Die land verby donker

Die land verby donker (resensie)

François Bloemhof
LAPA
Resensie deur DJ Cloete

‘n A en ‘n B en ‘n grillerige C. François Bloemhof se nuwe kinderdigbundel, is ‘n vars en kreatiewe manier vir die gebruik van die alfabet om gedigte te skep. Ek glo egter nie dat hierdie bundel se einddoel is om kinders die alfabet te leer nie, maar om op ‘n nuwe manier deel te vorm van ‘n kind se leerproses en dit wat vir hom/haar bekend is. Kinders is dikwels gefassineer deur grillerige monsters en aaklige gedaantes. Strokies- en animasieprente wat geskep word met die jonger teikenmark in gedagte, is hoofsaaklik om vermaak te verskaf (en nie om iets te leer nie). Die jonger leser word met die bundel op dieselfde wyse, maar net in digkunsvorm, blootgestel aan monsters en ander gedaantes. Hierdie bundel sal nie net vir vermaak sorg nie, maar ook die kind se aandag trek, omdat dit dinge uitbeeld waarin jonger lesers belangstel.

Die bundel lees maklik en sal jonger leser se aandag te hou. Die verskeidenheid monsters in die bundel sorg vir goeie vermaak. Die illustrasies deur Dale Blankenaar skep ‘n onheilspellende atmosfeer en herinner aan ‘n Disney animasie, Corpse Bride en soortgelyke animasies. Met tye voel dit of die gedigte staatmaak op die illustrasies, maar ander is op so ‘n manier saamgestel dat die leser met sy verbeelding die monster of gedaante sou kon skep. Die eindproduk is ‘n samespel tussen teks en beeld.

Ek het die gedigte ‘H’ van Hester Heks en ‘R’ van Rikus Riller baie geniet. Van die gedigte in die bundel voel wel of dit deur rymdwang nie die bedoelde gevoel geskep het nie. Hier verwys ek as ‘n voorbeeld na die tweede vers/strofe van die ‘S’ gedig ‘… deur s-s-s-spinnekop. Hy wag al lank, spin sy web agter die groot boontjierank.’ Vir my was dit asof die beeld wat die gedig skep nie tot die bedoelde atmosfeer bydra nie – rym geniet hier voorkeur, waar ek as leser ‘n meer gepaste atmosfeer sou verkies het. Van die name wat aan die ‘monsters’ gegee is, kon ook met meer aandag en noukeurigheid oorweeg word. Die allitererende Noenoe Nana en Tingeling is slegs twee voorbeelde hiervan.

Bloemhof maak wel op vir die bogenoemde tekortkominge deur die jonger leser bloot te stel aan ‘n verskeidenheid rympatrone om die vloei van die gedigte interessant te hou en die leser se aandag te behou deur nie al die gedigte almal op dieselfde manier aan te bied nie. Die bekende ‘Wat makeer?’ wat in die gedigte ‘L’ en ‘Z’ ingewerk is, sorg vir intertekstualiteit, wat die gedig ook meer poëtiese waarde gee, al is dit uit ‘n opsêgediggie wat meer humoristies voorkom. Alhoewel ‘n donkerder atmosfeer geskep word, blyk dit dat elke gedig ook humoristies geïnterpreteer kan word en so vir selfs meer vermaak sorg.

Wanneer daar in geheel gekyk word na die bundel, dink ek dit is ‘n goeie samestelling van gedigte ten spyte van die paar tekortkominge. Dit was vir my lekker om die gedigte te lees en die alfabet op ‘n prettige manier te ontdek. Ek het Dale Blankenaar se illustrasie soos soetkoek verorber, of sal ek sê ‘n heerlike ‘stukkie MENSvleis’.

François Bloemhof is ‘n bekende skrywer van rillers en grillers – Die Speletjie, Donkerwoud en Kamer 13 is slegs ‘n paar van sy vele kinderboeke. Die digbundel is slegs net nog een van Bloemhof se werke wat ek vir ‘n jong leser wat monsters en ander grillerige gedaantes geniet, sal aanbeveel.

DJ Cloete
DJ Cloete is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
2013-12
0
Would love your thoughts, please comment.x