Professor Fungus en die verskriklike snotzilla

Professor Fungus en die skrikwekkende snotzilla (resensie)

Jaco Jacobs
LAPA
Resensie deur Marnus Kok

Met die jongste toevoegings tot die Professor Fungus reeks – Professor Fungus en die mensvreter-piranhas en Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla – kruis die leser se paaie weer met die wetenskaplike, wie se gunsteling opmerking “By Einstein se snor” is. Bennie en sy tweeling sussie Jenny, Edison en Argon die robot, is ook weer deel van die pret.

In Professor Fungus en die mensvreter-piranhas, gaan die tweeling op ‘n uitstappie saam met Professor Fungus na hulle plaaslike akwarium vir die opening van ‘n nuwe tenk. Daar ontmoet hulle vir Professor Igtus, wat die hoof van die akwarium is. Hy blyk ‘n effens eksentrieke en afsydige mens te wees. ‘n Wonderlike dag loop agter gou skeef, wanneer die geliefde Professor Fungus in die water beland – water vol mensvreter-piranhas! Gelukkig kom Bennie en Jenny met hulle vindingryke plan tot die redding van Professor Fungus.

In Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla, gaan kuier die tweeling by Professor Fungus, terwyl hy verkoue het. Die professor wys die twee die formule waaraan hy werk, ‘n vrotvoet-formule. Dinge loop egter skeef wanneer ‘n blop begin amok maak, “Professor Fungus se snollies wat begin groei het”. Die blop dreig om ‘n bedreiging vir almal te wees. Kolonel Patel van die weermag, daag met sy bazooka op om die vrede te herstel. Gou blyk dit, dat nie hy of sy bazooka opgewasse is teen die aanslag nie. Tog kom Bennie, Jenny en die robot Edison, gou tot die redding en bedink ‘n plan teen die Snotzilla. “Eksperimenteer is die beste geweer!”

In beide boeke is ‘n veilige praktiese eksperiment vir die leser om tuis te probeer. Van ‘n grillerige slym tot hoe jy klank kan gebruik om ‘n kers dood te blaas.

Die bekende kinder- en jeugboekskrywer, Jaco Jacobs, onderstreep met sy jongste toevoegings tot die Professor Fungus reeks, dat hy die jong leser verstaan. Bennie en Jenny, die kinders in die verhale, is in beide verhale sentraal in die oplossing van probleme. Die illustrasies deur die bekroonde Johann Strauss, is werklik ‘n belewenis. Dit verleen baie woema aan die boeke en verleen meer gesag aan die woorde.

Die skitterende gebruik van vet letters en vergrote letters vir beklemtoning verdien vermelding. Die leser se aandag sal beslis nie dwaal nie. Daar word telkens gebruik gemaak van interessante woorde, byvoorbeeld, “blop” en “afwiebel”. Beslis om die jong leser se nuuskierigheid te prikkel.

Die boeke is geskik vir jong selfstandige lesers van ouderdom 8 – 10. Maar moenie verbaas wees as ouers dit net soveel soos hulle kinders geniet nie. Want hulle gaan, hierdie is vermaaklike leesstof. “By Einstein se snor.”M

Marnus Kok
Marnus Kok is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
2013-07
0
Would love your thoughts, please comment.x