Gerook

Gerook (resensie)

Eldridge Jason
LAPA
Resensie deur Ruan Fourie

Die storie van hierdie boek is gebou rondom Cobie, wie se Desember-skoolvakansie anders as beplan begin, verkeerd loop en dan nog meer verkeerd loop. Alles is altyd die een of ander secret. Selfs met Cobie se mislike ouma en die klein dorpie Vaalberg. Die laasgenoemde lyk op die oog af baie eenvoudig, maar onderlangs  is dié dorp ’n uitloper van ’n gevaarlike metamfetamienfontein.

Met die eerste lees van dié roman het ek as leser gedagtelik “Vaalberg” byna oombliklik met “Paternoster” vervang. By verdere literatuurstudie blyk dit dat Eldridge Jason in Paternoster grootgeword het. Dié gewilde Weskusdorpie en vakansiebestemming word kalkwit en helder in die fiktiewe Vaalberg opgeroep.

Die gewone tendense is daar: buitengewoon kort MXit-gesprekke, oningeligte karakters wat op MXit met mekaar praat (en buitengewoon minder verstaan as wat die leser doen) en ’n algehele melodramatiese flair aan al hierdie dinge. Dit word egter maklik toegegooi en vergewe deur die indrukwekkendheid van hierdie debuut se storie. Dit is oorspronklik, kragtig – dinge raak real. Wat die roman se gewildheid verseker is die afwesigheid van sedelessies en gepreek. Die enigste karakter wat deurlopend teenwoordig is en dalk die vermoë het o te preek, Oumie Anna, gee bloot nie genoeg om nie.

Die storie word in ’n geloofwaardige en uitstekend gehanteerde taalregister vertel wat die leser nog meer gemaklik maak in Gerook se Kaap – totdat dinge verder skeefloop (sien paragraaf een) en ’n mens baie, baie graag wil ontsnap. Teen hierdie tyd is dit egter te laat, die uitkomkans is skraal. Die romanstruktuur is hier baie soos dwelmverslawing, as ’n mens dit nou so ver wil voer. Aan die einde van die boek vind ’n mens ’n handige woordelys van moontlik onbekende terme wat Cobie en sy brasse gebruik. Die roman sluit af met ’n skokkende en heeltemal onverwagse onthulling of twee, asook die meedeel van die identiteit van die misterieuse Lady Zee. Die grootste kwaal hiermee is dat dié laasgenoemde onthulling vroeër in die roman dalk meer effektief kon wees, maar dit daargelaat. 

Kap safe. Koop Gerook en lees dit twee keer.

Ruan Fourie
Ruan Fourie is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-11
0
Would love your thoughts, please comment.x