Dit begin met rot teen ’n venster en ’n briefie. Wat volg is ’n maand van liefdesbriewe teen die mure van Groenpunt in die vorm van “groen” grafitti.
Frankie is ‘n musiek- en fliekliefhebber en sy hou van skaatsplank ry. Sy het ook ‘n geheim ebewonderaar wat vir haar boodskappe regoor Groenpunt los. Wanneer sy uitvind wie dit is, los sy vir hom ook boodskappe.
Haar pa is ’n Nederlandse sjef wat bietjie mal is en, anders as Frankie, is hy uitbundig. Sy het ook ’n ma wat wil weet wat in haar lewe aangaan, maar soos enige tiener wil sy nie met haar praat oor die sake van haar hart nie.
Nanette van Rooyen se hoofkarakters is realisties is eg. Soos vir die tieners vir wie Ek was hier geskryf is, ervaar hulle al die onsekerheid van tiener- en verliefwees. Die leser kan aanklank vind daarby.
Die bykarakters gee insig tot wat ouers deurgaan met tieners. Tieners is moeilik en nukkerig en dit is moeilik om hulle te verstaan, maar dit wys ook hoe ouers probeer om deel te word van hulle tieners se lewe.
Ek was hier raak ook die belangrike saak van graffiti aan. Mense soos Chalk Man en Banksy word gebruik as voorbeelde van graffitikunstenaars wat “post” sonder om die omgewing skade te doen.
Dit eindig in ’n hospitaal met saadbomme en ’n briefie.
Hierdie is ’n boek waarin jy gaan lag, huil, kwaad word en weer lag. Dit verf ’n prentjie in jou kop van ’n wêreld met All you need is love van die Beatles as ’n klankbaan. Dit is ’n boek wat jy vir almal gaan wil leen.
Moynenne Mortimer