Middernag en ander spookstories

Middernag en ander spokerige stories (resensie)

Saamgestel deur Santie Nel; Fynbosskrywers
Human & Rousseau
Resensie deur Ruan Fourie

Met dié bundel is die eerste ding wat aandag trek die voorblad. Dit beeld ’n zombie-agtige hand uit, wat ’n klassieke rillerbeeld is.

Die onderskeid tussen “cliché” en “klassiek” is fyn en subjektief, met duisende klein dingetjies wat kan bepaal hoe ’n sekere verhaal of element ervaar word. Die bundel Middernag loop op hierdie lyn van onderskeid en voer waaghalsige toertjies uit wat (net soms) ’n bietjie skeefloop. Die bundel is redelik dik in vergelyking met ander kinderboeke en sal vir ’n hele ruk lank ouers ’n bietjie van ’n blaaskans kan gee — die stories is volgelaai. Dalk plant dié boek die saadjie vir ’n ywerige Stephen King-aanhanger.

Van die verhale in hierdie bundel is net té clichématig. Oftewel, die gegewens ín die verhale is. ’n Paar noemenswaardighede: houtvloere kraak nie eintlik nie; kinders gebruik baie selde die woord “motor”; kinders kry nie meer name soos Klaas nie; Duits is nie meer ’n algemene vak nie. Bowenal: realistiese situasies maak ’n mens banger, want kinders is baie meer bewus van hoe vreesaanjaend die regte wêreld kan wees. Hiermee saam is dit nodig om te noem dat meeste van hierdie klein foute oorgesien kan word, omdat die res van die storie(s) waarin elkeen voorkom interessant en vermaaklik genoeg is.

Die bundel bestaan meestal uit verhale wat al dente geskryf is: sag maar tog nog ferm. Op die agterblad word daar gesê dat hierdie versameling vir alle ouderdomme is, maar die stories is soms te kort of te lig in die broek om volwassenes heeltemal mee te voer. ’n Probleem wat die moeite werd is om te noteer is dat sommige van die verhale te dik aangemaak word en dan net platval of tot stilstand kom. In Nellie Alberts se storie getitel Brug oor die Gariep is dit moeilik vir jonger lesers om te visualiseer hoe die betrokke brûe verander; naderende die verhaal se slot raak die storie effens afgerammel.

Die karakters in hierdie bundel bevind hulle wel in ’n wye verskeidenheid interessante omstandighede of voor struikelblokke waarmee baie hedendaagse kinders sal kan vereenselwig: geskeide of oorlede ouers; ’n nuwe skool en dorp; vakansies waarop hulle nie wil wees nie; koshuise; boelies. Die rol wat groepsdruk speel in baie van die verhale sluit ook hierby aan.

Die uitblinkverhaal van hierdie bundel is Spookvis van die Wildekus, deur Mickey Rautenbach. Dit maak ’n mens bang, soos die boek se subtitel implisiet belowe, en dít is juis omdat dit bestaan uit realistiese gebeure waarop daar eers in die ontknoping volkome lig gewerp word. 

Die aard van sekere van die verhale veroorsaak dat woorde soos “whatever” uit plek uit lyk, selfs al is dit uit ’n jong karakter se mond. Oor die algemeen is die kortverhale in hierdie bundel middelmatig, somtyds vervelig maar ander kere opwindend, meestal klassiek en so nou en dan ’n bietjie voorspelbaar — maar as ’n kind die boek begeer, koop dit vir hom. Dit sal vir hóm die moeite werd wees.

Ruan Fourie
Ruan Fourie is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-02
0
Would love your thoughts, please comment.x