‘n Lekker opwindende, spannende perdestorie. Zahn sien nie kans vir die vakansie saam met haar vervreemde pa en loskop suster nie. Gelukkig is haar geliefde perd Brigadier daar en kan sy haar spanning verlig deur hom op uitritte te neem. Hulle gaan spesiaal tuis op ‘n vakansieplaas in die Harkerville-woud naby Plettenbergbaai aangesien daar stalle, ander perde sowel as uitritroetes is. Wat is die raaisel van die geheimsinnige ponie en is daar werklik naglopers in die bos soos die kruiedokter vertel het? Dit word ‘n vakansie waarin geheime uitkom, raaisels opgelos word en ‘n laslapgesin mekaar weer probeer vind.
As jy van perde, opwinding en spanning hou is Brigadier en die raaiselponie absoluut vir jou! Die posisie waarin Zahn haar bevind is insiggewend en selfs al weet jy nie baie van perde nie sal jy dit interessant vind.
Die karakters is ‘n ware kunswerk -‘n mengelmoes van persoonlikhede: Daar is die ‘cool crowd’ die gewone ‘plain jane’ en die sportiewe groep. Deur so ‘n groot spektrum van karakters sal enige persoon tuisvoel met die boek in die hand.