Leonard “Lennie” is in Gr.10, en hy is keelvol vir sy jonger boetie Micha. Hy moet altyd agter hom skoonmaak. Boonop was sy pa ’n paar jaar gelede in ’n motorongeluk en is van toe af verlam. Dit is daarom altyd Leonard wat sy boetie moet gaan soek wanneer hy besluit om weg te loop.
Micha is baie talentvol, maar hy is baie aandagafleibaar. Daar moet altyd baie duidelike ‘reëls’ vir Micha opgestel word. As hy byvoorbeeld ʼn reël het wat sê dat hy nie miere met ’n vergrootglas mag brand nie, dink hy hy mag die bure se hond daarmee brand, omdat die reëls niks daarvan sê nie. Leonard en sy ma neem Micha dokter toe om uit te vind hoekom hy so anders as ander optree. Die dokter sê dat hy outisties is. Outisme het ’n baie breë veld. Sekere mense soos Micha is hoogs talentvol, maar hulle sukkel met sosiale interaksies met ander. Micha hou daarvan om gewaagde goed te doen en hy het ’n obsessie met karre. Hy ken elke kar wat daar is om te ken. Leonard se ma vat die nuus dat Micha outisties is baie sleg en vra Leonard om sy pa daarvan te vertel. Leonard is altyd die tussen skakel tussen sy ma en sy pa as dit by sy boetie kom.
Dit is egter nie al probleme wat Leonard het nie. Leonard en drie van sy vriende werk saam aan ’n brugbouprojek by die skool. Dan kom die nuus dat die juffrou ’n fout gemaak het met die inskrywings. Net drie mense per span, mag deelneem en die vriende moet besluit wie uit die groep moet gaan.
Die roman is vir senior hoërskool kinders geskryf. Die tieners sal met Leonard kan assosieer, selfs al is hulle omstandighede nie dieselfde as syne nie, omdat Leonard se emosie so goed uitgebeeld word. Die lesers het empatie met hom, omdat hy deur ’n moeilike tyd gaan en dan nog sy ouers met sy boetie moet help. Die taalgebruik is gepas vir tieners se manier van praat. Die karakters en hulle optredes is baie goed uitgebeeld en geloofwaardig. Die storie sal oor tien jaar nog steeds geloofwaardig wees. Amper Einstein is ’n goeie boek, omdat dit alles in het, drama, humor en natuurlik so bietjie romanse. Almal sal van iets in die boek hou.