die hele huis so vroeg al wakker raas?” sê ‘n gromstem meteens hier reg bokant hom.
Volstruismuis skrik hom vaal en rol hom op en *POFFF*.
“Oprol en beef sal nie help nie,” sê die stem. “Vir wat lawaai jy so?”
Volstruismuis loer met een bang oog en sien lang, skerphondetande. “Moet my asseblief tog nie eet nie,” soebat hy.
Die hond gee ‘n snuif en blaas Volstruismuis om.
“Jou eet? Moenie verspot wees nie. Jy stink dan soos ‘n parfuumbottel!”
Volstruismuis se lippies bewe van vrees, maar die hongerte maak hom dapper.
“Ag, verskoon tog,” sê hy. “Ek is vrééslik honger…”
“Dit kon ek ‘n kilometer ver hoor,” snork die hond.
“Jy kan my nie dalk sê waar ek snoepsels kan kry nie?” wil Volstruismuis weet.
Hond trek sy gesig op nege-en-twintig plooie. “Wat is ‘n snoepsel?” vra hy.
“O, dis soms rond. Soms nie. Dis nie altyd dieselfde kleur nie en dit ruik baie lekker,” probeer Volstruismuis verduidelik.
“O,” sê die hond. “Daarvan het ons baie. Kom saam.” En hy draf vooruit tot by ‘n bak bruin balletjies.
“Nee,” sug Volstruismuis treurig en sy ore hang slap. “Hierdie is nie snoepsels nie.”
En daar raak sy maag aan die raas dat die koppies op die rak daarvan rinkel. Hond probeer sy ore met sy pote toedruk.
“Bedaar!” grom hy. “Jy sal die hele stad wakker raas! Dit klink soos ‘n AARDSKUDDING!”
Net toe kom Mandie en mamma en pappa in hulle pajamas daar aangehardloop.
“My Volstruismuisie!” jubel Mandie.
“My arme ou Volstruismuisie,” koer mamma.
“GEE HIER DAAI VOLSTRUISMUIS!” brom pappa.
Hy gryp Volstruismuis in sy groot sterk hand en stap met lang treë voordeur toe.
Hy maak die deur oop en sit Volstruismuis op die voorstoep neer.
“Loop lawaai daar buite,” raas hy. “Netnou kraak jy die ruite!”
Net toe kom die son op en gooi sy eerste, sagste strale oor die mooiste tuin in die hele stad. En daar sien Volstruismuis die allerwonderlikste gesig. Hy kan sy twee groot, blou oë nie glo nie: SNOEPSELS, NET WAAR HY KYK!
Dis die GROOTSTE en die MOOISTE en die MEESTE snoepsels wat hy nog ooit gesien het.
Tot die pappa en die mamma en Mandie en die hond se verbasing, wikkel die klein volstruismuisie na die naaste blombedding en pluk hy vir hom ‘n viooltjie wat hy smaaklik begin knibbel. En toe pluk hy vir hom ‘n petunia en skuifel so kou-kou aan na die kappertjies.
Die mense kyk na mekaar en bars uit van die lag.
Dan is DIT wat volstruismuise eet!
(Skrywer: Marie Britz)