In Ratels deur die bekende skrywer en rolprentfundi Leon van Nierop, ontmoet luisteraars van die bekende program met dieselfde naam op RSG, die jongklomp in die Laeveld. Maar moenie bevrees wees indien jy nog nie na die program geluister het nie. Dat jy wel weekliks op die radio sal inskakel om die program te luister nadat jy die boek gelees het, is ’n belofte.
Ratels is ’n somerskool naby Hoedspruit waarheen leerders vir vier weke oor die Desembervakansie gaan, nie net vir ’n uit die boks ervaring nie, maar ook om hulself te leer te ken. Fanie Ferreira, alias Velskoen is ’n alleenloper, wat in sy eie woorde intelligenter is as die meeste mense van sy portuurgroep. Hy oortuig sy ma dat die somerskool hom sal goed doen en kort voor lank is hy op die bus na Hoedspruit. Daar ontmoet hy Stefan, die eienaar met sy korrekte Afrikaans, wat na ’n four-by-four as ’n “viertrekker” verwys. Eienaardige ou dié, dink Velskoen by homself. Maar nie halfpad so eienaardig soos die ander leerders wat hy daar raakloop nie.
Daar is Jan-Lourens, die vriendelike outjie met sy skaatsplank en bewende hande wat met ’n innerlike konflik worstel. Ook is daar Vincent wat vir Velskoen boelie en terroriseer, maar wat ’n sagte kant openbaar wanneer hy ’n bokkie in die veld help. Pauline is ’n uitgesproke Xhosa meisie van Gauteng, wat daarvan droom om ’n model te word, ten spyte van haar lengte. Bankies die “tradisioneel geboude” meisie in Velskoen se woorde, is iemand wat sewe onderskeidings in haar graadelf eksamen behaal het, maar wat met ’n eetprobleem en gepaardgaande lae selfbeeld sit. Gaan hulle Ratels oorleef?
Die jongklomp besluit om ’n radiostasie te begin, wat hulle Radio Rebel noem. Dit gee nie net aan die boelie Vincent ’n platform om sy sangtalent ten toon te stel nie, maar ook aan die ander om hulself kreatief uit te leef. Loekie, ’n gawe vriend van Jan-Lourens sluit hom by die ander op Ratels aan en gou blyk dit dat hy nie net ’n slag met elektroniese toerusting het nie, maar ook met Bankies het.
Maar alles is nie net maanskyn en rose op Ratels nie, daar is die nare buurman Scrapyard wat alles in sy vermoë doen om die lewe ondraaglik te maak vir die jongklomp. Een dag sien Velskoen hoe ’n renoster geslag en sy horing uit gesny word deur stropers terwyl hy in die boomhuis sit. Behalwe dat dit by hom spook, ontvang hy kort voor lank ’n dreigoproep en ’n briefie van die vermeende stropers. Die stropers weet dat Velskoen hulle gesien het, maar hulle gaan nie dat hy in hulle pad staan nie. Velskoen word dan ook kort voor lank deur die stropers ontvoer. Gaan sy vriende hom betyds uit die boosaards se kloue kan bevry?
Ratels is ’n boek wat nie net alledaagse probleme soos renosterstropery en eetversteurings by die horings pak nie, maar ook groepsdruk, aanvaarding en afknouery onder die vergrootglas plaas. Velskoen en sy nuwe vriende leer om mekaar te aanvaar ten spyte van verskille, maar ook om die onsekerhede wat hulle in hulself saamdra, te oorkom. Alhoewel die karakters in die boek skoliere is, sal die boek deur enigiemand van oud tot jonk, wat jonk van gees is geniet word ’n goeie boek om ’n kind se gunsteling-genres vroegtydig al te bepaal.