Karoo-kantate

Karoo-kantate (resensie)

Marié Heese
Tafelberg
Resensie deur Ruan Fourie

Marié Heese se eerste Afrikaanse roman sedert sy in 2010 die Commonplace Writer’s Prize for Africa gewen het, na aanleiding van die bedankings nadat haar man gesê het “skryf tog ’n slag iets in Afrikaans”, is ’n interessante storie oor ’n jong weeskind wat ’n oplewing ervaar in musiek.

Vanuit die staanspoor aktiveer verwysings na operas soos La Traviata en die Romeinse violiskeiser Nero ’n musikale bewustheid wat na die einde van die roman ietwat verslap maar nooit afwesig is nie. Hierdie musiekverwysings word vermoedelik as ’n karakteriseringstegniek ook aangewend: die kinderhoofkarakter Jannie (volle naam Jeanne Labuschagne, “maar almal noem haar Jannie Lappies”) is buitengewoon talentvol wat musiek betref en die eerste stuk wat sy opvoer is ’n Scarlatti-sonate; die (aanvanklik) knorrige Nols word met Saint-Saëns se Orrelsimfonie op die agtergrond bekendgestel; Ma Ellie sing ’n “Ave Maria” (hoewel enigiemand wat al ’n Bocelli’s Greatest Hits gehoor het, sal weet “Ave Maria” is ’n androgene naam – daar word later wel bekendgemaak wie die komponis van dié spesifieke een is). ’n Subintrige word betrek wat terselfdertyd die karakters almal by mekaar betrek en een spesifieke karakter inkleur.

Die roman handel rondom ’n kind, Jannie, wat byna per ongeluk Nols help om tot heling te kom en haar eie lewe van voor af te skryf, met naatlose oorgange tussen verlede en hede waarmee veral dié twee karakters se hartroerende uitdagings geïllustreer word. Jannie se absolute toonhoogtesin en Nols se gloriedae word hierin uitgeskets. Nols keer in die hede egter deurlopend terug na sy Bach-partitas en Saint-Saëns, asook herinneringe aan sy produksie van Puccini se Tosca*. Wanneer ’n mens besef hoe onlangs Nols (sowel as Jannie) se hartseer wortelgeskiet het raak ’n mens ook opnuut beangs oor of daar sukses of mislukking op die laaste bladsy gaan geskied.

Heese se skryftalent is onontkenbaar. Dit sprankel hier en daar soos in ’n simfonie: “Die orkeslede skep ’n kaleidoskoop van klankbrokkies soos hulle hul instrumente instem en kort lopies melodie repeteer” – daar is nog nooit ’n meer welbespraakte plaasvervanger vir die woord “kakofonie” geskryf nie. Karakterisering deur dialoog word nie volkome bewerkstellig nie, hoewel die res van die gegewens meer as genoeg is.

Karoo-Kantate is ’n andante pianissimo-toevoeging tot die oeuvre van Marié Heese wat ’n mens wys die lewe is baie keer onregverdig, veral met kinders, maar ook dat dit omgeswaai kan word en daar hoop in die kleinste dingetjies te sien is en selfs voor ’n klein groepie mense op ’n onbelangrike dorpie gebeur dalk iets uitsonderliks.

* Die leser word aangeraai om op te lees oor hierdie onvertaalbare Russiese woord. Vladimir Nabokov se omskrywing is een van die beroemdste en mees welbespraakte voorbeelde (http://goo.gl/ejslA6).

Ruan Fourie
Ruan Fourie is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-11
0
Would love your thoughts, please comment.x