Slaaptyd Matilda

Madelief, Moenie! en Slaaptyd, Matilda (resensie)

Jaco Jacobs
LAPA
Resensie deur Anneretha Combrink

Madelief, Moenie! en Slaaptyd, Matilda (uitgegee deur Lapa-Uitgewers) deur Jaco Jacobs sorg vir groot pret by kleuters

Madelief is anders as ander prinsesse. Sy dra nie graag rokke nie. Sy het vreemde troeteldiere. Sy hou nie van bad nie . . . en sy spring op haar bed. En wat van Matilda? Dis slaaptyd vir Matilda – maar voor sy gaan slaap, moet sy eers ‘n paar dinge doen . . . ‘n paar belangrike, prettige en ongelooflike dinge.

In die prenteboeke Madelief, Moenie! en Slaaptyd, Matilda wys Jaco Jacobs weer waarom hy een van Suid-Afrika se mees geliefde kinder- en jeugboekskrywers is. Hy het drie-en-sestig titels agter sy naam, waarvan daar reeds ‘n 150 vertalings internasionaal beskikbaar is. Beide die hoofkarakters in dié twee boeke is sterk, individualisties en verbeeldingryk. Hulle laat hulle nie voorskryf nie, maar laat hulle lei deur avontuur.


Die chaotiese wêreld van Prinses Madelief, wat glad nie prinsesreëls wil gehoorsaam nie, word prettig geïllustreer deur Sebastien Quevauvilliers in Madelief, Moenie!.

In Slaaptyd, Matilda slaag illiustreerder Zunica Joao ook uitstekend daarin om Matilda se verbeeldingswêreld, wat bewoon word deur tiere, dinousourusse en gorillas, helder in te kleur. Die grootmenskarakters word deurentyd bloot aan hulle bene herken – dit is immers ‘n kinderverhaal!



Madelief, Moenie! en Slaaptyd, Matilda sal beslis sorg vir groot pret by kleuters. 

Anneretha Combrink
Anneretha Combrink het haar PhD in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf.
2011-04
0
Would love your thoughts, please comment.x