Hospitaaltyd

Hospitaaltyd (resensie)

Francois Bloemhof
Human & Rousseau
Resensie deur Marnus Kok

In Hospitaaltyd, deur die bekende grilskrywer Francois Bloemhof, lewer die skrywer weer ’n kragtoer soos min. Die nuwe hersiende uitgawe (2013), is die sewende boek in ’n reeks rillers, spesiaal gerig op die jong leser.

Lesers ontmoet vir Rudi Beukes, wat behalwe vir die gewone onsekerhede waarmee tieners worstel, boonop nog sukkel met sy skoolwerk ook.
                                                                                                  
Die feit dat sy meisie se ma die skoolhoof is, vergemaklik ook nie sy lewe nie.
’n Paar skoolkinders word raak gery in Rudi se dorp. Sy meisie Suné, is die eerste een wat voor ’n kar beland. Sy sit met veelvuldige beserings. Die oortreders ry telkens weg, wat die agterdog versterk.

Rudi kry telkens die idee dat hy agtervolg word. Maar hoekom juis hy? Wat is hier aan die gang?

In die proses verdink Rudi vir almal om hom dat hulle vir Suné omgery het en op sy spoor is.

Sy broos verhouding met sy pa word ook op die spits gedryf, wanneer dié vir Rudi probeer ompraat om sy ma te oortuig om hom (Rudi se pa) terug te neem.

Die skrywer slaag skitterend daarin om die leser te boei van die eerste bladsy af. Die deurlopende spanning maak dit onmoontlik om die boek neer te sit.
Rudi en Suné is mos veilig in haar pa se hande? Hy is tog ’n dokter. As daar een persoon is wat mens op ’n spoedige herstelpad kan sit, is dit tog seker ’n dokter?

Hospitaaltyd is geskik vir 11-13 jarige lesers wat hou van rillers. En wat hou van onverwagse eindes.

Die kans dat jy vanaand onder jou bed gaan loer voordat jy jou kamerlig afsit is groot, as jy dié boek gelees het.

Marnus Kok
Marnus Kok is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-03
0
Would love your thoughts, please comment.x