13 spookstories

13 Spookstories (resensie)

Jaco Jacobs
LAPA
Resensie deur Liesl Booyens

Spoke? “Who’re you gonna call?” Francois Bloemhof, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, natuurlik!

Díe drie skrywers is die bekendste grilskrywers in Suid-Afrika en hulle het opgeteam om vir ons jong lesers ‘n verskeidenheid spookstories in een bangmaakbundel te bring: 13 Spookstories.

Elkeen van die skrywers het die kans gekry om vier stories te skryf en storie 13 is ‘n kort strokiesprent deur die illustreerder, Tanja Joubert. Die nommer 13 dra natuurlik by tot die vreeseffek van die bundel. 13 is mos ‘n ongelukkige nommer, nie waar nie?

Die bundel is vir lesers van 13+ jaar en die skrywers skryf vír die jong lesers. Die taalgebruik is lewendig en jonk en elke storie word vanuit die jong karakter/s se perspektief vertel. Die karakters in die stories is doodgewonde jongmense wat “gedare” word om “scary” goed aan te vang, wat ‘n geliefkoosde rilskrywer het of ‘n keer of wat hulle alies al afgeskrik het. Die lesers identifiseer maklik met die karakters en hul omstandighede en hierin lê die bangmaakelement, dit kon netsowel JY gewees het!

Die vertelstyle word goed afgewissel en spanning word regdeur gehou. Dit is immers die geheim om vir jongmense te skryf, daar móét die heeltyd iets gebeur. Van die spoke laat jou hare rys, ander het onafgehandelde sake en sommige is daar om te help. Voorwaar iets vir almal!

Die illustrasies deur Tanja Joubert is in swart, wit, grys en rooi. Die kleure dra by tot die bangmaaktema van die bundel – spoke is immers wit, bangmaakgoed gebeur in die swart nag en die spatsels van rooi? Wel…

Ek swyg soos die graf oor die storiebesonderhede, netnou kry die resensielesers “blouwildeaapstuipe” (bl.24) as ek enigiets verder verklap. Mens wil tog nie iemand anders se skrik tweedehands ervaar nie, wat is die lekker daarin?

Ek kan met sekerheid sê dat daar nie ‘n storie in hierdie bundel is wat nie sal bangmaak nie. Díe spoke het onafgehandelde sake – en die besigheid is om bang te maak!

Liesl Booyens

Liesl Booyens
Liesl Booyens is ‘n honneursstudent in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit.
2010-09
0
Would love your thoughts, please comment.x